
gestig
2 Maart 1942
ring
Ring van Ermelo
adres
H/v Wall- en Hoystraat, Breyten
sluit in
Breyten
eerste predikant
Dr M W Retief
Die NG Gemeente Breyten is ‘n gemeente in die Oostelike Sinode.
Die dorpie Breyten wat in 1906 gestig is, was jare gelede ’n besige spoorwegstasie, en was vroeër ’n wyk van Ermelo gemeente. Reeds in 1937 is ’n kerksaal op Breyten, op die hoek van Wall- en Hoystrate, gebou, met die hulp en ondersteuning van die Ermelo-gemeente. Die hoeksteen hiervan is deur ds N Veltman gelê.
Alhoewel daar deurentyd sprake was van die stigting van ’n eie gemeente, was daar onsekerheid en teenkanting, aangesien die mynwerkers en Spoorwegwerkers nie goeie salarisse gekry het nie, en die boere ook nie juis welvarend was nie. Die gemeente word egter op 2 Maart 1942 olv die destydse Ring van Ermelo gestig, die eerste kerkraadslede is verkies en die gemeentegrense vasgestel. Spoedig word ’n pastorie, op die hoek van Furse- en Van Riebeeckstrate, aangekoop.
Die vierde beroep uitgebring, en wel op 27 Maart 1943, val op Ds M W Retief van Nkana, en hy neem die beroep aan. Hy word op 5 Junie 1943 bevestig as eerste leraar van Breyten gemeente.
Tydens die vergadering van 22 Februarie 1946 word die moontlikheid ge-opper om die kerkgebou van die Wesleyaanse Kerk aan te koop.
Ds Retief verlaat die gemeente in 1947 en op 21 Junie 1947 word Ds F P Myburgh van Rustenburg-Noord beroep. In 1949 word besluit om die bestaande kerksaal in ’n kerkgebou te omskep. In 1950 word die nuwe kerkgebou in gebruik geneem en drie jaar later word die kleiner kerkgeboutjie aan die OAK verkoop teen 1100 pond. Op 30 Oktober 1954 word die kerksaal regoor die kerkgebou ingewy.
Op 22 Mei 1954 word Ds F J Botha as leraar bevestig en op 16 November 1957 word Ds R L Cronje as leraar bevestig. Hy word op 19 November 1961 deur Ds HGL Burger van Thabazimbi opgevolg. Nadat Ds Burger sy emeritaat aanvaar het, word Ds E M van Graan van Ohrigstad op 19 Februarie 1978 as leraar bevestig.
In 1980 word ’n nuwe pastorie op die hoek van Wall- en Hoystrate gebou. Ds van Graan se gesondheid verswak en in 1992 ontvang hy ook sy emeritaat. Proponent Marius Smit begin op 18 Mei 1992 aflos op Breyten en word in Oktober 1993 as leraar bevestig. Intussen word die Spoorweg gesluit, werkers trek weg en meer pensioenarisse trek na Breyten, omdat behuising goedkoop is. Finansieel trek die hele gemeenskap van Breyten baie swaar. In 2005 word Ds Marius Smit losgemaak van die gemeente en hy aanvaar ’n onderwyspos in Ermelo, maar bly aan as pastorale hulp, en tans as tentmaker, by NG Gemeente Breyten. (Geskryf deur Alta Roux).
Predikante
- Malcolm Wilhelm Retief, 1943-1947
- Frederik Petrus Myburgh, 1947-1952
- Frederik Johannes Botha, 1954-1957
- Roelof Lodewicus Cronje, 1958-1961
- Henry Guise Laurie Burger, 1961-1977
- Edwin Mattheus van Graan, 1978-1992
- Marius Stephanus Smit, 1993-