NG Gemeente Ceres

Ceres se moederkerk, ontwerp deur Wollie Bronkhorst, is op Saterdag 24 en Sondag 25 Oktober 1953 ingewy. (FOTO: Andrew Kok)

GESTIG

21 Maart 1855

Ring

Tulbagh8

Adres

Owenstraat, Ceres

Sluit in

Ceres (deels)

Eerste predikant

J.A. Stegmann (1857–1883)


Die NG Gemeente Ceres is die moedergemeente op die gelyknamige dorp in die Suidwes-Kaap, padlangs sowat 25 km suidoos van Tulbagh en 50 km noordwes van Worcester.

Ontstaan

Op 7 Mei 1854 het die heer C. Piers, magistraat van Tulbagh, in die natuurskone Ceresvallei die hoeksteen van die eerste kerkgeboue gelê. Die Gemeente Ceres is op 21 Maart 1855 amptelik gestig, en pas twee maande later, op 5 Mei, kon die nuutgestigte gemeente sy eerste kerkgebou feestelik in gebruik beem. In minder as dertig jaar het die gemeente sodanig gegroei dat ’n groter kerk gebou moes word.

Predikante in die eerste eeu

Die eerste leraar van Ceres was ds. J.A. Stegmann, wat van 1857 tot 1883 hier gearbei het. Hy is opgevolg deur ds. G.F. Marais, wat tot 1893 sy roeping met groot erns vervul het. Daarna het die rysige gestalte en sterk persoonlikheid van ds. W.A. Alheit aan die spits van die gemeentelike lewe getree. Sy hele arbeid op Ceres het in die teken van ordelikheid, presiesheid en ’n geweldige ywervuur gestaan, tot sy spore verdwyn het in die see by Palmietrivier, waar hy deur die golwe op 31 Desember 1910 meegesleur is.

Ná hierdie droewige skok het die gemeente hom verheug in die koms van die beminlike ds. R.D. McDonald in September 1911. Hierdie toegewyde leraar het nie minder nie as 27 jaar van sy arbeidskragte aan die gemeente gegee, tot hy begin 1939 die tuig neergelê het. Die vakature is gevul deur die aankoms van ds. J.H. van Loggerenberg op 5 Junie 1939. In sy dienstyd van ongeveer agt jaar het die tempo van die gemeente se ontwikkeling aanmerklik versnel. Onder meer het hy hom beywer vir die bou van ’n nuwe kerk en begin om ’n boufonds in die lewe te roep.

’n Bloeiende vrugtebedryf sowel as die bou van die betonpad in die pragtugfe Michellspas deur die afdelingsraad van Ceres het nie net die gemeenskap laat groei nie, maar ook bygedra tot die uitbreiding van die gemeente. Die kerkraad het besluit om ’n medeleraar te beroep en op 26 Oktober 1946 is ds. J.P. du Plessis bevestig.

Ná die vertrek van ds. Van Loggerenberg, is ds. W.C. de Swardt op 21 Februarie 1948 as medeleraar bevestig. Die kerkraad het destyds vier skoolkoshuise onder sy beheer gehad, terwyl ’n vyfde in die distrik in aanbou was. In 1951 het die kerkraad finaal besluit tot die bou van ’n nuwe kerk – die derde sedert die stigting van die gemeente.

Ceres se vorige NG kerkgebou, opgerig 1881, gesloop 1952. Carl Otto Hager het nie self in sy herinneringe genoem dat hy dit ontwerp het nie, maar die kerkraadsnotule meld sy betrokkenheid by die ontwerp. Dit is presies dieselfde ontwerp as die kerk op Ladismith, maar met ‘n frontgewel van klip.

Die tweede kerk (1881)

Die gemeente se kerkraad het reeds op 5 Januarie 1861 as volg besluit: “Daar het blijkt het verlangen der Gemeente te zijn dat de kerk zal worden vergroot besluit de kerkeraad dadelijk aan het fondament te zullen beginnen zoodra er £400 tot dat einde in hande is.” Die saak vorder, toe op 6 April van dieselfde jaar besluit word dat ’n gemeentevergadering op Hemelvaartdag, 9 Mei, gehou sal word om verdere besprekings te hou en planne te beraam. Op hierdie vergadering is die aanwesiges die geleentheid gegee om hul gevoelens oor die saak te lug en eindelik word die volgende vraag tot stemming gebring, naamlik of die kerk vergroot moet word en of ’n nuwe gebou moes word. Die meerderheid stem vir die bou van ’n nuwe kerk. Hierop verklaar ouderling J.C. Goosen homself bereid om ’n erf te skenk vir hierdie doel op ’n plek wat die boukommissie geskik sou ag. Om die saak verder aan te help word ouderling C.P. van der Merwe en die leraar as ’n kommissie benoem om ’n kollektereis deur die gemeente vir hierdie doel te onderneem.

Eers in Julie 1874 kom die kerkbou weer ter sprake toe besluit word om by die Oktober-Nagmaal ’n gemeentevergadering te hou. Daardie Oktober-naweek was besig, want benewens die gewone dienste moes die gemeentevergadering gehou word. Die enigste kans hiervoor was op die Maandagmôre voor die gemeentelede sou vertrek. Om seweuur die môre kom ’n groep bymekaar om die belangrike vraag, wat hul meer as tien jaar besig gehou het, weer in oorweging te neem. Met 40 stemme teen ses word besluit om die hele aangeleentheid te laat oorstaan tot die Oktober-Nagmaal in 1875 sodat daar nog kans vir nadink kan wees. Terselfdertyd word ’n wyse besluit geneem, naamlik dat ’n kommissie aangestel word om die koste te bereken van ’n nuwe kerk se bou asook wat dit sou kos om die ou kerk te vergroot.

Hierdie kommissie was verteenwoordigend van die hele gemeente aangesien drie oudkerkraadslede, drie kerkraadslede en drie gemeentelede daarin sitting gehad het. Op die Oktober-vergadering van 1875 is daar besluit word om die saak vir ’n verdere vier maande uit te stel nie. Terselfdertyd word ’n nuwe kommissie, bestaande uit die volgende persone, aangestel: N.G. Vos, C.J. van der Merwe, P. van Wyk en J.E. van der Merwe. Hulle kon ander koöpteer as dit nodig sou blyk. Eindelik word die gemeentevergadering op 5 Februarie 1876 gehou waar, behalwe die kerkraadslede, ook 28 manslidmate teenwoordig is. Teen hierdie tyd het die kommissie al ’n rapport oor die hele aangeleentheid gereed gehad. Die vergadering laat hom lei deur die kommissie se mening en besluit dat “indien er wat gedaan zal worden een nieuwe kerk te bouwen”. ’n Verdere voorstel word aangeneem, naamlik dat daar dadelik met die bou van die kerk voortgegaan sal word wanneer £1 500 beskikbaar is.

’n Boukommissie, bestaande uit die volgende persone is aangestel: P.J. van der Merwe, P.J. van Wyk, J.E. van der Merwe, C.J. Molle, N.G. Vos, P.J. Conradie en C.J. van der Merwe. Om vir die geldinsameling te sorg, stel die vergadering ’n verteenwoordigende groep kollektante aan. Die gekose boukomitee hou op 20 Mei 1876 die eerste vergadering en by hierdie geleentheid doen die kollektante verslag van wat ingevorder en belowe is, ’n totaal van £2 047. Op grond van die besluit van die vorige vergadering het die kommissie nou die volste vrymoedigheid om met sy opdrag voort te gaan. Enige lede word gekoöpteer en die keuse van ’n geskikte stuk grond word aan J.E. van der Merwe en P.J. van Wyk opgedra.

Hulle kon in Augustus 1876 berig dat hul die erf van mnr. John Fuller vir £300 gekoop het. Die kommissie gee aan hul opdrag om die kaart en transport in orde te laat bring en ook om by die regering aansoek te doen om vrystelling van die transportkoste en hereregte te verkry. Dit blyk ook nou dat, as die kerk volgens die plan wat die kommissie toe in gedagte gehad het, gebou word, dit enige voete van die markplein in beslag sou neem. Aan die here Van Wyk en Van der Merwe word dus verder opgedra om aansoek te doen om die klein gedeelte van die markplein. By die kommissievergadering op 3 Junie verskyn die argitek Carl Otto Hager, met ’n paar planne wat hy aan die kommissie voorlê. Ná rype beraad neem die kommissie die plan van die kerk op Ladysmith aan en die argitek word versoek om die plan en spesifikasies so spoedig moontlik voor te lê.

Toe hy dit by die volgende vergadering doen, word die plan en spesifikasies aangeneem, alhoewel die kommissie in hierdie stadium besorg was daaroor dat daar nog nie £1 500 beskikbaar was nie. Die kollektante word gevolglik aangespoor en ook gevra om so spoedig moontlik verslag te doen. Volgens die verslag deur hul voorgelê aan die gemeentevergadering op 3 November 1877, blyk dit dat hul £223 ingesamel het. Ondanks hierdie ontmoedigende finansiële toestand besluit die gemeentevergadering om met die kerkbou voort te gaan. Op ’n gemeentevergadering in Januarie 1879 is dit nodig cm nuwe kommissie saam te stel omdat van die lede van die ou kommissie oorlede is, bedank of vertrek het. Die kommissie word verder die mag verleen cm lede tot ’n maksimum van 28 te koöpteer. Die bouplanne begin algaande vorm aanneem.

Die eerste kerk op Ceres.

Op bogenoemde vergadering is ’n waarborglys geopen wat op 25 Januarie 1879 die som van £2 700 bedra. Dit blyk nou ook volgens die verslae van die kollektante dat daar £700 aan kontant is en omtrent £300 uitstaande op die kollektelyste. Daar is toe besluit om tenders te vra volgens die plan van Carl Otto Hager, asook om ’n argitek aan te stel. Op 1 Maart 1879 is vier tenders behandel van tussen £4 900 en £7 300. Hager s’n was £6 500. Vir die amp as argitek tender G. Godfrey teen £1 per dag en Davis teen £1 1s. per dag. B. Godfrey se tender vir £4,900 word aangeneem en op 4 April 1879 word die kontrak geteken. ’n Verdere bedrag van 10s. is bygevoeg vir elke sitplek en, as dit nodig sou blyk, £250 vir ’n beton-fondament. Die eerste sooie sou op 5 April net na die middagdiens omgekeer word en daarvoor word die magistraat van Tulbagh uitgenooi. By die volgende vergadering van die kommissie word besluit om mnr. A. Winder as argitek aan te stel teen ’n vergoeding van £100. Hoewel Hager dus die ontwerp gemaak het, is die plan aan Winder oorgelaat.

Ook is voorgestel om die kerk van klip met ’n leidak te bou. Hiervoor is nog £800 gestem. Teen hierdie tyd was sake dus mooi op dreef en die ideaal van soveel jare sou nou verwesenlik word. Op Saterdag 5 Julie 1879 vergader ’n groot skare om te sien hoe die hoeksteen van die nuwe kerk gele word. Ds. Stegmann was ongelukkig genoeg om nie aan die dienswerk te kon deelneem nie aangesien hy die Woensdag tevore ’n koue opgedoen het en toe sy stem verloor het. Prof. Marais van Stellenbosch tree op as spreker. Na ’n kort diens in die kerk gaan die optog van belangstellendes na die steen waar toe reeds ’n verdere groep mense vergader het.

Die bouery was reeds ver gevorder toe die boukommissie voor ’n oënskynlik onoorkomelike probleem te staan kom toe bevind is dat die intekening- en kollektelyste nie die beloofde bedrae opgelewer het nie. Die Standard Bank eis ’n skriftelike waarborg voordat daar verder geld aan die kommissie voorgeskiet word en die hele skema het gevaar geloop om tot stilstand gedwing te word. Die kollektante kon nie betyds die bedrae invorder nie en al uitweg was nou om ’n private persoon te nader. Die kommissie vra C.P. van der Merwe, een van die bekendste lidmate, om ’n lening van £5 000, ’n bedrag wat in daardie dae baie moeilik te verkry was. Gelukkig het hy die lening aan die kerk gegee en dus kon daar met vertroue voortgewerk word omdat een van die vernaamste struikelblokke uit die weg geruim is.

Ander minder belangrike moeilikhede sou weldra oorkom moes word. Die oorspronklike plan van die boukommissie was om die kerkbanke van geelhout te laat maak, iets wat werklik blywend kon wees. Toe die bankemaker, mnr. C. Prout, die blokke begin saag, moes hy vind dat die hout verrot was en, hoewel daar links en regs geadverteer is, kon geen geelhout gevind word nie. Uiteindelik het die kommissie op dennehout besluit. Alhoewel dit ’n groter koste sou meebring, was dit die enigste uitweg. Die banke het £461 gekos. Die preekstoel, wat ook deur die bouaannemer, Godfrey, gebou is, het ’n bedrag van £275 beloop terwyl die Alpha-gasstelsel omtrent £500 beloop het. J. Lutz en Kie. het die orrel verskaf.

Nadat die kerk se leidak gelê is, is in die nawinter van 1880 bevind dat die kwaai reëns veel skade aangerig het. Volgens die argitek het die bouaannemer Godfrey nie die teëls reg gelê nie en daar is ook nie lood gebruik by die gewels soos gespesifiseer was nie. Die boukommissie was baie ontevrede oor die werk en het gevoel dat alles nie pluis was nie. Volgens kontrak moes die werk op 17 November 1880 afgelewer word en dit verbaas ’n mens nie dat Godfrey uitstel vra nie. Dit was baie duidelik dat hy nie die werk kon klaarmaak binne sy tender nie en eindelik het die kommissie alle betrekkinge met hom verbreek en besluit om self die werk verder klaar te maak. T. Harns word aangestel om die werk te voltooi teen 15 s. per dag. ’n Sekere Wallendorf moes die teëls weer lê, maar hierdie man kon as gevolg van sy kwaai humeur en die invloed van sterk drank, nie met Harris klaarkom nie sodat die handlangers die teëls moes klaar lê.

Toe die glas vir die vensters uitgepak word, is bevind dat meer as die helfte stukkend was. Daar word besluit om ruite wat in lood ingeset is, uit Engeland te laat kom. Dit het ’n verdere uitgaaf van £160 meegebring. Eindelik kon die dag van die inwyding vir die 14de Oktober 1881 bepaal word. Dit sou die einde beteken van ’n lang en moeisame pad; daarom is daar geen moeite ontsien om hiervan ’n gedenkwaardige gebeurtenis te maak nie.

Syaansig van die derde kerk. (FOTO: Andrew Kok)

Derde kerk

Die bal is reeds in die dienstyd van ds. J.H. van Loggerenberg (1939–1947) aan die rol gesit vir die bou van ’n nuwe kerk om dié van 1881, ontwerp deur Carl Otto Hager, te vervang. Die boufonds is op 27 April 1940 gestig en in 1946 het die kerkraad die sloop van die ou gebou op ’n vergadering by die gemeente aanbeveel, wat dit dan ook goedkeur. Die plan om kerk te bou is vertraag deur die bou van ’n skoolhuis, waarvan die hoeksteen in 1949 gelê is en wat £35 000 gekos het. Terwyl die leraars en kerkraad voortgegaan het met hul kerkbouplanne, het die gemeente die grootste deel van die boedel van wyle P.J. van der Merwe geërf. Hy het bepaal die plaas wat deel was van die boedel mag nie verkoop word nie, maar net verhuur word, maar die kerkraad het suksesvol by die hooggeregshof aansoek gedoen op dié serwituut te laat verwyder. Die kerkraad het besluit om £20 000 uit die bedoel vir die bou van ’n nuwe kerksaal te gebruik en £5 000 in die kerkboufonds te stort. Tot in daardie stadium het die gemeente reeds £24 000 ingesamel.

Die tender van Boland Bouers (Edms.) Bpk. is op 16 November 1951 aanvaar vir die som van £49 643. Bronkhorst is toe as argitek aangestel. Nadat die laaste diens in die ou kerk op 13 Februarie 1952 gehou is, het die kontrakteurs die volgende môre die gebou begin afbreek. Tot die nuwe kerk voltooi is, is alle dienste in die stadsaal gehou. Die nuwe kerk se hoeksteen is op 4 Junie 1952 deur die medeleraars, ds. W.C. de Swardt en J.P. du Plessis gelê. Nadat ds. De Swardt ’n beroep na Tulbagh aangeneem en ds. J.W. Coetzee sy plek op 24 April 1953 ingeneem het, is die kerk op Saterdag 24 en Sondag 25 Oktober 1953 ingewy. Die kerk kon nie al 1 100 aanwesiges tydens die inwyding huisves nie; daarom moes sommige die verrigtinge buite op luidsprekers volg. Hierdie kerkgebou het, volledig met horlosie, klok, orrel en meublement amper £62 960 gekos. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante

  • Johan Andrew Stegmann, 1857 – 1883
  • Guillaume Francois Marais, 1884 – 1893
  • Willem Adolph Alheit, 1894 – 1910
  • Roelof Daniël McDonald, 1911 – 1939
  • Johannes Hendrik van Loggerenberg, 1939 – 1947
  • Jean Prieur du Plessis, 1946 – 1954
  • Willem Carel van der Merwe De Swardt, 1948 – 1952
  •  Johannes Willem van Niekerk Coetzee, 1953 – ?
  • Jacobus Nicolaas Boshoff, 1974 – 1983
  • Adriaan Hermanus Louw, 1984 – 2005
  • John Christo Longland, 1980 – 1993
  • Abraham Petrus Marais, 1994 – hede
  • Petrus Francois Maritz, 2016 – 2018