gestig
1904
eerste leraar
Ds. A.L. Badenhorst
RING
Bultfontein
ADRES
Markstraat, Dealsville
Die NG Gemeente Dealesville is ‘n Vrystaatse gemeente in die Vrystaatse Sinode. Met sy stigting was dit die 39ste gemeente in die Vrystaatse Sinode.
Die gemeente is in 1904 gestig as die tweede van die 13 Vrystaatse NG gemeentes wat in die dekade ná die Tweede Vryheidsoorlog tot stand gekom het. Ds. C.W. Retief skryf in Ons Kerk Album by Dealesville, wat anders as amper die ander gemeentes s’n in ‘n vroeë vorm van Afrikaans geskryf is: “Die gemeente is in 1904 gestig, sover ons kan uitmaak.” Die eerste genotuleerde kerkraadsvergadering is op 13 Augustus onder voorsitterskap van ds. D. Bosman, die predikant van Boshof gehou. Die eerste kerkgebou was ‘n privaat woning wat gekoop en stuksgewys verbeter is. Op 11 Maart 1905 is hierdie kerk ingewy. In dieselfde jaar is ‘n boukommissie aangestel om ‘n pastorie te bou.
Die gemeente se eerste beroep is uitgebring op prop. J. de Wet, wat egter bedank het. Op 27 Maart 1904 is die beroep uitgebring op prop. A.L. Badenhorst, wat dit aangeneem het. Soos ds. Retief dit in Ons Kerk Album stel: “Met seên en toegewijdheid het hij die gemeente bearbei tot in die begin van 1913, toen hy verhuis is naar syn eewige rus.”
In die eerste 50 jaar van die gemeente se bestaan het hier ses leraars gearbei, naamlik di. A.L. Badenhorst (wat oorlede is in die amp ná net agt jaar in sy eerste gemeente), C.W. Retief, P.L. Louw, J.A.R. du Toit (wat beswyk het op die tennisbaan), F.M. Smit en E.H. van den Berg. Die stoflike oorskot van wyle di. Badenhorst en Du Toit rus in die kerkerf.
Die beginjare van die gemeente was net na die Anglo-Boereoorlog, en daar moes opgebou en herbou word. Op 30 Maart 1912 is die hoeksteen van die kerkgebou gelê wat ontwerp is deur William Henry Ford. Ds. Retief skryf: “Meneer Ford het eer van syn werk.” Van April tot die 24 Desember daardie jaar was die gemeente vakant toe ds. Retief van Garies as leraar hier bevestig word. Die Eerste Wêreldoorlog het vooruitgang gestrem, maar in die volgende dekade het snelle ontwikkeling plaasgevind op die gebied van kerk en onderwys.
Onderwys
Van omstreeks 1922 tot 1924 was mnr. J.H. Viljoen, later Unie-minister van onderwys, hoof van die dorpskool. Hy het ook gedien in die kerkraad as diaken en agerende scriba. Ds. Louw het destyds in die kerkraad die wenslikheid uitgespreek om ‘n koshuis te bou en daarop volg die daad sodat in 1928 die eerste koshuis teen die bult in gebruik geneem is. Die skool het vinnig uitgebrei. In 1925 is dr. S.J. du Toit, later inspekteur van onderwys in die OVS, hoof van die skool. Danksy plaaslike inisiatief het die skool- en koshuisgeboue vinnig uitgebrei, veral in die volgende twee dekades onder die skoolhoofde C.P. Swart en F.H.D. Bedford.
Sendingwerk
Die plaaslike sendingwerk het ook nie agterweë gebly nie. In 1929 is die sendinggemeente by die Sinodale Sendingring ingelyf. Deur die ywer van die Vrouesendingbond, onder leiding van ds. en mev. F.M. Smit en later ds. en mev. E.H. van den Berg, is ‘n kerkgebou opgerig.
Die kerkorrel
Die aankoop van ‘n kerkorrel het al vanaf 1924 aandag geniet. In 1941 stig die kerkraad ‘n orrelkommissie en deur geldinsamelingsgeleenthede is ‘n orrelfonds opgebou. In 1948 word die bestelling by Cooper, Gill & Tomkins vir ‘n instrument teen £2 750 geplaas. Voor ds. Smit die gemeente verlaat het, het hy nogeens die gemeente deurreis en £1 100 vir dié fonds ingesamel. Die hoogtepunt is bereik toe op 19 Augustus 1950 die orreliste, mev. ds. van den Berg, voor ‘n stampvol kerk die orrelinwyding uitvoer.
Predikante
- Adriaan Lodewyk Badenhorst, 1902 – 27 Maart 1913 (oorlede in die amp; sy enigste gemeente)
- Charles Wynand Retief, 1913–1919
- Paul Louis Louw, 1919–1925 (waarna Kareedouw tot sy dood op 14 Februarie 1933)
- Jacobus Arnoldus Retief du Toit, 1926 – 4 Augustus 1930 (beswyk op tennisbaan aan ‘n hartverlamming)
- Francois Malan Smit, 1931–1948
- Ernst Hendrik van den Berg, 1949–1957
- Petrus Gideon Retief, 1958–1961 (waarna Rosendal en Diamantveld; in 1970 uit die bediening getree)
- S.J.L. Marais, 1962–1972
- C.M. Erasmus, ? – 2020 (bedank as predikant)
- Tano Bongers, 4 Julie 2020 – hede