NG Gemeente Cradock

Die kerkgebou van die NG Moedergemeente Cradock. Dis ’n redelik getroue weergawe van St. Martins-in-the-Field in Londen.

GESTIG

1818

Ring

Cradock

Adres

Kerkstraat 89, Cradock

Sluit in

Cradock (deels)

Eerste predikant

John Evans (1818–1823)


Die NG Gemeente Cradock is die elfde oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en die derde oudste in die Sinode van Oos-Kaapland. Dit is die moedergemeente op die dorp Cradock, waar ook ’n gemeente Cradock-Noord (1966) en -Oos (1951) is.

Ná die Eerste Grensoorlog van 1812 het die soldaat-goewerneur, sir John Cradock, besluit om die grens te versterk deur twee sub-drosdye van Uitenhage en Graaff-Reinet te skep wat as militêre voorposte kon dien in geval van verdere aanvalle deur die Xhosas. Die een word later Cradock en die ander Grahamstad. Op 20 Junie 1812 word Andries Stockenström, later luitenant-goewerneur van die Oostelike Provinsie, aangestel as adjunk-landdros by Van Stadensdam in die vallei van die Groot-Visrivier. Kort voor lank verander hy sy standplaas na die plaas Buffelskloof, waarvan die eienaar Pieter van Heerden was en wat besonder aangenaam en strategies geleë was na aan ’n waterbron.

Sir John Cradock besoek die plek en keur dit as ligging vir ’n dorp goed. Die regering koop die plaas vir 3 500 riksdaalder, omskep die opstal in ’n gevangenis en rig ook regeringsgeboue op. Dit was op voorstel van Stockenström dat die nuwe dorp die naam Cradock gekry het en so is dit op 14 Januarie 1814 goedgekeur.

Slegs sowat vir jaar ná die stigting van die dorp, volg die stigting van ’n plaaslike gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in 1818. Min is egter bekend oor die vroegste geskiedenis omdat die eerste notuleboek van die gemeente op onverklaarbare wyse weggeraak het. Dit is wel bekend dat ds. John Evans die eerste leraar was. Hy is in 1818 bevestig en na ’n dienstydperk van vyf jaar in 1823 in die amp oorlede.

Ds. John Taylor (oorlede 21 Mei 1860) van die NG Gemeente Beaufort-Wes het hom in 1824 opgevolg. Albei was Skotse predikante wat goewerneur lord Charles Somerset na die Kaap laat kom het om die Afrikaans-Hollandse bevolking te help verengels. Dié beleid het egter misluk omdat die meeste mettertyd verafrikaans het en hulle met die lot van die Hollandse nedersetters vereenselwig het.

Onder die Skotse leraars was latere leiers in die NG Kerk, byvoorbeeld ds. Andrew Murray sr. (georden 1822, na wie onder andere die Karoo-dorp Murraysburg genoem is). Sy seun dr. Andrew Murray (georden 1848) het een van die groot kerkleiers en godsdienstige skrywers van Suid-Afrika geword. Vier van ds. Murray se ander seuns was ook evangeliedienaars, waaronder prof. John Murray (georden 1848), een van die eerste twee hoogleraars van die Stellenbosse Kweekskool.

Nog bekende Skotse predikante of hulle nasate was dr. William Robertson (georden 1831) na wie die dorp Robertson genoem is), ds. John Pears (georden 1829, na wie die dorp en NG Gemeente Pearston genoem is), ds. Alexander Smith (georden 1822, na wie die dorp en NG  Gemeente Alexandria genoem is), ds. Andrew McGregor (georden 1862, na wie McGregor genoem is), sy seun ds. Andrew Murray McGregor (georden 1900), ds. Colin Fraser (georden 1824, na wie Fraserburg genoem is) en ds. Henry Sutherland (georden 1824, na wie Sutherland genoem is).

Cradock se besondere kerkgebou is in 1868 opgerig en ’n redelik getroue weergawe van St. Martins-in-the-Field in Londen. Die gemeente het vinnig gegroei sodat ’n medeleraar reeds in 1906 beroep is en 24 jaar later ’n derde medeleraar. In 1932 spog die gemeente met 2 164 lidmate, 3 797 siele, vyf Sondagskole, 34 onderwysers en 624 leerders. In daardie jaar is gemiddeld weekliks twee kinders gedoop (112) en 105 katkisante aangeneem.

Die Oos-gemeente is in 1951 afgestig en die Noord-gemeente in 1966. Die drie gemeentes het in 1985 saam 2 464 belydende (volwasse) lidmate gehad. In 2010 was dit 1 879, sowat 767 minder. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante

  • John Evans, 1818–1823
  • John Taylor, 1824 – 21 Mei 1860 (oorlede in die amp)
  • Jan Hendrik Jacobus du Plessis, 1861–1882
  • Jacobus Cornelius Reyneke, 1884–1922 (emeriteer; oorlede op 20 November 1943)
  • Cornelis Vermaak Nel, 1906–1914
  • Andries Francois Malan, 1923 – 5 Mei 1927 (ook hulpleraar in 1888; oorlede in die amp)
  • Wilhelm Alexander Roux, 1923–1925
  • Dr. Hendrik Petrus van der Merwe, 11 April 1925 – 24 Desember 1926 (beswyk aan kwaal veroorsaak deur kiem tydens reis in Europa opgedoen)
  • Joël Hendrik Malherbe, 1926–1952
  • Johannes Gerhardus Olivier, 1928–1933
  • Willem Johannes Lubbe, 1934–1944
  • David Petrus Mathys Beukes, 1945–1952
  • Dr. Pieter Adriaan Verhoef, 1950
  • Izak Bartholomeüs Fourie, 1951–1955
  • Jozua Johannes Georg Loots, 1953–1956
  • Petrus Jacobus Johannes Stephanus Els, 1955–1958
  • Jacobus Francois Myburgh, 1957–1959
  • Hendrik Olivier Viviers, 1958–1963
  • Pieter Louis Rossouw, 1 Januarie 1961–1964
  • William Fullard, 1963–1967
  • Johannes Lodewyk Nel, 13 Februarie 1964 – omstreeks 1970
  • Jacobus Francois van Wyk, 10 Februarie 1968–1973
  • Francois Maritz, 1973–1976 (waarna Que Que en van 1 April 1982 saakgelastigde van die Sinode van Midde-Afrika)
  • Abraham Jacobus Britz, 1976–1980
  • Cornelius Bester, 1977–1980
  • Gabriël Gideon le Roux, 1980–1990 (oorgegaan na die AP Kerk)
  • Jacques Durand, 1985–1990
  • Adriaan Albertus (Riaan) Terblanche, 2008 – hede (tentmaker)