gestig
1920
RING
Ring van Bethlehem
Adres
Hoofstraat, Clarens
Eerste predikant
Ds. S.J. Stander
Die NG Gemeente Clarens is ‘n gemeente in die Vrystaatse Sinode.
Op 23 Junie 1920 is die NG Gemeente Clarens vanaf Bethlehem afgestig. Hierdie gemeente was op daardie stadium reeds sowat 60 jaar oud. Clarens die dorp, het amptelik in 1912 ontstaan, maar buitedienste is reeds vroeër in die holkransgrot by Ouwerf bó die Swartland op die plaas Nauwpoort, gehou. Dit het skynbaar reeds tydens die Boere-oorlog gebeur. Later, maar nog voor die afstigting, is ‘n sinkgeboutjie op die hoek van Hoof- en Naudestraat (waar die Rose Corner Gastehuis op daardie stadium is), vir eredienste gebou.
Die Krugergedenksaal is in 1921 (of 1923?) deur die Oranje Vroue Vereniging (OVV) op die hoek van Hoof- en Besterstraat gebou. Blykbaar was die gedagte dat dit as kerkgebou kon dien, maar dit het nie gebeur nie. Eers teen 1950 is die saal amptelik aan die gemeente oorgedra. Daarna is ‘n verdere saal met kombuis aangebou en is die voorportaal in ‘n kantoor omskep.
In 1923 is die pragtige sandsteen-pastorie gebou, die argitek was die bekende Gerhard Moerdyk van Pretoria. Die volgende word daaroor vertel: die eerste leraar, ds Stander, het in ‘n paar sinkvertrekke oorkant die ou poskantoor, in die hoofstraat gewoon. Sy vriend Gerhard Moerdyk het by hom gekuier en so koud gekry dat hy aangebied het om ‘n pastorie te ontwerp. Om geld vir die gebou in die hande te kry, het die kerkraad die dominee vir ses maande met verlof gestuur sodat hulle die huurgeld kon opspaar! Ná 50 jaar is ‘n nuwe pastorie op die terrein van die ou sinkkerkie gebou, maar nadat die ou pastorie later gerestoureer is, is dié verkoop.
In die dertigerjare is beplan om ‘n nuwe kerk te bou, maar eers is die sendingkerkie in Kgubetswana in 1936 oorgebou. Daar is met die firma Moerdyk oor die ontwerp van ‘n kerk onderhandel, maar in Oktober 1938 is besluit om die plan wat ds JJ le Roux voorgelê het, te aanvaar. Mnr G van Zyl was verantwoordelik vir die sandsteenwerk, in Februarie 1940 is die hoeksteen gelê en op 8 Februarie 1941 is die kerkgebou feestelik ingewy. Aanvanklik was daar ‘n u-vormige toring bo-op, maar dié is later verwyder. Moontlik is dit dié toring (algemeen in Oos-Europa), wat die gedagte laat ontstaan het dat ds Le Roux die plan van ‘n Switserse kerk bekom het. Die Möller kerkorrel is uit die VSA ingevoer, ‘n sogenaamde eenheidsorrel met drie basisregisters waarvan een register se pype geheel en al van hout is. Tot vandag toe is hierdie kerkgebou ‘n toeriste aantreklikheid in Clarens se hoofstraat.
In die afgelope eeu het 14 predikante die gemeente bedien, maar met die eeufees, is die gemeente tans vakant. As gevolg van die wêreldwye Covid-19 pandemie en gevolglike beperkings van beweging en saamtrekke, kon geen feestelikheid gereël word nie, maar dit word beplan vir DV 13 Februarie 2021. Deur die jare het die gemeente vir duisende mense, oud en jonk, ‘n geestelike tuiste gebied. Dit is onberekenbaar watter geestelike groei en vreugde deur die jare in hierdie gemeente plaasgevind het. Talle sterk leiers het oor die jare die gemeente gedien en uitgebou.
Mettertyd het die dorp ook ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Waar die dorp ‘n eeu gelede ‘n tuiste gebied het vir arm mense en heelwat boere in die distrik bedrywig was, is dit nou hoofsaaklik ‘n besige toeristedorp. Alhoewel die distrik nog bekend is vir sy goeie landboupotensiaal, is daar nou baie minder boere. Die boerdery-eenhede het groter geword. Die dorp het baie gegroei, heelwat mense het hier kom aftree, of aangetrek deur die prentjiemooi omgewing, hulle hier kom vestig. Talle winkeltjies en eetplekke gee ‘n besondere atmosfeer aan die dorp en lok baie besoekers – Clarens is nou landswyd bekend as ‘n populêre toeristebestemming! Maar, dit is die asemrowende natuurskoon en die skoon en helder lug wat steeds dieselfde gebly het.
(Geskryf deur: Prof Dons Kritzinger, emeritusleraar en lidmaat van NG Clarens)
Predikante
- Salomon Johannes Stander, 1920 – 1928
- Jacobus Johannes le Roux, 1929 – 1941
- Hendrik Johannes Otto, 1941 – 1946
- Gerhardus Johannes Labuschagne, 1946 – 1948
- Johannes Hubertus Loubser, 1948 – 1951
- Pieter Barend Botha, 1951 – 1956
- Christoffel Alwyn van Zyl, 1957 – 1963
- Gert Paul Victor le Roux, 1963 – 1972
- Theunis Johannes Lessing, 1973 – 1976
- Jan Daniël Louw, 1978 – 1982
- Willem Christian de Klerk, 1988 – 1997
- Petrus Johannes Grobler, 1997 – 1999
- Izak Andries Cornelus van den Bergh, 2002 – ?