gestig
16 Mei 1951
RING
George
ADRES
Napierstraat 9, Blanco
SLUIT IN
Blanco en George (deels)
EERSTE PREDIKANT
G A Botha
Geskiedenis
Die geskiedenis van Blanco is nou verwant aan Henry Fancourt White, wat in 1811 in Yorkshire, Engeland gebore is. Hy het in 1820 na Suid-Afrika verhuis, saam met sy ouers, as Britse Setlaars. Hy het as landmeter gewerk en is later na Australië waar hy verdere kennis van padbou opgedoen het. Henry Fancourt White is deur majoor Mitchell, Landmeter-Generaal van die Kaap Kolonie ingevoer om in beheer van die bou van die Montagupas te wees. Ongeveer 250 bandiete het in 1844 begin met die bou van die pas. Hulle is in twee kampe gehuisves, waar die tolhuis vandag is en die tweede kamp was hoër op nader aan die kruin van die berg. Die hoofkwartier van die bouery was geleë waar Blanco vandag is. Ter ere van die knap stuk werk wat onder Henry Fancourt White se bekwame leiding in 1847 voltooi is, het John Montagu voorgestel dat die klein nedersetting wat aan die voet van die pas ontwikkel het, genoem word “WHITE of WHITE’S VILLAGE”. Hierdie naam is later verander na Blanco. Henry Fancourt White koop die grond aan die voet van die bergpas na voltooiing van die pas en in 1865 verdeel hy die 370 morg, en verkoop dit aan Frances Cook, die res word in erwe opgesny en die klein dorpie word aangelê. Henry Fancourt White bou ‘n dubbelverdieping grasdakhuis op sy eiendom wat hy Blanco House noem. Na sy dood in 1866, word sy eiendom verkoop en staan tot vandag toe nog bekend as Fancourt – vandag wêreldwyd bekend vir sy gholfbane. Na die opening van die pas, is baie mense na Blanco gelok en talle florende handelspraktyke het hier ontstaan. Dit was op die poskarroete tussen Port Elizabeth en Kaapstad, ‘n besige roete wat bloeiende handel verseker het. Blanco het op ‘n stadium selfs ‘n kollege gehad, genoem die “Newton Institute”.
Die Blancogemeente was tot 1951 lid van die groter NG Gemeente George (nou Moedergemeente). Vroeg reeds is kerklike byeenkomste in ‘n klein, ondoeltreffende kerksaal op Blanco gehou. Leraars van die Moedergemeente het gereeld eredienste in die saaltjie gehou. Die leraars ds HF Heymans, ds G Lochner en ds CWI Pistorius het ‘n versiendheid in die geskiedenis van die Blancogemeente gehad met die afstigtings van 1950 tot 1951. Die Vleie stig reeds in 1946 af, daarna volg Outeniqualand en George-Suid in Mei 1950 en op 16 Mei 1951 die Blancogemeente.
Afstigting van Moedergemeente
Vroeg in 1951 besluit die Moedergemeente op voorstel van broer JJC Lamprecht en ds HF Heyman dat ‘n proponent in die wyke Blanco en Geelhoutboom geplaas sal word vir intensiewe bearbeiding met die oog op afstigting. In Feb. 1951 word proponent GA Botha, hulpprediker op George in Blanco geplaas met die opdrag om lidmate voor te berei vir afstigting van die Moedergemeente.
Finale Afstigting: 16 Mei 1951
Op 16 Mei 1951 het 520 lidmate die Moedergemeente verlaat om die NG Blancogemeente te vorm. As bruidskat het die gemeente van die Moedergemeente ontvang: ‘n Kontantbedrag van £7000 met drie eiendomme. Onder meer ‘n primitiewe en bouvallige kerksaal op Blanco en ‘n eiendom op Geelhoutboom.
Eerste Kerksraadvergadering
Die eerste Kerkraadsvergadering word op 5 Junie 1951 onder voorsitterskap van ds CWI Pistorius gehou. ‘n Bankrekening word geopen en Prop GA Botha word as voorlopige skriba/kassier aangestel, JP Vosloo as koster met ‘n salaris van £1 per maand en H van ECK as orrelis teen £5 per maand.
Direk na afstigting is ‘n perseel ten bedrae van £750 aangekoop van mnr Danie Barnard asook twee stukke grond vir toekomstige uitbreiding. DA Gerber kry reeds tydens die eerste kerkraadsvergadering opdrag om ‘n nuwe kerksaal te bou met ‘n koste van £5425. Broers JJC Lamprecht, SS Lamprecht en NC van Rensburg word as Boukommissie aangestel.
Eerste Gekombineerde Kerkraadsvergadering 12 Junie 1951
Tydens die eerste gekombineerde kerkraadsvergadering, onder voorsitterskap van ds JG Lochner, word Prop GA Botha beroep as eerste leraar van hierdie gemeente met ‘n jaarlikse salaris van R1000 (plus lewenskoste) en R400 reiskoste per jaar.
Eerste Leraar
Ds GA Botha word op 4 Augustus 1951 as eerste leraar bevestig deur ds JJ Wasserfall. Op 19 Augustus 1951 word die eerste Nagmaal in die nuwe gemeente bedien deur ds GA Botha.
Nuwe Kerksaal
Die hoeksteen van die nuwe kerksaal word op 29 September 1951 gelê deur ds GA Botha en op 15 Desember 1951 word die kerksaal amptelik ingewy.
Bou van nuwe Pastorie
Die behoefte aan ‘n nuwe pastorie vir die eerste leraar het gelei tot ‘n besluit deur die kerkraad op 19 November 1951 om mnr D.A. Gerber te vra om te begin met die bouproses. Die pastorie is ten bedrae van £4326 opgerig en word dan op 14 Junie 1952 ingewy.
Blanco bou kerk
Reeds tydens die dienstyd van ds G.A. Botha is ‘n kerkboufonds gestig. Op 11 Augustus 1954 verwoord hy die gemeente se gevoelens as volg: “In ons almal se harte lewe daar die verlange om ‘n kerkgebou op Blanco op te rig tot eer van die Here. So ‘n kerkgebou kom nie vanself tot stand nie. Daar moet gebid word en gegee word, en soms ook gepleit word.” ‘n Kerkboufonds word reeds op 11 Augustus 1954 gestig. ‘n Bedrag van £500 sal jaarliks van die dankfeeste geneem en belê word.Op 14 Maart 1973 word ‘n stuk grond van H.J. Scholtz gekoop vir die bedrag van R1500 vir die oprigting van ‘n kerkgebou. Die argitekte Smit en Fraser word aangewys om planne vir ‘n kerkgebou op te trek. Die Kerkkommissie versoek hierna vir Martin Weideman, destydse diaken, om ‘n tender in te dien vir die projek. Martin was aanvanklik baie onseker oor die groot projek, want hy was eintlik bekend as ‘n bouer van kleinerige huise. Die volgende Sondag is hy en sy vrou, Annatjie, kerk toe en die preek handel toe oor die opbou van die mure van Jerusalem deur Nehemia. Tydens die erediens het hy die gemoedsrus en sekerheid ontvang dat die projek nie te groot vir hom was nie. Op 11 Desember 1973 word die tender van Martin Weideman vir die bedrag van R98 311 aanvaar en op 16 Februarie 1974 word die Sooispitseremonie afgehandel. Hierdie bouprojek het soos enige bouprojek ook sy kwota probleme opgelewer. Tydens die bouproses moes die span op ‘n Vrydag die agterste muur en die nok uitbou vanaf hoenderstellasies tot op ‘n hoogte van ongeveer 10 meter. Die proses is met ‘n groot gesukkel teen 21:00 voltooi en daar is met vreugde huiswaarts gekeer, nog ‘n mylpaal is bereik! Soos dit maar dikwels gebeur in George, begin die bergwind Vrydagnag met ‘n sterk spoed oor die omgewing te waai en Saterdagoggend het daar ‘n wrede ontnugtering op Martin gewag. Die 10 meter hoë muur het omgewaai! Genadiglik het die muur na die binnekant van die gebou geval met geringe skade. Die versekeringsmaatskappy het ‘n bedrag van R875 uitbetaal vir die skade. Ds JR Müller het die hoeksteenlegging op 12 Oktober 1974 waargeneem. Die kerkgebou was al in ‘n gevorderde stadium van die bouproses en die kerkklok alreeds gemonteer toe Ds JR Müller vir hoër diens opgeroep is. Daardie dag het die kerkklok in die middel van die week gelui om die hartseer boodskap van sy afsterwe op 18 Augustus 1975 aan te kondig. Die proses om die glasveseltoring bo-op die uitgeboude deel van die toring bo die klok te monteer, het Martin baie hoofbrekens besorg. Daar moes stellasies gebou word wat hoër as die klok was, om sodoende die glasveseltoring op te hys en met die hulp van ‘n katrolstelsel is die paswerk uiteindelik voltooi. ‘n Skietlood is gebruik om hierdie proses perfek af te rond. Geen helikopters of hyskrane was beskikbaar vir die vernuftige stukkie werk nie. Die naweek van 15-16 November 1975 is die kerkgebou met groot dankbaarheid ingewy. Die Sondagmiddag om 15:00 het die konsulent, ds JJ Hattingh die jubelende gemeente voor die hoofingang verwelkom en ‘n gebed gedoen. Na die sing van Psalm 46 oorhandig Martin Weideman die kerksleutel aan die argitek, mnr. Smit, waarna die kerk oopgesluit word en almal die kerk binnegaan. Broeder BB van Greunen het die Kanselbybel – en boeke aan ds JJ Hattingh oorhandig. Die kerkklok is deur Martin Weideman en een van sy kliënte, ‘n Libanees, Richard Shamley, geborg. Die hout vir die preekstoel is deur Koos Lamprecht geskenk en Bertus Pretorius het die kansel gemaak.
Predikante
- Gerhardus Alfred Botha, 1951 – 1960
- Daniel Wynand Malan, 1961 – 1972
- Justus Raymond Muller, 1972 – 1975
- Willem Greeff, 1976 – 1993
- Johan Potgieter, 1994 – 1997
- Daniel Francois Marais, 1986 – 2006
- Cornelis Johannes Pretorius, 1998 – hede
- Nicolaas Francois Smit Mulder 2006 – hede