NG Gemeente Burgersdorp

Burgersdorp se NG kerk staan op ‘n ruim perseel in die middel van die dorp. Dit is ontwerp deur die argitek William Henry Ford, van wie vandag bitter min bekend is. Sy ontwerp vir die NG moederkerk Kroonstad toon ‘n sterk ooreenkoms met dié gebou s’n.

Gestig

1846

Ring

Burgersdorp

Adres

Coetzeestraat, Burgersdorp

Sluit in

Burgersdorp en distrik

Eerste predikant

John Murray (1849–1858)


Die NG Gemeente Burgersdorp is ’n gemeente in die Sinode van Oos-Kaapland. Dis die agtste oudste gemeente in dié Sinode en is in 1846 gestig, 54 jaar ná Graaff-Reinet. In die hele NG Kerk was dit die 36ste stigting, waarvan almal behalwe Pietermaritzburg (1839) en Potchefstroom (1842) in die destydse Kaapkolonie geleë was.

Agtergrond

Teen die einde van 1844 is aan sowat 300 gesinne tussen die Stormbergspruit en die Kraairivier toestemming verleen deur die Ring van Graaff-Reinet om hul eie gemeente hier te stig. Op 27 Desember 1847 het hulle die plaas Klipfontein gekoop, wat destyds aan Gert Buytendach behoort het, om ’n kerk te bou en ’n dorp te stig. Die plaas van 3 607 morge is teen 15 000 riksdaalders aangekoop. Dit was op dié plaas wat die gemeente op 13 Oktober 1846 gestig is. Op 20 Januarie 1847 is ’n veiling van erwe gehou en 75 erwe is verkoop teen ’n gemiddelde prys van £50 pond. ’n Uitsoekerf is reeds in 1846 aan Gert Buytendach geskenk toe die plaas aangekoop is. Die gemeente se oorspronklike grense het die latere gemeentes van Aliwal-Noord en Venterstad ingesluit asook gedeeltes van Dordrecht en Barkly-Oos.

Destyds het die wild op die vlaktes hier in hulle duisende geloop en tydens die reënseisoen in hulle miljoene, waaronder springbokke, blesbokke, wildebeeste, kwaggas en volstruise. Selfs leeus het destyds in die grasmoerasse en luiperds in die bosryke klowe.

Ds. Andrew Murray sr. van Graaff-Reinet was die gemeente se eerste konsulent, wat dienste gehou het in tydelike tente, opgerig met waens waaroor bokseile gespan is. Daarna het die lidmate ’n noodkerk gebou.

Baie van die ingesetenes was hoogs ontstoke toe daar voorgestel is dat hulle die dorp Maitland moet noem ter ere van die goewerneur sir Peregrine Maitland. Hy het egter die eerbewys van die hand gewys omdat die koloniale regering huiwerig was om dié gebied tot landdrosdistrik te verklaar. Die dorp is toe Burgersdorp genoem, volgens sommige ter ere van die burgerkommandos tydens die Sewende Grensoorlog van 1846 tot 1847. Die meer waarskynlike verklaring is egter dat die dorp deur die toedoen van die burgers self gestig is wat die Christendom na die gebied gebring het. Burgersdorp, wat in 1891 ’n munisipaliteit geword het, het kerkeiendom gebly tot 1 Januarie 1913 toe die eiendomsreg van die dorpsmeent aan die plaaslike munisipaliteit oorgedra is.

Die eerste NG kerkgebou is in 1848 ingewy, en die nuwe en huidige kerk in 1913 nadat ds. H.W. Geyer die hoeksteen op 29 Junie 1912 gelê het. Die argitek was William Henry Ford. Dié gebou, in ’n tipiese Romaanse boustyl, het ’n indrukwekkende orrel met 1 100 pype. Die preekstoel is uit kiaathout vervaardig en die gebou het ’n indrukwekkende koepel.

Gereformeerde Kerk

Intussen het ds. Dirk Postma op 21 Januarie 1860 ’n gemeente van die Gereformeerde Kerk hier gestig nadat vele lidmate die NG Kerk verlaat het, hoofsaaklik weens hulle ontevredenheid oor die sing van die evangeliese gesange, pleks van net die gebruiklike psalms, maar ook weens die liberalistiese tendens in die NG Kerk. In 1869 het hy ’n teologiese seminarium hier gestig, wat in 1905 na Potchefstroom verplaas is.

Eerste leraar

Uit 10 beroepe was ds. John Murray die eerste om dit aan te neem. Hy was een van die konsulent, ds. Andrew Murray sr. van die NG gemeente Graaff-Reinet, een van die eerste Skotse predikante in die NG Kerk wat die tekort aan predikante in die NG Kerk in die 19de eeu moes kom aanvul, se vyf seuns wat predikant geword het. Die ander vier was William, George, Charles en die bekendste, dr. Andrew Murray, die skrywer van Christelike boeke wat in etlike tale vertaal is.

John vertrek in 1838 op 12-jarige ouderdom saam met die tweede oudste broer, Andrew, na Skotland, vanwaar hulle vader in 1822 as een van die eerste predikant na die Kaap gekom het, om daar onderrig te word. Albei broers het teen 1845 die M.A.-graad in Aberdeen behaal en vertrek saam na Holland om daar aan die Universiteit van Utrecht vir predikant te leer. In 1848 maak hy in sy briewe aan sy vader op Graaff-Reinet melding van die noodsaaklikheid van ’n teologiese seminarie vir Suid-Afrika. Die volgende jaar aanvaar hy, kort na sy terugkoms in Suid-Afrika, ’n beroep na Burgersdorp, wat net drie jaar vantevore gestig is.

Ds. Murray se ontvangs op Burgersdorp

Meer as twee jaar ná die stigting was die gemeente nog altyd vakant en dit het hom moeilik geval. Daarom ook was dit ’n besonder blye vooruitsig toe ds. John Murray die beroep aangeneem het wat op 12 Februarie 1849 op hom uitgebring is. Toe die beroep uitgebring is, staan die volgende treffende woorde wat aan hom geskryf sou word, in die notule aangeteken: “. . . en wij vertrouwen dat u WelEerw. de goedheid zal hebben om deze ons plegtig en eenparig roeping te willen aannemen, daar wij hebben u Wel. Eerw. Hier hoog noodig en wij hebben reden te geloven dat als de Heer in genade u WelEerw. mogte u daartoe bewilligen uwe arbeid zal hier veel gezegend worden.”

Die kerkraad is nie in sy verwagting teleurgestel nie. Ds. Murray het hom die beroep laat welgeval en die plegtige bevestiging het op 26 Mei 1849 plaasgevind. Ds. A. Murray van Graaff-Reinet, vader van ds. John Murray, het ’n treffende rede uitgespreek na aanleiding van Hebr. 13:17. By die geleentheid was ook teenwoordig ds. John Taylor van Cradock, ds. John Pears van Somerset-Oos en ds. Andrew Murray jr., ’n broer van ds. John Murray. Die feit dat vader en twee seuns in die evangeliebediening aan die verrigtinge deelgeneem het, het ’n besonder diep indruk op die gemeente gemaak. ’n Berig lui: “Deze heilige inzegening was een gezigt van geene gewone belangstelling.”

Bou van die pastorie

Nog voor Ds. Murray se koms is daar besluit om die bou van ’n pastorie uit te stel. Dit blyk die kerkraad wou eers wag tot ’n vaste leraar bevestig is voor gebou sou word. Drie maande na dié besluit is ds. Murray bevestig en op sy vergadering van 3 September 1849 het die kerkraad besluit om die bou van die pastorie aan A. en D. Hockley van Cradock op te dra teen ’n bedrag van 18 973 riksdaalders. Hierdie gebou sou 75 jaar lank as pastorie gebruik word. Ds. Murray is in 1850, die jaar na sy aankoms, op Burgersdorp in die huwelik bevestig met mej. Maria Ziervogel van Somerset-Oos.

Gereelde arbeid in die gemeente

Dit was eers meer as twee jaar ná die stigting van die gemeente dat daar met die gereelde bearbeiding ’n aanvang geneem kon word. Die geestelike toestand in die gemeente was dus nie in alle opsigte soos dit behoort te wees nie. Die opkoms na die eredienste was wel bevredigend, maar tog ook teleurstellend, want terwyl daar by ’n nagmaalsgeleentheid soms tot 2 000 toehoorders was, was die getal Nagmaalgangers egter net 100. Die konsulent het van die begin af ook ’n Engelse diens gehou en ds. Murray het daarmee voortgegaan. Huisgodsdiens is byna deur alle huisgesinne waargeneem. In sommige huise is daar egter van formuliergebede gebruik gemaak.

Ds. Murray het hom veral op geestelike arbeid toegelê en daarom wou hy so graag ook bidure in die gemeente tot stand bring, maar dit wou nie eintlik posvat nie. In die godsdiensverslag van 1850 sê ds. Murray dan ook die volgende omtrent die bidure : “Algemeen echter is het moeilik dezelve in te voeren daar de eigenaardige denkwijze welke in deze gemeente heerschende is eene bijzondere hinderpaal in den weg stelt.” Die eienaardige denkwyse is veral aangetref by die persone wat ook teen die sing van die gesange gekant was. Dit was die Dopper-element, soos dit in die gewone spreektaal uitgedruk word.

Aliwal-Noord

Burgersdorp se bewoners het nie daarvan gehou dat daar ’n dorp te Buffelsvlei (die latere Aliwal-Noord) ontwikkel nie. ’n Berig in De Zuid-Afrikaan van 8 November 1849 lui dat die heer Montagu ’n besoek aan Buffelsvlei gebring het “ten einde de voorgenomen stad aldaar in oogenschouw te nemen van welke nooit iets zal worden”. Die berig gaan voort deur te sê dat daar veel teen Burgersdorp gesê en geskryf is en dat die ander plek in groot mate aan die publiek opgedring is. Daar was egter niks aan die saak te doen nie en in 1850 het sake al so ver ontwikkel dat die bewoners om ’n afsonderlike gemeente by die kerkraad aansoek gedoen het. Die kerkraad het die aansoek gesteun, maar die Ring het geoordeel dat dit wenslik is om weens die Grensoorlog en ander omstandighede die stigting van ’n gemeente voorlopig uit te stel. Eers in 1852 is Aliwal-Noord tot ’n afsonderlike gemeente gestig. Vier jaar later is die tweede dogtergemeente, naamlik Dordrecht, gestig.

Aankoop van ’n orrel

Daar word nie gesê wie die voorsinger in die gemeente was nie, maar dit is eenmaal so dat elke gemeente graag ’n orrel wil hê. In die vergadering van 5 Junie 1853 het die kerkraad op versoek van talle lidmate planne beraam om ’n orrel aan te koop. Deur middel van kollektes as andersins is geld ingesamel en in September 1854 het die kerkraad besluit om ’n orrel te bestel. Dit was egter eers drie jaar later (1857) dat die orrel aangekom het.

Daar is nie dadelik ’n orrelis aangestel nie en die heer G. Sichel het sy dienste gratis aangebied. Aan die begin van 1859 moes hy egter sy dienste opsê en die kerkraad het hom baie bedank en dit was net ’n tydjie vantevore dat hy ’n beurs van £20 ontvang het as erkenning vir sy dienste. Ná hom is J. van Staveren in 1860 as eerste orrelis aangestel. Hy het egter nie lank aangebly nie en Sichel het weer as orrelis ageer.

Ds. Murray vertrek

In die Sinode van 1857 is ds. Murray tot Assessor gekies en tydens dieselfde Sinode is hy ook tot professor van die Kweekskool beroep. Hierdie beroep het hy aanvaar en na ’n negejarige bediening het hy op 31 Januarie 1858 afskeid geneem van die gemeente. Volgens ’n berig in De Kerkbode het die kerkraad by die geleentheid dr. Servaas Hofmeyr van Colesberg as konsulent benoem. Dit was onwettig, want die Ring of Ringskommissie moes konsulente benoem. Nietemin, dit is nie as ’n wederregtelike daad beskou nie en van ringsweë is daar ook nie beswaar gemaak nie.

Daar was ’n groot opkoms vir die afskeidsgeleentheid. Die kerk was heeltemal te klein en alles het getuig van die liefde en toegeneentheid vir die leraar. Nie alleen was die gemeentelike bywoning goed nie, maar as verdere bewys van die hoë agting waarmee ds. Murray bejeën is, het daar ook mense van Aliwal-Noord, Smithfield, Cradock, Dordrecht, Queenstown, Colesberg en Middelburg gekom. Die afskeidsrede was na aanleiding van Fil. 1:27 vir die volwassenes en oor 1 Joh.: 28a vir die kinders. ’n Berig in die Albert Times, 9 Januarie 1858, deel mee dat die gemeente met blydskap aan ds. Murray £80 gegee het om die koste van sy vertrek te help bestry. Dit is egter nie as die gewone gemeentelike beurs beskou nie, want die dag ná die afskeid het daar volgens De Kerkbode ’n pragtige gebeurtenis plaasgevind: Op Maandag, 1 Februarie, voor ds. Murray sou vertrek, het die kerkrade van Burgersdorp, Aliwal-Noord en Dordrecht vir laas saam na die pastorie gegaan en ’n adres saam met ’n beurs van £190 aan ds. Murray oorhandig. Die gebaar het ds. Murray sekerlik diep geroer waar die dogtergemeentes saam met die moedergemeente ’n tasbare blyk van hul waardering vir sy dienste gegee het. Nogeens het die skare in die kerkgebou vir ’n godsdiensoefening saamgekom en daarna is ds. Murray en sy gesin ses myl ver deur ’n groot aantal lidmate gesel en uitgeleide gedoen.

Gedurende sy verblyf te Burgersdorp is ds. John Murray diep getref deur die onkunde van die jong mense van die gemeente; dus het hy dadelik die opstel van twee boeke ter hand geneem, naamlik De Kinderbijbel en Het Catechesatie Boek, wat bedoel was om kennis van die Bybel en van die leer van die Ned. Geref. Kerk te verbrei. Hierdie twee boeke, soos prof. N.J. Hofmeyr later tereg gesê het, het ’n geseënde verandering in die godsdiensonderwys van die jeug van Suid-Afrika gebring. Later het hy verskeie ander stigtelike werke gepubliseer, onder meer Het Huisaltaar, De Volksprediker ens., wat almal geskryf is met die doel om eenvoudige maar nuttige leesstof te verskaf vir hulle wat weinig voorregte geniet het en wie se voorraad Ieesstof uiters gering was.

Ds. Murray was nederig, toegewyd en bekwaam en ’n ware sielesoeker. Hy kon die Woord met krag en oortuiging verkondig. Veral was dit die kenmerk wanneer by van Gods heiligheid getuig en by sy hoorders volgens Gods heilige eis op bekering en heiligmaking aangedring het. Hy het ’n konsensieuse pligsbesef met ’n helder en nugter verstand in innige godsvrug gepaar.

Besadig van geaardheid het hy alle oordrywing gesku. Hy was nie bekend as ’n stryder nie en daarom beskryf eerw. Andries Dreyer hom as volg: “Als anderen vol vuur te wapenen liepen en in de bresse sprongen, dan zag hij dit rustig aan, en ging voort met het opbouwen der muren van de gevallen vesting. Hij hanteerde niet het zwaard, maar de trof fel. Hij was niet krijgsman, maar arbeidsman.”

As professor aan die Kweekskool het hy groot invloed op sy studente uitgeoefen en prof. Hofmeyr het getuig dat hy die benoeming as professor aanvaar het omdat hy geweet het wat dit vir hom sou beteken om saam met prof. Murray as hoogleraar op te tree. Aan ons volk het hy die Kinderbybel gelewer, wat van besondere betekenis was, asook sy Katkisasieboek wat nog dekades lank gebruik is.

Tweede en latere predikante

Tydens die vakature ná ds. Murray se vertrek word hy bedien deur di. Servaas Hofmeyr van die NG Gemeente Colesberg en William Murray van Middelburg as respektiewe konsulente totdat aan die begin van 1862 ds. William Cormack, ook ’n Skotse predikant, wat na Suid-Afrika gebring is deur dr. William Robertson, hier bevestig word. Hy dien die gemeente sowat 33 jaar lank met teogewydheid, toe hy sy ontslag in 1895 verkry. Hierna het hy te Rustenburg, Rondebosch, gaan woon en was aan sy dood die oudste predikant in die NG Kerk.

Ds. Cormack se opvolger was ds. Helgard Müller, wat die gemeente slegs ’n jaar lank dien, dog met voortreflike ywer. Hy is in die kerkhof begrawe. In Julie 1898 word ds. H.W. Geyer hier bevestig en dien die gemeente meer as twee dekades. Hy het hom veral beywer vir opvoeding en deur sy toedoen is ook die kerkgebou in Desember 1913 daargestel teen ’n koste van £16 250. Dis geheel van klip gebou in die Romaanse styl. Dié gebou is destyds beskou as een van die sierlikste kerke van enige kerkverband in Suid-Afrika en is vandag nog ’n sieraad vir die dorp. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante

  • John Murray, 1849–1858, waarna ‘n eerste hoogleraar aan die Kweekskool
  • William Cormack, 1862–1896 (emeriteer, oorlede op 6 September 1924)
  • Hendrik Wilhelm Geyer, 1898–1930 (emeriteer)
  • Christiaan Jacobus Liebenberg, 1921–1926
  • Antonie Christoffel Stegmann, 1931–1941
  • Hendrik Vrede van Huyssteen, 1941–1942
  • Pieter Nicolaas Viljoen de Lange, 1941–1944, 1951 – 5 Junie 1958 (saam met sy vrou oorlede in ‘n motorongeluk by Vanwyksrus)
  • Wessel Charles Oswald du Toit, 1945–1951
  • Andries Groenewald, 1956–1959
  • Jacobus Francois Myburgh, 1959–1961
  • Andries Daniël Schutte, 1961–1975[4]
  • Andries Pretorius Kilian, 18 Februarie 1972–1976
  • Dr. Barend Jacobus (Ben) du Toit, 1978–1981
  • Louw, Paul Louis, 1980–1989
  • Johannes Arnoldus Jansen van Vuuren, 1982–1987
  • Kobus Kloppers, 3 September 2016 – hede