NG Gemeente Capital Park

Ds. J.J. Driescher het die kerk se hoeksteen op 24 Junie 1950 gelê. Die argitek was Hendrik Vermooten, wat ook Capital Park-Oos se kerk ontwerp het, en die bouaannemer F.P. van Heerden. Foto: Morné van Rooyen

Gestig

16 Junie 1941

AFGESTIG VAN

NG Gemeente Eloffsdal

nou

NG Gemeente Capital Park-Concordia

Ring

Sentraalmoot (voorheen Daspoort)

adres

H/v Van Heerdenstraat en Vierdelaan, Capital Park

Eerste predikant

Ds P.B. Botha (1951-1952)


Die NG gemeente Capital Park was ’n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria, maar dit het later met Capital Park-Oos saamgesmelt as Capital Park-Concordia.

Stigting

Die gemeente Capital Park is op 16 Junie 1941 met ongeveer 1 000 lidmate gestig. Voor afstigting was Capital Park ’n wyk van die gemeente Eloffsdal, waar ds. B.H. Swart destyds leraar was. Die eerste leraar van Capital Park was ds. J.J.G. Loots, wat die gemeente byna agt jaar bedien het. Die kerksaal, wat deur die lidmate van wyk Capital Park opgerig en met afstigting deur die moedergemeente as bruidskat aan die dogter geskenk is, is in 1942 tot sy huidige formaat vergroot.

Toe die ledetal in 1945 te veel geword het om deur een leraar behartig te word, is ds. Hoffie Louw (toe nog proponent) as hulpleraar aangestel. Ná sy aanname van ’n beroep na die gemeente Loubser in Kenia, het die kerkraad besluit om ’n medeleraar te beroep. As eerste medeleraar is ds. L.J. Heyns in Februarie 1946 bevestig. Hy is in September 1947 deur die volgende leraar van die gemeente, ds. J.J. Driescher, opgevolg.

Capital Park-Oos stig af

Ná die vertrek van ds. Loots na Bethlehem-Wes aan die begin van 1949, het die Sinodale Uitbreidingskommissie ’n brief aan die kerkraad gerig met die versoek om, alvorens tot die opvulling van die vakature en die voorgenome kerkbou oorgegaan word, eers ernstige aandag aan die moontlikheid van afstigting te skenk. Eindelik is op 25 Oktober 1949 besluit om die gemeente in twee en die bates gelykop te verdeel. Hierdie verdeling het meegebring dat die westelike deel van die gemeente – wat onder gewone omstandighede die afstigtende deel sou moes gewees het, omdat die kerksaal die ooste geleë is – tot moedergemeente verklaar is, om gebruik te kon maak van die toegestane permit tot kerkbou.

Die oostelike deel is dus in Desember 1949 tot die gemeente Capital Park-Oos afgestig en behou die kerksaal as plek van aanbidding, terwyl die weste, as moedergemeente, met ’n boufonds van iets oor die £5 000, dadelik tot kerkbou oorgegaan het en hulle intussen behelp het met die hou van hul eredienste ’n tent, ’n bioskoopsaal of in ’n Wesleyaanse kerksaaltjie.

Nadat Capital Park en Capital Park-Oos as Capital Park-Concordia saamgesmelt het, het die nuwe gemeente die Oos-gemeente se kerk gebruik. Ds. A. De V. Visser het die kerk se hoeksteen op 13 Februarie 1954 gelê. Die argitek was Hendrik Vermooten, wat ook die moederkerk ontwerp het, en die bouaannemer H.M. Siglé. Dr. William Nicol. administrateur van Transvaal, het ’n gedenksteen onthul met die inwyding van die kerkgebou op Saterdag 21 Augustus 1954.

Kerkbou

Op 13 Mei 1950 is die eerste sooi gesteek, op 24 Junie die hoeksteen gelê en op 9 Desember van dieselfde jaar is ’n sierlike en doelmatige kerkgebou ingewy. In 1952 het Ons gemeentelike feesalbum berig: “Die Here het hierdie jong ou gemeente wonderlik geseën. Ons kerkskuld staan wel nog op ’n aansienlike syfer, maar die samewerking is hartlik en op allerlei oorspronklike maniere word (geld) ingesamel. Die bloeiende verenigingslewe word deur ’n gees van saamstaan gekenmerk, en daar is ’n flinke kerkkoor, ’n knap orrelis en ander amptenare en ’n span gewillige kerkraadslede. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante

  • Jozua Johannes Georg Loots, 1941–1949
  • Jacobus Johannes Driescher, September 1947–1954
  • Cornelis Johannes Hattingh, 1955–1958
  • Pieter Willem de Lange, 1957–8 Mei 1959 (oorlede in die amp; hy was 52 jaar oud)