Gestig
16 Mei 1820
Ring
Beaufort
Adres
H.v. Kerk- en Donkinstraat, Beaufort-Wes
Sluit in
Beaufort-Wes en distrik
Eerste predikant
John Taylor (1818-1824)
Die NG Gemeente Beaufort-Wes, gestig op 16 Mei 1820, is die negende oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Sinode van Wes-Kaapland en die 12de oudste in die hele Kerk.
Hoewel die NG gemeente Somerset-Wes reeds in 1819 gestig is, word Beaufort-Wes se stigtingsdatum tradisioneel as 1819 aangegee en was die gemeente, toe gemeentes tot die middel jare 70 chronologies volgens stigtingsdatum in die Jaarboek van die NG Kerke gelys is, altyd die negende gemeente van die Kaapse Sinode met Somerset-Wes in die tiende plek.
Voorgeskiedenis
Veral om ’n einde aan wetteloosheid te bring, het lord Charles Somerset op 27 November 1818 in ’n goewerneursproklamasie die distrik Beaufort geproklameer, so genoem ter ere van sy vader, die hertog van Beaufort, na wie hy ook Port Port Beaufort en Fort Beaufort genoem het. Die nuwe distrik is saamgestel uit die oostelike deel van Tulbagh, die westelike deel van Graaff-Reinet en die strook land anderkant die Sakrivier, en is onderverdeel in 10 veldkornetskappe.
Benewens Beaufort, het dit dele ingesluit van die latere distrikte Prins Albert, Fraserburg, Willowmore, Aberdeen, Murraysburg en Victoria-Wes. Dit was dan ook in die praktyk die grense van die oorspronklike gemeente Beaufort, wat in 1869 die “-Wes” bygekry het ter onderskeiding van Port Beaufort en Fort Beaufort. Die geskiedskrywer George McCall Theal het na Somerset verwys as “the man who was rapidly covering the map of the Colony with the titles of his family”. Hy was die tweede seun van die hertog van Beaufort en ’n broer van die markies van Worcester. Daarom kry ’n mens die volgende plekname in die Kaapkolonie: Somerset-Wes, Somerset-Oos, Port Beaufort, Fort Beaufort, Beaufort-Wes en Worcester.
Gemeentestigting
Die uitbreiding van die NG Kerk, wat tot 1843 die besonderse rol van Staatskerk in Suid-Afrika vervul het, het nie altyd tred gehou met die volksplanting nie. Benewens die skaarste aan predikante – wat die Kweekskool is eers in 1859 gestig – was dit moeilik om sonder geld in die uitgestrekte en ylbevolkte binneland gemeentes te stig. Boonop was die staat in gedurige geldnood.
Teen die einde van die 18de eeu was daar net sewe gemeentes in die Kaapkolonie. Die eerste rondgaande hof van 1811 het roerend verslag gedoen oor die toestande in die afgeleë distrikte. Godsdiens en onderwys was in ’n toestand van verval, maar dit was merkwaardig dat daar onder omstandighede nog soveel tekens van beskawing was. Die kommissie het bereken dat van die sowat 34 000 kinders in die distrik Graaff-Reinet, waaronder ’n deel van die Koup en Nuweland toe geval het, hoogstens ’n honderdtal (sowat 0,3%) skoolonderwys ontvang het. Sterk op aanbeveling van dié kommissie is die gemeentes van George (1813) en Uitenhage (1817) enkele jare later gestig. Cradock het in 1818 gevolg.
Van skole was destyds so goed as geen sprake nie en die mense kon maar een of twee keer per jaar die paar honderd kilometer d met die ossewa aflê na die naaste kerk op Graaff-Reinet, Tulbagh, in die Paarl of Kaapstad. (Worcester sou eers in 1821 afstig.) By die eerste kind in Beaufort se oudste doopboek (1818–1827) staan “gedoopt 2 Febr. 1819 aan de Paarl”. Eers vanaf April 1819 is op Beaufort gereeld kinders gedoop. Van behoorlike geestelike bearbeiding deur die Kerk was daar so te sê geen sprake nie.
Ds. John Taylor se dienstyd
In hierdie tyd het ’n paar sendelinge van die Londense Sendinggenootskap hulle losgemaak van dié genootskap en leraarsposte in die NG Kerk aanvaar. Onder hulle was ds. John Taylor, vroeër leraar van die Presbiteriaanse Kerk in Skotland. Lord Charles Somerset was maar te gretig om van hulle gebruik te maak om in die heersende nood aan predikante te voorsien en sy plan om die NG Kerk te verengels, stukrag te gee. In dieselfde proklamasie waarin die stigting van die distrik Beaufort aangekondig word, is ook kennis gegee van die aanstelling van ds. Taylor as predikant van dié distrik.
Vroeg in Desember 1818 het ds. Taylor hom op Beaufort gevestig en sy werksaamhede begin. Hy moes nie slegs wit lidmate besoek en bearbei nie, maar ook die gekleurdes en saam met die landdros toesig hou oor die pas gestigte nedersetting op Kookfontein, wat gestig is as nedersetting of reserwe om die rondtrekkende inboorlinge te beweeg om hulle binne die grense van die Kolonie te vestig en ’n gevestigde lewenswyse aan te neem. Hy moes dus predikant sowel as sendeling vir ’n gebied so groot soos Nederland wees.
Omdat die regering veral van hom verwag het om mense in die distrik op te soek, was ds. Taylor se taak byna bomenslik en onmoontlik. Boonop was daar geen spoor van die “decent dwelling” wat die regering aan hom en sy gesin beloof het nie. Hy moes ’n derderangse huisie met ’n ander gesin deel. Daar was ook geen kerkgebou nie. Sir John Fraser het later vertel dat sy vader, ds. Colin Fraser, die tweede predikant, as kind vir hom vertel het: “Religious services were held at a poplar tree near where the present dam wall is; the church, a tent of wagon sails.”
Eers in 1820 kry die gemeente verlof om die dienste in ’n woonhuis van kmdt. Abraham de Klerk te hou. Toe Mary Moffat, die dogter van die sendeling Robert Moffat en later die vrou van die ontdekkingsreisiger David Livingstone, Beaufort in Februarie 1820 besoek, beskryf sy die plek waar ds. Taylor dienste moes hou “as only a room in a farmhouse, with two beds in it. I have been in many odd-lookig places, but never saw one like that.”
Herhaalde vertoë van die kerkraad “tot ‘t opbouwen van een simple gebouw dienende tot een kerk” het steeds op dowe ore by die owerheid geval en toe ds. Taylor in 1823 na Cradock verplaas is, het die gemeente nog geen kerkgebou gehad nie. Voorts het die goewerneur gereken die geaardheid van die distrik was van so ’n aard dat geskikte persone om die pos van diaken of ouderling te beklee, nie gevind sou kon word sodat ds. Taylor meer as anderhalf jaar sonder ’n kerkraad oor die weg moes kom. Soms was hy maande lank van die huis af weg met huisbesoek in die verskillende veldkornetskappe, want om almal van huis tot huis te besoek, sou minstens 18 maande duur.
Anderhalf jaar het ds. Taylor sy werk verrig sonder ’n kerkraad of gemeente in die kerkregtelike sin. Die eerste kerkraadslede, benoem deur die landdros van Graaff-Reinet, is op 16 Mei 1820 deur die goewerneur goedgekeur en op dieselfde dag is die gemeente Beaufort-Wes van owerheidsweë as gestig verklaar. Hierna is die eerste kerkraadsvergadering op 29 September 1820 gehou toe D.G.S. de Beer die eerste diaken-kassier was. Die eerste koster was ene Frylinck. Reeds in November 1820 besluit die kerkraad om vier maal per jaar Nagmaalsfees te hou.
Ds. Colin Fraser se dienstyd
Op 18 Desember 1824 sit ds. Colin Fraser voet aan wal in Tafelbaai. Hy was, soos sy voorganger, ’n Skot en sou die gemeente 38 jaar bedien, die langste van al die gemeente se leraars. Lord Somerset stel hom dadelik aan op aandrang van die Britse sekretaris van kolonies, graaf Bathurst, as leraar van die toe reeds jaar lange herderlose gemeente Beaufort. Hier het ds. Andrew Murray sr. van die gemeente Graaff-Reinet hom op 19 Januarie 1825 bevestig as opvolger van ds. Taylor, wat Cradock se eerste predikant geword het.
Ds. Fraser het sy eerste kerkraadsvergadering in Februarie 1825 bygewoon toe besluit is om ’n versoek aan die goewerneur te stuur en hom te vra om ’n kerk op Beaufort te bou met bystand van 10 000 riksdaalder omdat voorlopige kerk omtrent 80 mense kan bevat en met Nagmaal baie mense verhinder word om in te kom en buite die kerk moet bly. Die goewerneur kon dit nie toestaan nie aangesien die geld van die Weeskamer ontoereikend was. Die kerkraad verkry toe toestemming van landdros Andries Stockenström van Graaff-Reinet om ’n kollekte vir die bou van ’n kerk te hou.
Teen Desember van daardie jaar het die rondgaande kollektebrief, wat aan elkeen van die veldkornette gestuur is, reeds 3 227 riksdaalders opgelewer. Tesame met ’n bedrag in die kerkkas was daar nou 7 522 riksdaalders (sowat £578 12s.) beskikbaar en die goewerneur het dadelik toestemming verleen dat hulle maar kon begin bou. Eers het die kerkraad geskat dat die som genoegsaam sou wees, maar later het fyner berekening laat blyk die gekollekteerde bedrag was te min om ’n kerk van voldoende grootte te bou.
Nadat die kerkrade van die gemeentes Kaapstad en Tulbagh nie bereid was om Beaufort met ’n lening van tussen vyf en agt duisend riksdaalders te help nie, is in Maart 1826 besluit om ’n tweede kollektetoer deur die gemeente te onderneem “voor vee als gereed geld”. Op ’n gemeentevergadering enkele maande later het verskeie manslidmate hul naam op ’n intekenlys gesit ten behoewe van die kerkboufonds. Ds. Fraser het bereken die kerk sou sowat 13 150 riksdaalders (sowat £1011 10s.) kos. Hoewel die boufonds toe nog nie dié bedrag bereik het nie, het die kerkraad in Julie 1826 besluit om solank tenders te vra vir die lewering van klippe en gebakte stene. Die grondplan van die argitek C. Stritch is aanvaar en die diens van baasmesselaar Sandelands is bekom teen sowat £10 per maand met gratis huisvesting. Gerhardus du Toit moes namens die kerkraad toesig hou.
Op 16 Oktober 1826 is die hoeksteen plegtig gelê deur sir Andries Stockenström, landdros van Graaff-Reinet. Tydens sy toespraak, soos berig in Het Nederduitsch Zuid Afrikaansch Tydschrift van September tot Oktober 1826, het die landdros die menigte se aandag gevestig op die sigbare verandering wat in die inwoners se sedes ingetree het danksy die invloed van die godsdiens. Ds. Andrew Murray sr., wat die geleentheid kon bywoon omdat hy juis onderweg na Kaapstad was, het ’n preek gelewer en ná die sing van Psalm 132:3:
’n Geskikte timmerman kon nie gevind word nie en daarom moes die kerkraad afsien van die plan om die deure en vensters in ’n Gotiese styl te vervaardig. Dit is toe maar op die “gewoone wyze” uitgevoer deur timmerman W. Strümpher. Die gebou is van drie vleuels voorsien. Kort voor lank was die kontantgeld op en teen Desember 1827 is die kerkraad verplig om die bouery te staak en die goewerneur weer om geldelike steun te vra. Sy Eksellensie weier eers, maar in Oktober die volgende jaar staan hy ’n lening toe van 2 000 riksdaalders om die kerk te voltooi. Eers in 1830 kon die bouery afgehandel word. Geen rekord bestaan van die inwyding nie. Met die haelstorm op Goeie Vrydag 1831 is nie minder nie as 210 vensterruite van die nuwe kerk stukkend geslaan en het die kerkraad daartoe oorgegaan om die vensters deur die aanbring van hortjies te beskerm. Vyf jaar later is die nuwe preekstoel teen ’n koste van 1 000 riksdaalders in die kerk aangebring en die vensters van gordyne voorsien. Die argitek, C. Stritch, het die kerk in 1838 met ’n geskenk van drie lampe verryk.
Die kerkraad dit ernstig oorweeg om ’n toring aan te bou, maar toe dit blyk dat dit oor die 11 000 riksdaalders sou kos, en die kerkkas nie eens die rente op dié bedrag sou kon bekostig nie, is in Maart 1839 van dié idee afgesien. In 1843 het die kerk wel nuwe banke gekry en die nok van die dak, wat origens van strooi was, van sink voorsien. Die volgende jaar wou die kerkraad baie graag die gebou van ’n steen- of plankvloer voorsien, maar weer het ’n gebrek aan geld ’n stok in die wiel gesteek en moes die gemeente tevrede wees met die ou grondvloer.
Ds. Albert Zinn se kort dienstyd
Die vakature wat op 12 Januarie 1863 met die aftrede van ds. Fraser ontstaan het, het sowat twee jaar geduur. In dié tyd het die gemeentelike en geestelike lewe baie skade gely. Met die aanvaarding van die Ordonnansie van 1843 het die goewerneur nie meer predikante na willekeur aangestel en verplaas nie, want nou het die NG Kerk vryheid van bestuur ontvang en dit het onder meer beteken in die vervolg sou vrye verkiesing van kerkraadslede en beroeping van predikante deur die breë of gekombineerde kerkraadsvergadering plaasvind. Die eerste sodanige vergadering in die geskiedenis van Beaufort-Wes is onder voorsitterskap van die konsulent, ds. W.A. Krige van Victoria-Wes, gehou op 12 Januarie 1863 in die ou kerk om vir die eerste maal ’n leraar vir die gemeente te beroep.
Daar was wel nog verskil van mening of hulle wel tot ’n beroeping kon oorgaan omdat hulle nog nie die goewerneur se goedkeuring verkry het nie. Toe die stemme oor dié toetsvraag staak, het die kerkraad dit raadsaam geag om liewer vir eers van die beroep af te sien. Later is sekerheid verkry en op 9 Maart 1863 het die tweede gekombineerde kerkraadsvergadering byeengekom en is vir die eerste keer in die geskiedenis van Beaufort-Wes self ’n leraar beroep in die persoon van ds. Colin McKenzie Fraser, toe nog ’n teologiese kandidaat. Dié seun van ds. Fraser het die beroep bedank en was later jare lank leraar van Philippolis. Hy is beroep teen ’n salaris van £400, waarvan die regering steeds £200 sou bydra. Staatstoelae het eers in 1875 opgehou.
Hierna is vier onsuksesvolle beroepe uitgebring, onder meer op die later bekende dr. Andrew Murray. Eers die sesde beroep, op die jeugdige teologiese kandidaat Albert Zinn, op 4 April 1864 het geslaag. Tydens die lang vakature het eerw. Teske van die sendinggemeente die dienste waargeneem. In Julie 1864 hou prop. Zinn sy afskeidspreek in die Groote Kerk in Kaapstad en enkele weke later vertrek hy na Beaufort-Wes, waar hy op 20 Augustus 1864 georden en bevestig is. Die volgende dag het hy sy intreepreek gelewer met die tekswoord: “En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan dié wat naby was” (Ef. 2:17 1933-vertaling).
Ds. Zinn was van kleins af swak en tenger van gestel. Die veeleisende evangeliewerk was mettertyd vir die hardwerkende, toegewyde en ernstige leraar te veel. Ná ’n kort dienstydperk van net oor die twee jaar is hy hier op 15 November 1866 in die jeugdige ouderdom van 28 jaar oorlede. Die onmiddellike oorsaak van sy dood was ’n akute vorm van keelontstekeing waaraan hy etlike maande lank gely het. Sy laaste kerkraadsvergadering was op 2 Julie 1866. Hy moes kort daarna siek geword het. Toe die Ring in Oktober vir sy vergadering op Beaufort-Wes byeenkom, was sy stoel langs dié van ouderling C. Smith leeg. Blykbaar is die ergste toe nog nie verwag nie, want hy word in sy afwesigheid gekies as een van die lede van die Ringskommissie en kort voor sy dood is hy nog na Bethulie in die Suid-Vrystaat beroep. Kort hierna het sy siekte egter ’n skielike en onverwagte wending geneem.
Ds. Zinn se stoflike oorskot rus op die kerkgrond van die gemeente waar sy graftombe nog te sien is. As blyk van waardering vir sy toegewyde diens, het sy vriende ’n paar jaar ná sy dood ’n gedenksteen op sy graf laat aanbring met die inskripsie: “Die Graftombe is opgerigt door publieke Inteekening als een bewys van de liefde en achting waarin de overledene gehouden was te Beaufort gedurende zyne korte en getrouwe bediening door allen die zynen vroegen dood betreuren. Dood zynde spreekt hy nog.”
Ds. W.P. de Villiers se dienstyd
Toe ds. Willem Petrus de Villiers op Saterdag 18 April 1868 die herderstaf op Beaufort opneem, was hy maar 25 jaar oud en onervare, maar vol moed, krag en geesdrif. Hy het die geestelike en administratiewe werk in die gemeente met ywer en deursettingsvermoë aangepak. Veral het hy groot baanbrekerswerk in verband met die onderwys gedoen. Uit die staanspoor het hy, bygestaan deur die kassier, hom daarvoor beywer om die kerk se geldsake op ’n gesonde voet te kry. Met sukses maak hulle ’n begin om die kerkskuld af te betaal. Vir dié doel is vir die eerste maal in die gemeente se bestaan kerkbasaars gehou en selfs gewyde konserte. Teen Julie 1870 is die kerkskuld verminder tot £300 en daarna nog verder afgebring. Elke jaar in Januarie is gereeld verslag aan die gemeente doen band die geldelike stand.
Die kerkraad kon daartoe oorgaan om die kerkgebou op te knap, die pastorie van ’n broodnodige strooidak te voorsien en ook ’n lykswa aan te skaf (1870). Die kerkraad het in hierdie tyd, soos trouens nog lank daarna, baie las gehad van bankhuurders wat versuim het om hul bankgeld te betaal en waardeur die kerkkas etlike ponde skuld gely het. Ds. De Villiers was vasbeslote om dié mense die les goed te leer. Daar is eenvoudig besluit om korte mette met hulle te maak en voortaan sou almal die reg verbeur om ’n kerkbank te gebruik as hulle ’n paar jaar agtereenvolgens nie huur betaal het nie. Om verstaanbare redes het dit heelwat verset uitgelok, wat die taak van die bankmeester, C.G. Smith, so bemoeilik het, dat hy bedank het weens die vele onaangenaamhede wat dit vir hom veroorsaak het. Die koster, G. Davidtz, is toe gelas om die bankboek oor te neem.
In 1875 is op die ou plaas Schietfontein die dorp en gemeente Carnarvon gestig en kort daarna beroep die dogtergemeente ds. De Villiers, wat hom geroepe voel om die lidmate op Schietfontein te gaan help met die bou van ’n kerk, ’n pastorie, ’n nuwe gemeente en ’n nuwe dorp. Hy vra sy demissie by die kerkraad op 5 Julie 1875 aan en kry sy eervolle ontslag op Maandag 16 Augustus 1875. Die vorige dag het hy en die gemeente hartroerend van mekaar afskeid geneem.
Ds. Louis Hugo se dientyd
Ná die swaar afskeid van ds. De Villiers in Augustus 1875 was die gemeente sowat agt maande lank vakant en is ds. A.A. Louw van Murraysburg as konsulent aangestel in die plek van ds. W.A. Krige, wat die gemeente baie jare lank as konsulent gedurende meer as een lang vakature gedien het. Die derde beroep, wat op 29 November dieselfde jaar uitgebring is, op ds. Louis Hugo van Ladybrand, het geslaag. In die beroepsbrief is daar na die destydse ou pastorie verwys as “een wel ingerigte woning op een wel beplante water Erf gebouwd”. Ds. Hugo sou egter eers in April die volgende jaar aankom.
Tydens ds. Hugo se dienstyd, in April 1879 en wel op voorstel van die diaken P.J. Weeber (latere ouderling en parlementslid), het die kerkraad besluit om nie meer die swart fluweelsakkies vir kollektes by die erediens te gebruik nie, maar met borde by die deure te kollekteer. In April 1892 besluit die kerkraad dat die gewone eredienskollekye nie meer by die deure ná die erediens sou wees nie, maar voor die sing van die slotgesang in die banke opgeneem sou word. ’n Ander ou gebruik, om Nagmaal op Kersdag uit te deel, is in Desember 1877 afgeskaf.
Die ou kelkievormige preekstoel het intussen uitgediend geraak nadat dit die gemeente sowat 55 jaar gedien het. Dieselfde heer N.B. van der Westhuizen wat in 1868 die nuwe orrel geskenk het, het na vore gekom in April 1884 en bekendgemaak dat hy van plan was om ’n nuwe preekstoel aan die gemeente te skenk. Hy het sy voorneme kort daarna uitgevoer en ’n sierlike kansel geskenk wat die ou kerk sou oorleef en ook in die nuwe diens sou doen. Die skenker het dit beskou as ’n gedagtenis aan sy eggenote wat hom kort vantevore ontval het.
In 1877 is die pastorie herstel en opgeknap. Teen dié tyd moes noodsaaklike opknapping van die kerkgebou gedoen word. Die gemeenskap het reeds noustrop getrek, maar ’n spesiale kollekte en buitengewone kerkbasaar het die kerkraad darem in staat gestel om die nodigste herstelwerk in 1880 aan die kerk te laat doen. Daar is ook ernstig daaraan gedink om ’n ystertraliewerk om die kerkgebou te bou sowel as lampe aan te koop om die slegte stand van die beligting in ’n sekere deel van die gebou te verbeter. Teen dié tyd het die kerk ook veels te klein vir die groot gemeente geword en so vroeg as 1879 is die vergroting van die kerkgebou in die vooruitsig gestel.
Maar geeneen van dié planne kon vereers uitgevoer word nie. Die droogtes en die “drukkende tye” van die middel tagtiger jare was die vernaamste remskoen. Dit het in ’n stadium so swaar gegaan dat die salaris van die koster, orrelis en orreldrukker dit weer moes ontgeld. Ds. Hugo was grootmoedig genoeg om ’n deel van sy salaris af te staan sodat dié van die koster op die ou peil gehou kon word. In Oktober 1886 teken die skriba aan “dat daar geen geld in die kerkkas voorhande is nie”. Tog het die kerkraad die geloofsmoed gehad om ’n kerkboufonds in die lewe te roep in 1887. Aan die begin van 1889 word daar ewenwel nog gekla oor die steeds voortdurende skaarsheid van geld. Eers in die loop van die volgende jaar het die tye enigsins verbeter en van toe af aan is daar erns gemaak met die insameling vir die bou van ’n nuwe kerk, ’n saak waarvoor ds. Hugo alles in die stryd gewerp het.
Die kerkraadsnotule stel dit ongelukkig nie duidelik presies wanneer met die bou van die nuwe en teenswoordige kerk begin is nie. Die notule van 29 Februarie 1892 meld net terloops dat die bouwerk reeds aan die gang was. Die hoeksteen is reeds is Oktober van daardie jaar plegtig gelê. Op ’n foto wat tydens dié geleentheid geneem is, blyk die fondament van die nuwe gebou duidelik op die voorgrond, maar op die agtergrond is twee gewels en ’n gedeelte van die strooidak van die ou kerk nog sigbaar. Dié kerk is ruim 63 jaar lank as godshuis gebruik. Eers ná die hoeksteenlegging is die ou kerkgebou afgebreek en ook maar net ten dele, want twee galerye (onder andere die orrelgalery) is gelaat en later deel gemaak van die nuwe gebou en as sodanig word dit vandag nog gebruik. Nadat met die afbreek van die ou kerk begin is, het die kerkraad besluit om die eredienste in die plaaslike sendingkerk te hou. Van die Wesleyaanse gemeente is verlof verkry om met die Nagmaalsdienste van hul kerk gebruik te maak. Teen 15 Januarie 1894 het die nuwe kerk voltooiing genader en dra die kerkraad dit aan ds. Hugo op om dr. Andrew Murray van Wellington te vra om die wydingsrede met die inwyding te kom hou. Drie maande daarna is die nuwe kerkgebou verseker vir £8 000. Die formele inwyding het eers op 22 September 1894 plaasgevind.
Begin 1896 het daar ’n klagstaat teen ds. Hugo ontbrand wat die gemeentelike lewe groot skade berokken en ’n pynlike indruk by baie gelaat het. Einde Maart van daardie jaar het die Ringskommissie plaaslik kom ondersoek instel na die ontevredenheid wat daar bestaan het by vooraanstaande manne van die gemeente teenoor hul leraar. Op 30 Maart, terwyl dié ondersoek nog aan die gang was, het ds. Hugo dit gerade geag om die tuig as leraar van Beaufort-Wes neer te lê. Nietemin het die kommissie, ná ’n ondersoek van nege dae, die leraar skuldig bevind en hom voorlopig geskors, hangende die uitspraak van die Ring. Intussen het die gevoelens in die gemeente baie hoog geloop. Daar was nie net groot bitterheid nie; ’n skeuring het gedreig aangesien “een grootte helfte” van die gemeente dit vir ds. Hugo opgeneem het. Boonop het skuld van £7 000 op die nuwe kerk gerus.
Onder dié onverkwiklike omstandighede het ds. en mev. Hugo Beaufort-Wes op 30 Junie 1896 verlaat. Die landdros het die egpaar ’n paar woorde op die stasie toegespreek. Dié ongelukkige toedrag van sake kon die waardering vir die groot werk wat ds. Hugo hier verrig het, nie uithou nie. By sy vertrek het hy ’n geskenk van sowat £300 ontvang en “tranen werden gestort aan beide kanten”. Teen middel Julie het die storm begin bedaar en die geseënde spesiale dienste van ds. Johannes Rudolph Albertyn van Wellington het die gees van samewerking in die gemeente gelukkig laat herleef. Die Ring van Beaufort het in Oktober op Fraserburg byeengekom en het bevind dat ds. Hugo hom aan “onmatigheid” skuldig gemaak het. Hy het bogenoemde voorlopige skorsing van die beskuldigde deur die Ringskommissie bekragtig en besluit om hom onder kerklike sensuur te plaas vir ’n tydperk van nege maande.
Ds. Hugo is later herstel en het hom beroepbaar gestel waarna hy sowat 10 jaar lank tot 1907 met seën onder melaatses op Robbeneiland gewerk het. Daar is hy op 21 Augustus 1907 oorlede en begrawe. Die Kerkbode het na sy dood van hom getuig: “Hy was een man van groote gaven en hy gaf daarvan veelvuldige blyken in zyne bediening.”
Ds. Pieter van der Merwe se dienstyd
Ds. Pieter van der Merwe het in 1882 saam met nog vyf voornemende predikante hul studie aan die Kweekskool begin. In 1886 is hy gelegitimeer en is later getroud met ’n dogter van prof. John Murray van die Kweekskool en een van ds. Andrew Murray se vyf oorlewende seuns van predikant geword het. Sy skoonpa het hom dan ook al die jare getrou bygestaan in die bediening. Ná ’n paar maande as hulpprediker op Wellington het ds. Van der Merwe in 1887 ’n beroep na Britstown aangeneem, ’n gemeente wat toe maar tien jaar oud was. Hier is in 1892 ’n sierlike kerkgebou deur sy bemiddeling opgerig. In sy vierde diensjaar daar aanvaar hy die beroep na Beaufort-Wes.
Die moeilikhede wat uitgeloop het op die bedanking en vertrek van ds. Hugo het ’n jammerlike verdeeldheid teweeggebring en ’n langdurige vakature kon die gemeente onberekenbare skade berokken het. Onder die voorsitterskap van die konsulent, ds. G.A. Maeder, het die kerkraad in Mei 1896 sy eerste beroep uitgebring op ds. J.R. Albertyn van Wellington, dr. Andrew Murray se kollega aldaar. Hy het dit nie aangeneem nie. Kort daarna het hy wel ’n reeks baie geseënde spesiale dienste op Beaufort-Wes kom hou wat die regte atmosfeer vir versoening en toenadering in die gemeente geskep het. Nadat ook ’n tweede beroep op ds. J.A. Louw van Heidelberg, Transvaal, misluk het, is die wakkere en gewilde ds. Pieter van der Merwe van Britstown op 24 Augustus 1896 beroep. Hy het dit aangeneem en die herderstaf vroeg in November daardie jaar opgeneem.
Die nuwe predikant en sy vrou het Vrydagmiddag 6 November per trein aangekom, die eerste predikant van Beaufort-Wes wat nie buitekant die dorp met karre en waens begroet is nie. Hy is egter nie minder hartlik deur ’n groot skare by die stasie ontvang nie en kort hierna is hom die gebruiklike welkomsadresse by die pastorie aangebied.
In April 1899 het die kerkraad aan ds. Van der Merwe buitengewone verlof toegestaan sodat hy vakansie kon gaan hou in Europa. Die emeritus predikant ds. C.S. Morgan is genader om waar te neem, maar hy moes om die een of ander rede verhinder gewees het en toe het die kerkraad besluit om geen plaasvervanger te kry nie. Op die kerkraadsvergadering van Junie word ’n brief van die leraar uit Parys voorgelees. Met sy terugkoms uit die vreemde in Oktober is hy en sy vrou hartlik terugverwelkom en op 25 Oktober was ds. Van der Merwe weer op sy pos in die kerkraadsvergadering. Tydens sy afwesigheid was die plaaslike sendeling, eerw. P. Pienaar, behulpsaam met dienste. Die toegewyde steunpilaar-ouderling broer J.A.S. de Wet het in dié tyd die leiding geneem in die kerkraad.
Ds. Van der Merwe was skaars terug toe die oorlog tussen Groot-Brittanje en die Boererepublieke uitbreek. Dit het selfs ’n nadelige uitwerking op kerklike gebied op die aanliggende Kaapkolonie gehad. Kort voor lank het die een distrik na die ander die tirannie van Krygswet ervaar. Deur ’n proklamasie van 20 Desember 1900 is krygswet dan ook in die distrik Beaufort en omliggende streke uitgeroep. Natuurlik het die inperking van lidmate se persoonlike vryheid die bywoning van gemeentelike samekomste en dienste baie bemoeilik en later was dit heeltemal onmoontlik om kerkraadsvergaderings te hou. Byna twee jaar lank (Oktober 1900 tot Julie 1902) het die kerkraad van Beaufort nie vergader nie en is die kerklike opsig en tug net met die grootste moeite gehandhaaf.
Toe die berig van die Vrede van Vereeniging in Mei 1902 rugbaar word, was daar, by al die verliese wat dit vir die Boere ingehou het, nietemin ’n sug van verligting en dankbaarheid. Eers in Julie kon die kerkraad vir die eerste keer in byna twee jaar weer byeenkom en betuig die vergadering sy dankbaarheid uit vir die besondere voorregte wat die gemeente geniet het gedurende die oorlog en noudat die vrede herstel is.
Tussen die tragiese Boerefiguur kommandant Gideon Scheepers en Beaufort-Wes het ’n besondere band bestaan wat deur siekte veroorsaak is. Ernstig siek en liggaamlik uitgeput deur koorssiekte moes hy hom op 11 Oktober 1901 naby Prins Albert aan die vyand oorgee. ’n Week later is hy na Beaufort-Wes gebring en vanaf 19 Oktober tot 14 November in ’n tenthospitaal verpleeg. Dié markiestent het op die teenswoordige terrein van die Hoërskool Sentraal gestaan naby die rivier. Dis vanuit dié sogenaamde hospitaal dat hy verskeie kere aan sy weduwee-moeder op Middelburg, Transvaal geskryf het.
Blykbaar het die Engelse gevrees die Boere sou ’n poging aanwend om hom te bevry. Net twee maande nadat Gideon Scheepers hier op die trein gelaai is, is hy deur die vyand op Graaff-Reinet gefusilleer, ’n gebeurtenis wat Olive Schreiner destyds en baie ná haar diep betreur het.
Ná ’n besonder vrugbare dienstyd van sowat agt jaar, het hy ’n beroep na Boshof in die Vrystaat aangeneem. Dat die afskeid op 11 Desember 1904 die gemeente swaar geval het, blyk uit hierdie aanhaling uit De Kerkbode van 15 Desember van daardie jaar (hier uit die Hollands vertaal: “Ds. P. van der Merwe neem sy afskeid van die gemeente op Sondag, die 11de van vandeesmaand na aanleiding van ’n treffende rede oor Jehovah Jireh! Aan die einde van die voormiddagdiens word hom ’n hartelike adres met ’n goeie beurs (geldskenking) aangebied … Op Maandagnamiddag ontmoet ’n groot getal susters die predikantsvrou in die kerk en bied aan haar ’n adres met ’n pragtige silwergeskenk aan. Vandag, Dinsdag, verlaat hulle die plek waar hulle albei so getrou gearbei het en met besonder veel seën, onder veel trane en met die beste seënwense. Die Ring van Beaufort sal hierdie nederige, dog wakere dienskneg van die Here baie mis … Ds. P.J. Conradie is deur die kerkraad gevra om gedurende die vakature al die dienswerk hier te doen.
Ds. Van der Merwe het sowat agt jaar met ewe groot seën in die uitgestrekte gemeente van Boshof gearbei en word in 1912 aangestel as algemene sendingsekretaris van die Vrystaatse Kerk. Hy het groot bedrae geld vir die sending ingesamel danksy sy ywer en organisasievermoë en so die werk op ’n vaste grondslag geplaas. In 1925 dwing swak gesondheid hom om sy emeritaat te aanvaar. Hierna wy hy hom nog etlike jare aan spesiale evangeliepredikingswerk in die Kaapse Kerk, iets waarvoor hy in die wieg gelê is. In 1929 het hy vir oulaas ’n beroep aangeneem, na die Nuwekerk op Graaff-Reinet, waar hy werk tot hy in 1931 om gesondheidsredes verplig is om af te tree.
Genl. ds. Paul Roux se dienstyd
Die opvolger van ds. Van der Merwe was die merkwaardige kerk- en volksman genl. ds. Paul H. Roux. Ná die vertrek van ds. Van der Merwe het die kerkraad nie minder nie as sewe beroepe uitgebring. Die sewende is op 7 September 1905 op ds. Paul H. Roux van Senekal in die Vrystaat uitgebring. Hy is ook ’n paar maande vantevore beroep, maar het toe bedank. Dié keer het hy die beroep aangeneem. Tydens die vakature, wat byna ’n jaar geduur het, was die kerkraad gelukkig om die diens te vekry van ds. Conradie van Gideon (die latere NG Gemeente Mariental in Suidwes-Afrika). Op Vrydag 3 November 1905 is genl. Ds. Paul Roux en sy gesin hartlik deur die gemeente verwelkom. Ds. H.J.L. du Toit van Richmond het die bevestigingsrede uitgespreek.
Ds. Roux het baie sterk gevoel vir die opvoeding, veral in die praktiese handwerk- en ambagsrigting van die minderbevoorregte volksgenoot. Aangespoor deur die stigting van ’n paar bloeiende spin-en-weefskole in die Vrystaat deur Emily Hobhouse en ander ná die Anglo-Boereoorlog, het hy hom, ongelukkig sonder veel sukses, beywer vir die stigting van ’n soortgelyke skool op Beaufort-Wes. Daar is selfs op rekening van die kerkraad ses spinwiele aangekoop en ’n onderwyseres aangestel, maar die ondersteuning was so swak – slegs vier leerlinge – dat die hele onderneming gestaak en die skool gesluit moes word. Vir hom was dit ’n groot teleurstelling.
Maar veral was ds. Roux ’n vurige sendingman. Hy was deurdring van die dié waarheid: “’n Gemeente sal leef namate hy sendingwerk doen.” As lid van die Algemene Sendingkommissie het hy hom binne sowel as buite die gemeente vir die sending beywer. Toe daar byvoorbeeld in 1907 en 1908 deur middel van die kruistogte spesiale pogings aangewend is om die sendingfondse te styf, was hy een van die eerste wat sy medewerking aangebied het. Saam met ds. (later prof.) John du Plessis, dr. Andrew Murray en ander het hy ander gemeentes besoek om belangstelling in die sending op te wek en fondse in te samel. So het dr. Murray teen die einde van 1908 ’n sendingkonferensie op Beaufort-Wes belê. Ondanks die knellende droogte wat die distrik toe geteister het (in die tydperk van 1948 en 1962, byvoorbeeld, was die distrik meer as 40% van die tyd amptelik ’n droogtegeteisterde gebied), is by die Sondagaanddiens nog oor die £100 ingesamel. Dit was op aandrang van ds. Roux dat die kerkraad ’n paar maande daarna die wenslikheid van die aanstelling van ’n eie buitelandse sendeling oorweeg het.
Reeds in 1907 het hy die permanente sendingkommissie uit die kerkraad laat saamstel en in samewerking met die plaaslike sendingvereniging, wat omstreeks 1889 gestig is, het hy uiteindelik die kerkraad beweeg om by wyse van proefneming spesiale geestelik werk onder die skaapherders op die buiteplase te begin (1908). Eers twee jaar later is daarin geslaag om ’n geskikte evangelis, J.J. van Noordwyk, te kry, wat met ’n trapfiets en later ’n motorfiets die skaapwagters en hul gesin op die plase besoek en geestelik bearbei het. Die plaaslike hulpsendingverenigings (Sendingvereniging, Vroue- en Mannesendingbond) het die kerkraad gehelp om die salaris te vind. Hierdie geseënde werk onder plaaswerkers moes ongelukkig met die vertrek van Van Noordwyk in April 1918 gestaak word.
Genl. ds. Roux se groot liefde vir die sending het die sterk begeerte by hom laat ontstaan om ’n besoek aan die sendingvelde van die Kerk in Midde-Afrika te bring. Op 6 Junie 1910 het hy van sy kerkraad afskeid geneem en in die geselskap van ds. P.K. Albertyn van Graaff-Reinet na Njassaland vertrek. Dit was op dié reis dat die ongeluk van sy lewe hom getref het, die steek van die gevreesde tsetsevlieg as gevolg waarvan hy in Augustus die gevaarlike slaapsiekte opgedoen het. Vir sy eggenote en gemeente was hierdie treurmare ’n ontsettende skok. Op Mvera is ds. Roux in ’n uiters bedenklike toestand etlike maande lank verpleeg deur ds. Willie Hofmeyr en sy personeel. Van hier het hy hartroerende briewe aan sy gemeente stuur. Die kerkraad besluit in Oktober dat hy hom “verantwoordelik stel vir alle billike onkoste in verband met die betreurde siekte van ds. Roux en benoem die dorpskerkraadslede as ’n kommissie om handelend op te tree en te besluit wie om te stuur om ds. Roux te gaan haal, ’n geneesheer of vriend”.
Teen die middel van daardie maand het mev. Roux self na Njassaland vertrek om haar siek eggenoot te gaan verpleeg en, indien moontlik, terug te bring na sy vaderland. Eers teen Kersfees kon sy die terugreis met hom waag. Met sy aankoms op Beaufort-Wes in sy ou gemeente was daar ’n groot skare vriende en belangstellendes om hom op die stasie te kom verwelkom en langs die strate het oral rye mense gestaan. In die pastorie is ’n dankstond gehou en was daar dan ook ’n (tydelike) opflikkering. Maar kort voor lank het dit sterk afgeneem. Dis toe dat ds. Roux besluit het om alle mediese hulp te staak en sy vertroue op die “hemelse Geneesheer” alleen te stel. Aan een van sy vriende het hy geskryf: “Kom ik om, zo kom ik om.” Op 8 Junie 1911 is hy ná ’n smartlike lyding van 10 maande oorlede.
Ds. Paul H. Roux se begrafnis is op Sondag 11 Junie 1911 om kwart oor die drie die middag gehou. Uit die verslag in die plaaslike Courier en die gedrukte begrafnispamflet blyk dit dat dit ’n indrukwekkende plegtigheid moes gewees het. Die begrafnisstoet het die pastorie reeds om drie-uur verlaat. Vooraan was die draers en die slipdraers, gevolg deur die naasbestaandes, leraars en sendelinge van die NG Kerk, rustende kerkraadslede, die magistraat, lede van die Parlement, afdelingsraad, munisipaliteit, mediese fakulteit, skoolrade, lede van die gemeente, Sondagskoolkinders en ander belangstellendes. Die kerkgebou was veels te klein om die skare van sowat 2 300 te bevat. Die preekstoel, die galerye en die voorste banke was met roufloers bedek. Voor die preekstoel, waar die prediker sowat vyf jaar lank sulke sielsdeursoekende boodskappe gelewer het, het sy lyk in die doodskis gelê. In die roudiens en by die graf het onder andere di. G.J. Hugo (toe van die NG Gemeente Colesberg en later die bekende moderator van die NG Kerk), R.D. MacDonald (voorsitter van die Ring van Beaufort) en H.J.L. du Toit (Richmond) treffende huldeblyke gebring aan die ontslapene as “’n besondere gawe van God aan ons Kerk en volk”.
Ds. J.G. Steytler se dienstyd
Ná ds. Roux se dood het ds. C.M. Hofmeyr nog ses maande lank waargeneem tot in Januarie 1912 toe die kerkraad eervolle ontslag aan hom gegee en afskeid van hom en sy vrou geneem het. (Hy het daarna agtereenvolgens die gemeentes Murraysburg en Standerton bearbei en is in Maart 1930 oorlede.) Gelukkig kon terselfdertyd die diens verseker word van prop. M.L. de Villiers, wat op Saterdag 27 Januarie 1912 hier georden is. Hy het met vrug gearbei tot die koms van ds. Johan George Steytler as vaste predikant in September 1912. Hierdie hulpprediker van Beaufort het in latere jare bekendheid verwerf onder meer deur sy toonsetting van Die Stem van Suid-Afrika. Die kerkraad het nie minder nie as nege beroepe tydens die vakature uitgebring. Die negende is op ds. Steytler van Hopefield uitgebring op 15 Julie 1912 en dit het geslaag. Die 48-jarige dominee was toe nog in die krag van sy jare en die volgende agt jaar sou hy en sy eggenote hul beste kragte aan die gemeente skenk in ’n besonder vrugbare en geseënde bediening.
Ná die staatkundige vereniging van die verskillende kolonies en state van Suid-Afrika met Uniewording in 1910, is ook pogings in die werk gestel om die verskillende NG Kerke in die vier provinsies te verenig onder een bestuur. ’n Wetsontwerp met dié strekking is deur die Unieparlement geloods, maar toe twee derdes van die kerkrade in die Unie en elders in Suider-Afrika nie ten gunste van dié saak was nie, het die hele aangeleentheid deur die mat geval. Die kerkraad van Beaufort-Wes was wel ten gunste van die voorstel van vereniging en het in April 1912 as volg besluit: “De kerkeraad erkent de leiding van de hier in de stappen reeds genomen tot hereniging van onze Ned. Geref. Kerk in Zuid-Afrika en verklaart zich mits deze ten gunste van de voorgestelde vereniging.”
Ná die stigting van die Sendingvereniging omstreeks 1889 het dié liggaam ’n Christelike vergadersaal, later ook die lokaal vir die “Armen School”, gebou wat bekendgestaan het as die Ou Sendingsaal en eers in die vroeë 1940’s deur die kerkraad vir £850 verkoop is. In Maart 1909 het die kerkraad ten gunste van die bou van ’n “Jongelieden Zaal” besluit. Genl. ds. Roux, dr. A.M. Neethling en ander lede van die toe bloeiende Christelike Jongeliedevereniging (CJV) het die saak baie sterk bepleit. Dis egter telkens uitgestel en eers met die koms van ds. Steytler in September 1912 is ’n boukommissie aangestel. Hierdie kommissie het die bou van ’n saal teen £3 500 aanbeveel, maar aangesien die distrik hom destyds in so ’n benaderde toestand weens die droogte bevind het, is dit weereens uitgestel. Met geld wat die kerkraad geleen het, is toe die volgende jaar gebou en teen Desember 1913 is die eerste eintlike kerksaal van die gemeente voltooi vir die som van £3 857, meublement ingesluit, waarvan ruim nog £6 600 verskuldig was.
Een van die eerste geleenthede in dié saal was die viering van die silwerbruilof van ds. en mev. Steytler in Desember 1913. In Oktober die volgende jaar is ’n blommetentoonstelling daarin gehou. In dieselfde tyd is ’n ystertraliewerk rondom die kerksaal gebou. Dié saal is vandag nog in gebruik, een van die duursame monumente van ds. Steytler in dié gemeente.
Middel 1920 het ds. Steytler ’n beroep na die gemeente Piketberg ontvang en aangeneem. Op Sondag 1 Augustus het hy afskeid geneem met ’n troosvolle laaste boodskap na aanleiding van Deut. 33:27 (Statebybel): ” De eeuwige God zij u een woning, en van onder eeuwige armen; en Hij verdrijve den vijand voor uw aangezicht, en zegge: Verdelg!” Veertien dae later het die volgende treffende berig in De Kerkbode verskyn (uit die Hollands vertaal): “Byna agt jaar was ds. Steytler leraar van dié gemeente. Veel, baie veel het hy in die tyd vir ons gedoen, ook sware tye met ons deurgemaak. Om maar slegs een te noem, die donker Oktobermaand 1918, toe die groep oor ons heengaan. Hoe het hy en mev. Steytler ons siekes besoek en verpleeg, die dooies begrawe, die bedroefdes getroos! Nooit het hulle aan die gevaar vir hul eie lewe gedink nie. Ja, waarlik, hulle was onder ons soos dienendes en nie om gedien te word nie. Die pastorie was vir ons altyd ’n oop huis … In die kerkraadsvergaderings was daar altyd liefde, al was daar ook klein verskille. Nie alleen was die prediking van ds. Steytler vir ons tot seën nie, maar ook sy lewe onder ons was ’n getuienis vir sy Meester.”
Ds. Steytler was Beaufort-Wes se agtste predikant tydens die eerste eeu van die gemeente se bestaan. Tot op hede, aan die vooraand van die gemeente se 200-jarige bestaan, het nog 13 predikante die gemeente bedien.
Afstigtings
Van die moedergemeente Beaufort-Wes is, benewens twee gemeentes (Gamkavallei en Gamka-Oos) op die dorp in 1949, vier aanliggende gemeentes in die geheel afgestig, naamlik Prins Albert, Victoria-Wes, Fraserburg en Carnarvon. Van laasgenoemde is afgestig: Prieska, Williston, Kenhardt, Upington (nieamptelik omdat die dorp buite die Kaapkolonie geval het en dus streng gesproke nie afgestig kon word nie, maar liewer net gestig is) en gedeeltes van Vosburg, Loxton (aan wie Beaufort-Wes ’n aansienlike getal plase afgestaan het) en Brandvlei. Merweville is in 1904 uit gedeeltes van Beaufort, Laingsburg, Prins Albert en Sutherland afgestig. Beaufort-Wes het ook 31 plase afgestaan aan Rietbron, geleë op die oop Karoovlakte op pad Willowmore toe, van wie die gemeente amptelik afgestig is; dus nog ’n gedeeltelike afstigting. Ook aan Murraysburg moes Beaufort plase afstaan. Dogtergemeentes wat dus ten volle uit Beaufort afgestig is, is Prins Albert, Victoria-Wes, Fraserburg en Carnarvon, Gamka-Oos en Gamkavallei en gedeeltelik Loxton, Merweville, Rietbron en Murraysburg.
Die sending
Wat vandag die Verenigende Gereformeerde Gemeente Beaufort-Wes is, het uit die sendingwerk ontstaan wat hier in die jaar 1818 begin het. Die eerste lede van die sendingwerkkring is op 20 September 1820 aangeneem en die eerste kind is op 19 Januarie 1841 gedoop. Die werk is deur ds. John Taylor, eerste leraar van die moedergemeente, begin. Hy was eers ’n sendeling van die Londense Sendinggenootskap. Die wit kerkraad het die werk voortgesit tot in 1860 toe eerw. Carel Matthy as werker aangestel is en twee jaar lank die werk gedoen het. Op 21 April 1862 is die gemeente deur eerw. Paul Teske, met ’n kerkraad van een ouderling en twee diakens en 87 lidmate, gestig. Op 28 Junie die volgende jaar is eerw. Teske deur ds. W.A. Krige van Prins Albert, die konsulent van die moedergemeente, georden omdat ds. Colin Fraser, die tweede leraar van die moedergemeente, op 12 Januarie 1863 afgetree het, maar sy opvolger, ds. Albert Zinn, eers op 20 Augustus 1864 hier bevestig is. Eerw. Teske het die werk in ’n klein “oefeningshuis” met ’n skuld van £200 daarop, begin. Dadelik het hy pogings aangewend om die gebou te vergroot, daardeur het die skuld egter toegeneem tot £400.
In 1869 het die plaaslike dam weggespoel en is die kerkgebou meegeneem deur die water. Al wat agtergebly het, was die skuld van £400. In 1871 is daar ’n ander stuk grond met die gebou daarop gekoop vir £500 wat moes dien as pastorie. Op hierdie grond is later die kerk, wat tans ’n museum is en op die blok langs die moederkerk geleë is, gebou. Hoeveel die kerk gekos het en wanneer dit ingewy is, word nie genoem in die kerkraadsnotules nie. Die preekstoel, wat die leraar self uit gips gemaak het, is vandag mog in die museum te sien. Ná 32 jaar van troue arbeid, navolgenswaardige voorbeeld en veel seën vir die gemeente is hy in die amp oorlede. In 1897 is hy deur eerw. R.D. Kretzen opgevolg, wat hier gearbei het tot in 1904, toe hy deur eerw. A.H. Barnard, die vader van die hartpionier dr. Christiaan Barnard, vervang is. Ná sy dood is dr. Barnard se as in die tuin van die eertydse sendingpastorie begrawe, wat nou ’n museum is, tesame met die aanliggende ou stadshuis op die hoek van Donkin- en Kerkstraat. Deur die uitgebreide arbeid onder die bruin bevolking op die plase was dit nodig om eerw. F.B. Bastiaanse aan te stel as tweede leraar in 1922.
Toe die lidmate van die Sendingkerk mettertyd te veel word vir een gemeente, is Beaufort-Wes-Oos in 1960 afgestig. In 1995 het die oorspronklike gemeente 904 lidmate gehad en die Oos-gemeente 2 500. ’n Gemeente van die destydse NG Kerk in Afrika (vir swart lidmate) is in 1969 gestig. Vandag is al drie dié gemeentes deel van die Verenigende Gereformeerde Kerk. (Geskryf deur Morne van Rooyen)
Kyk na ‘n kort video van die geskiedenis hier.
Predikante
- John Taylor, 1818–1824
- Colin Alexander Fraser, 1825–1862
- Albert Zinn, 1864 – 15 November 1866
- Willem Petrus de Villiers, 1868–1875
- Louis Hugo, 1876–1896
- Pieter van der Merwe, 1896–1904
- Paul Hendrik Roux, 1905 – 8 Junie 1911
- Johan George Steytler, 1912–1920
- Johannes Rabie, 1921–1942
- André Francois Malan, 1941–1944
- Daniël Van Niekerk Theron, 1943–1944
- Jan Christoffel du Plessis, 1945–1951
- Lodewyk Petrus Spies, 1945–1948
- Jacob Andries Cornelius Weidemann, 1947–1949
- David Frederik van der Merwe, 1951–1961
- Johannes Jacobus van As, 1962–1968
- Charles Cumphries Bond, 1968–1972
- Daniel Nicolaas van Zyl, 1970–1974
- Bennie Meyer, 6 Oktober 1972–1976
- Helgard Michael Janse van Renburg, 1977 – 1989
- Adriaan Albertus Terblanche, 1980–1998
- Jacob Willem Jacobus van Straaten, 1998 – 2022