gestig
4 November 1963
afgestig van
NG Gemeente De Aar
Ingelyf by
NG Gemeente De Aar
ADRES
–
eerste leraar
Ds WJ Steenkamp
Die NG Gemeente De Aar-Suid was ‘n gemeente in die Sinode van Noord-Kaapland.
’n Verslag het op 12 Desember 1958 voor die moedergemeente se kerkraad gedien waarin van twee voorgestelde terreine melding gemaak word waarop ‘n kerkgebou en pastorie, vir die voorgestelde Suid-gemeente opgerig kan word. Eers op 19 Oktober 1962 het die kerkraad die voorstel van ouderling A.J. Etsebeth eenparig aanvaar om so ’n gemeente af te stig. Die NG gemeente De Aar-Suid is toe op 4 November 1963 onder leiding van die Ringskommissie gestig met 750 lidmate, 36 kerkraadslede, ’n bruidskat van R15 000 en agt persele tussen Parksirkel en Cillierstraat. Die eerste kerkraadsvergadering is gehou op 13 November 1963 toe J.M. le Grange eenparig as skriba en kassier aangewys is.
Later is ook me. A. Terblanche as die eerste orreliste aangestel. Nadat drie beroepe misluk het, is ds. W.J. Steenkamp van die NG gemeente Dutoitspan op 16 Februarie 1964 beroep. Met die ontvangs van die eerste herderspaar in die naweek van 10 tot 12 April 1964, het daar ’n feesstemming in die jong gemeente geheers. As tydelike ’n pastorie, is ’n huis in De Villiersstraat gehuur.
Op 24 Julie 1964 is die tender van P.A. Etsebeth vir R15 688 eenparig aanvaar. Op 22 Desember 1964 kon die leraar en sy gesin die pastorie betrek. Die hou van kerkdienste in Hoërskool De Aar se gebou was net tydelik en nadat J. Koorts van Bloemfontein die kerkraad toegespreek het, is hy eenparig as argitek aangestel. Op 2 November 1964 is P.A. Etsebeth se tender van R59 960 vir die bou van die kerk aanvaar. Die eerste sooi is gespit op 28 November 1964, en die hoeksteenlegging het plaasgevind 5 Junie 1965. Op 4 en 5 Desember 1965 kon die gemeente die kerkgebou in gebruik neem. Die kerkklok is van Duitsland ingevoer teen ’n koste van R1 100.
Die geelhoutkruis teen die kanselmuur is ’n prominente kenmerk van die kerk se binneruim. Dit is gemaak uit geelhoutbalke afkomstig uit ’n geboutjie op die plaas Ezelsfontein. Gedurende die 1820’s is dit gebruik as ’n buitekerk van die Grootkerk op Graaff-Reinet waar die bekende dr. Andrew Murray se vader, ds. Andrew Murray sr., predikant was. Prof. Swanepoel van Bloemfontein is gevra om ’n orrel te ontwerp en die Suid-Afrikaanse Orrelbouers van Bloemfontein sou dit onder sy toesig installeer teen ’n koste van R8 840. Toe die orrel op die oggend van 19 Julie 1966 ingewy word, was 635 lidmate teenwoordig en was dr. Willie Serfontein, wat ’n groot bydrae gelewer het tot die nuwe Psalm-melodieë, die prediker. Om die voggehalte in die kerkorrel te verhoog is ’n emmer water gewoonlik daarin te sit. Die kerksaal is in 1977 teen ’n koste van R150 000 opgerig.
Die eerste dooplidmaat was Henk Wydeman wat in 1965 gedoop is en Henk was al die jare lidmaat van dié gemeente. (Geskryf deur Morne van Rooyen).
Predikante
- W J Steenkamp