Gestig
1853
Ring
Swartland
Adres
Kerkstraat, Darling
Sluit in
Darling, Yzerfontin
Eerste predikant
J.J. Kotzé (1859–1894)
Die NG Gemeente Darling op die gelyknamige Swartlandse dorp en in die Sinode van Wes-Kaapland is die 54ste oudste bestaande gemeente in die NG Kerk.
Die gemeente het aanvanklik ’n deel van die NG Gemeente Swartland uitgemaak en was vanaf 1833 onder die bearbeiding van ds. F.C. Le Febre Moorrees. Reeds in Oktober 1844 maak hy sy kerkraad bekend “het voornemen van enige Ingezetenen van Groenekloof om aldaar eene Kerk te stichten”, maar dit was eers in Februarie 1853 dat die inwoners die plaas Langfontein uit die boedel van wyle mev. Crowcher vir 50 000 guldens aangekoop het. In Desember 1853 verskyn die grensskeidings van Darling, so genoem na die toenmalige goewerneur, Charles Henry Darling, in De Kerkbode.
Op 19 September 1857 is die eerste kerkgebou deur ds. Moorrees van Swartland ingewy. As voorleser, onderwyser en koster het die heer J. Schelling opgetree.
Ds. J.J. Kotzé se dienstyd
Die eerste vaste predikant was ds. J.J. Kotze, wat in 1859 deur ds. Moorrees bevestig is. Hy was ’n knap redenaar, maar ongelukkig word sy naam verbind aan die stryd teen die liberalisme gedurende die jare 1862-1875.
Deels deur sy toedoen het die eerste Sinode wat die jong predikant van Darling bygewoon het, een van die belangrikstes in die geskiedenis van die NG Kerk geword. Hier het die vonke opgevlam van die stryd wat reeds ’n aantal jare in Kaapse kerklike kringe gesmeul het op en ’n tiental jare en langer sou die moderne teologie, ook die “liberalisme” genoem, die kerklike lewe in Suid-Afrika in beroering gehou.
Voor die stigting van die teologiese seminarie op Stellenbosch het Kaapse studente vir hul teologiese opleiding veral na die Nederlandse universiteite gegaan, waar, sedert ongeveer 1855, die moderne rigting – onder knap hoogleraars soos C.W. Opzoomer (Utrecht), J.H. Scholten (Leiden) en later ook Abraham Kuenen (Utrecht) – groot opgang gemaak het. Vanselfsprekend was sommige van dié studente toe hulle terugkeer, deurdrenk van vrysinnige leerstellings wat die ortodokse beskouinge van hul kerk en volk verdring het.
Dit was in die besonder die geval met die drie proponente, Kotzé self, Thomas François Burgers en S.P. Naudé, wat tussen 1858 en 1860 aan die Kaap gelegitimeer is. Van hierdie driemanskap het Kotzé “met sy besonderse gawes, sterk persoonlikheid, indrukwekkende prediking en onvermoeide persarbeid” (volgens ds. H.C. Hopkins), sowel die aangewese leidsman as die mondstuk van die “liberale” beweging in die algemeen geword.
Regstryd
Nadat die Sinode van 1862 heel van die begin af stormagtig verloop het, deels as gevolg van die beswaar teen die sitting van afgevaardigdes uit gemeentes buitekant die grense van die Kaapkolonie en ’n klag van onregsinnigheid in die leer teen ds. Naudé, het die eintlike stryd losgenars tydens die behandeling van die verslag van ’n kommissie na wie die versoekskrifte en beskrywingspunte met betrekking tot die handhawing van die leersuiwerheid verwys is. Toe ’n voorstel onder bespreking kom dat die gebruiklike prediking oor die Heidelbergse kategismus ook ’n verdediging daarvan op Bybelse gronde moet behels, het ds. Kotzé verklaar dat die woorde “nog steeds tot alle boosheid geneig” in die antwoord op die 60ste vraag hoegenaamd nie in die mond van ’n Christen tuishoort nie. Die kategismus was dus na sy mening hier verkeerd.
Sy herhaaldelike weiering daarna om die gewraakte woorde terug te trek, het tot gevolg gehad dat hy eindelik op 19 April 1864 finaal uit die bediening geskors is. Intussen het hy hom op die wêreldlike hof beroep, hoofsaaklik omdat die Sinode, volgens sy eie reglemente, slegs ’n hof van appèl van die Ring was en dus nie in eerste instansie bevoegd was om ’n saak te verhoor nie. Hierteenoor het die Sinode, by monde van sy bekwame voorsitter en verteenwoordiger, ds. Andrew Murray, die jonge, volgehou dat hy binne sy reg gehandel het omdat die beweerde oortreding deur ’n lid van die Sinode in die vergadering self begaan is. Uitspraak is teen die Sinode gegee en die skorsing van ds. Kotzé is op 2 September 1864 ter syde gestel in ’n uitspraak wat daarna gepubliseer is: Judgement in the case of the Rev. J.J. Kotzé, minister of the Dutch Reformed church at Darling versus the Right Rev. A. Murray, moderator of the synod of the Dutch Reformed church, delivered in the supreme court of the Colony of the Cape of Good Hope (Kaapstad, 1864).
Dit was maar een van ’n reeks hofsake waarin die Kaapse NG Kerk destyds gewikkel was, in verskeie waarvan die kerk, op grond van verkeerde prosedure wat deur hom gevolg is, in die ongelyk gestel is. Kragtens die uitspraak van 1864 het ds. Kotzé intussen sitting in die volgende vergadering van die Ring van Tulbagh geëis. Toe dit hom met ’n skrale meerderheid geweier word, het hy hom nog eens na die Hooggeregshof gewend. Die Ring kry op ’n tegniese punt gelyk, maar terselfdertyd het die hof verklaar dat die eiser volle sittingsreg het. In 1865 het die Ring, pleks dat hy Kotzé toelaat, sy vergadering opgeskort, om eers in 1871 weer byeen te kom. Die Sinode wat in 1867 om byna dieselfde rede verdaag het, het eers in 1870 weer vergader en toe is die vroeër afgesette leraars Kotzé en Burgers noodgedwonge herstel. Hierna is Darling tot aan die einde van ds. Kotzé se dienstyd nie weer op Sinodale vergaderings verteenwoordig nie en ná 1873 ook nie op Ringsvergaderings nie.
Ds. Kotze het predikant van Darling gebly tot 1894, toe hy na Kaapstad vertrek, waar hy op 19 Maart 1902 oorlede is.
Ds. P.K. Albertyn
Hy is opgevolg deur ds. I.F.A. de Villiers (1895-1899), wat die sendingwerk op Darling begin het. Sy opvolger, ds. P.K. Albertyn (1900-1906), het die sendingwerk voortgesit en stel die eerste sendeling, eerw. Grebe, aan. In 1904 is die kerk vergroot, ’n pragtige toring gebou en ’n groot pyporrel aangekoop.
Nadat Pieter Kuipers Albertyn sy B.A.-graad aan die Victoria-kollege op Stellenbosch behaal het, voltooi hy sy studie aan die Kweekskool. Op Stellenbosch het hy van 1896 tot 1898 vir Maties se eerste span rugby gespeel.
Hy is op 14 Desember 1899 as predikant georden en op Vrydag 18 Mei 1900 in die NG Gemeente Darling georden. Hier het hy alleen in die pastorie gewoon en ‘n aantal van sy broers en susters gehuisves terwyl hul ouers op Bermuda was waar ds. Johannes Rudolph Albertyn die Boerekrygsgevangenes geestelik bearbei het. In Januarie 1901 voer Albertyn die reisplanne uit wat hy voor sy beroep na Darling gemaak het en vertrek saam met drie vriende na Europa, terwyl sy gemeentelike werk op Darling deur prop. J.G. Steytler behartig is. Hy sou nie lank in die gemeente bly nie en op 29 Januarie 1906 is aan hom demissie gegee omdat hy ‘n beroep na Graaff-Reinet aanvaar het, waar hy bly tot 1921, toe hy vertrek na Brandfort. Sy laaste gemeente was Swellendam van 1926 tot 1929.
Ds. Michiel Smuts
Nadat die gemeente Darling agt maande herderloos was, het hulle die voorreg gehad om hul nuwe leraar, ds. Michiel Smuts, met sy gesin op 19 September 1906 te verwelkom. ’n Groot aantal rytuie het die Smuts-gesin by die stasie ingewag en daarvandaan in ’n lang stoet na die pastorie gegaan waar die gebruiklike adresse aangebied en gepas beantwoord is. Die bevestiging het die volgende dag plaasgevind. Uit Malmesbury het nie minder nie as 70 belangstellendes met ’n spesiale trein na Darling gekom. Onder die besoekers was ds. C. Rabie en eerww. S.B. Weich, F.N. van Niekerk en J.N. Murray. Ds. Steytler van die buurgemeente Hopefield het reeds die vorige dag aangekom. Die bevestigingsrede is deur ds. C. Rabie, die waardige ou leraar van Swartland, oor 2 Korintiërs 6:1 (“En wij, als medearbeidende, bidden u ook, dat gij de genade Gods niet tevergeefs moogt ontvangen hebben.”) gehou, terwyl die bevestigde se intreepreek oor Ps. 122: 8,9 (“Om mijner broederen en mijner vrienden wil, zal ik nu spreken, vrede zij in u! Om des huizes des HEEREN, onzes Gods wil, zal ik het goede voor u zoeken.”) gehandel het.
Sy meer as vyfjarige arbeid op Darling was ’n geseënde tyd vir die gemeente en in meer as een opsig ook ’n vrugbare, skryf ds. H.C. Hopkins in die gemeente se eeufeesgedenkboek. In die werk is hy getrou bygestaan deur sy eggenote wat die tweede predikantsvrou sou wees om haar laaste rusplek hier op aarde in die Darlingse kerkhof te vind. Mev. Miemie Smuts was ’n dogter van eerw. J.H.L. Schumann wat as sendeling en apteker werksaam was tot hy in 1889 as leraar van die Independente Gemeente op Cradock skielik heengegaan het. Ook sy dogter sou later aan haar hart beswyk. Hoewel sy reeds lank lydende was, het haar einde onverwags in die namiddag van 25 Julie 1910 in die pastorie gekom. “Deur haar heengaan het ds. Smuts ’n troue lewensgesellin, die kinders ’n tere moeder en die gemeente ’n ywerige werkster verloor,” volgens ds. Hopkins.
In ’n berig wat waarskynlik in die De Kerkbode verskyn het, is indertyd geskryf: “Blymoedigheid en opgeruimdheid waren zeker trekken in het karakter van mevr. Smuts, die elkeen troffen. Welgemoed onder alle beproevingen, kon zy ze te gemakkeliker dragen. Met een zwak en lydend lichaam was zy steeds gewillig om te helpen, waar zy kon. Zy scheen een hart te hebben, dat liefde had voor allen en voor alle goede zaken binnen en buiten de gemeente. Haar arbeid in de gemeente was zonder bazuin. Haar leven bevatte geen biezonder grote daad, maar is te meer overvloedig in kleine daden, die een waarde en kracht eraan geven, die luider spreken dan vele daden, die de wereld in beweging zetten.”
Die begrafnis het Dinsdagnamiddag plaasgevind. By die pastorie het eerw. C.J. Grové (Malmesbury) ’n kort woord tot die kinders gerig, waarna die skoolkinders voor die lykswa uit na die kerk geloop het wat tot oorlopens toe gevul is. Hier het di. F.X. Roome (Kaapstad) en J.H. van Aarde (Kruisvallei, die tweede gemeente op Tulbagh) opgetree, terwyl ds. C. Rabie (Swartland) by die graf gepraat het. Kerkraadslede het as draers opgetree en die broeders het ook later besluit om uit eie sak alle koste i.v.m. die begrafnis te dek as blyk van hul agting vir haar en van waardering vir haar werk en die geseënde invloed wat sy in die gemeente uitgeoefen het. Uit die huwelik van ds. en mev. Smuts is vier kinders gebore van wie drie met Darling se eeufeesviering nog gelewe het. Marius, in lewe assistentklerk van die Senaat, was toe reeds oorlede. Tydens sy bediening op Piketberg het ds. Smuts met mej. A.C. Beyers in die huwelik getree en die vader van nog ’n dogter geword. In 1912 het ds. Smuts ’n beroep na die nabygeleë Piketberg aangeneem en op 20 Maart ontvang hy demissie van dieselfde konsulent, ds. J. D. Retief (Moorreesburg), wat die akte aan sy voorganger oorhandig het.
Sy afskeidspreek het hy op Sondag 7 April 1912 met Nagmaal gehou. By die bediening van die sakrament het hy oor Mat. 28:6 (“Hij is hier niet; want Hij is opgestaan, gelijk Hij gezegd heeft. Komt herwaarts, ziet de plaats, waar de Heere gelegen heeft.”) gepraat en toe het die afskeidswoord oor Hand. 20:32 (“En nu, broeders, ik bevele u Gode, en den woorde Zijner genade, Die machtig is u op te bouwen, en u een erfdeel te geven onder al de geheiligden.”) gevolg. In nog ’n berig sonder bron of datum, is berig: “Hy vergeleek zyn scheiding van ons als die van echtgenoot en echtgenote, die elkander diep beminden en waar de liefde uit biddende harten riep om vereniging. ‘Ik was naar Darling gekomen met een gevoel dat al steenigen my de menschen ook, dan ga ik nog daarheen, want ik heb toen geen goed gerucht van u vernomen. Doch nu moet ik waarlik zeggen, dat u myn weg met rozen heeft bezaaid.'”
Hoogtepunte op Darling
Op die eerste kerkraadsvergadering met ds. Smuts as voorsitter (in 1907) is besluit om vir die gemeentewerk ’n paar perde aan te koop, maar die leraar wou dit goed verstaan hê dat dit nie sy eiendom sou wees nie. Aanddienste het in hierdie tyd waarskynlik gebruiklik geword want daar word 10 sjielings per maand gestem vir “een lichtaansteker en klokkenluider”.
In die jaar van die ontstaan van die Mannesendingbond, en wel op 17 November 1908, het die kerkraad eenparig besluit om ’n tak van die MBS te stig. Dit sou onder toesig van die kerkraad staan wat voorlopig ook as bestuur sou optree. Op gevoelvolle wyse het ds. Smuts sy blydskap en dankbaarheid oor hierdie besluit uitgespreek.
Ds. Smuts het hom sterk beywer om die kerkskuld uit te wis en die gemeentelike finansies op ’n gesonder voet te bring. ’n Aansienlike som was in kleiner bedrae deur verskillende persone aan die kerk verskuldig en op allerlei maniere is getrag om hierdie skulde in te vorder. In April 1909 is daar ’n kommissie vir finansies benoem wat die geldelike sake van die gemeente moes help behartig. Die eerste lede van hierdie kommissie was dr. Nieuwoudt en die broers W.J. Spiers en. J.G. Loubser. Met ’n “kollekte reisje” deur die gemeente het die leraar so goed gevaar dat £300 op ’n skuldbewys van mnr. Fred. Duckitt (Waylands) afbetaal kon word. Toe die diakens in Februarie 1911 hul boekies inhandig, het die voorsitter met ’n spesiale woord van dank melding gemaak van die feit dat die £233 14s. 6d. wat die kommissie ingesamel het. die grootste bedrag was wat tot daardie tyd op kollektelyste ingekom het. Nogtans moes daar weer ’n skuldbewys vir £700 teen 5% rente aan mnr. Fred. Duckitt gegee word. Aangesien die geldelike sake van die gemeente toe in orde was, sou die kerkraad nie meer maandeliks vergader nie.
In Desember 1909 word besluit om met Kers- en Nuwejaarsdagdienste in die kerk te hou en op Nuwejaarsdag sou ook voortaan die voorstelling van nuwe Kerkraadslede plaasvind. Verder is die onwenslikheid bespreek van “dat algemeen gebruik in onze Kerk” om by Nagmaal “geld op de tafels te werpen.” Hierdie ekstra gawes moes voortaan saam met die gewone kollekte in die bordjies geplaas word. Om die inkomste op te stoot is in 1910 besluit om voortaan in die eerste kwartaal van die jaar nog ’n basaar te hou, of anders sou die lyste uitgaan om die tekort van die jaar aan te suiwer. Nadat die leraar dit reeds geruime tyd vantevore vir die Kerkraad in bedenking gegee het, is daar toe egter in 1911 besluit om Dankofferfeeste pleks van basaars te hou en hy sou die nodige doen om daarvan ’n sukses te probeer maak.
Die kombuis van die pastorie het in 1908 ’n plankvloer gekry en dit het £6 3s. gekos. In dieselfde jaar is die kerkplein weer met bome beplant en gemeentelede het werkvolk gestuur om eers die kerkhof en toe ook die kerkplein in orde te bring. Aan die broer Spiers is opdrag gegee om ’n werker teen 6d. tot 1s. per Sondag in diens te neem om van die tweede gelui tot ná die oggenddiens ’n oog oor die rytuie by die kerk te hou. Twee jaar later is daar weer op die noodsaaklikheid van so iemand te hê gewys en toe kon br. Van Niekerk ls. tot ls. 6d. per Sondag aanbied. Daar was ook kettings waaraan die perde vasgemaak kon word.
Net voor ds. Smuts se vertrek het mnr. Fred. Duckitt (Waylands) £100 geskenk vir die verligting van die kerkgebou en hy is saam met mnr. H.K.J. van der Spuy en die heer J.G. Loubser as komitee benoem om die saak deur te voer. Gasligte is in die kerk gebruik tot dat die kerkraad in 1930 ’n eie elektriese verligtingstoestel teen £197 10s. aangekoop het.
Tot omstreeks die eeufees
Ds. A.D. Luckhoff, jr. (1913-1916) moes moeilike jare hier deurmaak. Gedurende sy bediening het die ongelukkige gebeurtenis plaasgevind toe die Engelssprekende lidmate afgeskeur het om hul eie kerk te stig (1915). Deur die toedoen van ds. D.J. Malan (1916— 1946) is hier twee ruim koshuise opgerig. Ds. A.M. Botha (1946-1951) het die werk hier gestadig en met seën voortgesit. (Geskryf deur Morne van Rooyen)
Predikante
- Kotzé, Johannes Jacobus,1859–1894
- De Villiers, Izak Frederik Albertus, 1 Mei 1895 – 1900
- Smuts, Michiel, 20 Sep. 1906 – 1912
- Lückhoff, August Daniel, 25 Jul. 1912 – 1916
- Malan, David Johannes, 6 Jul. 1916 –1946
- Botha, Antonie Michiel, 10 Aug. 1946 – 1951
- Badenhorst, Zacharias Blomerus, 8 Des. 1951 – 1959
- Gideon Stephanus Boshoff, 1966 – 1971
- Michiel Roché Heyns, 1972 – 1975
- Abraham Josua Thiersen, 1988 – 2006
- Nicolaas Lodewikus Le Roux, 2006 – 2017
- Lindi Marlene Terblanche-Claassen, 2009 – hede