
gestig
1918
AFGESTIG VAN
Dutoitspan
RING
Griekwastad
ADRES
Langstraat 10
Barkly-Wes
SLUIT IN
Barkly-Wes
EERSTE PREDIKANT
Ds D J Hugo
Beginjare
Die gebied in die omgewing van die Hartsrivier in Griekwaland-Wes is in die beginjare deur leraars van Dutoitspan bedien. Dit het ook die Vaalrivierdelwerye ingesluit. Op 2 Junie 1883 word die Ned. Geref. Gemeente Cathcart-Wes op die skoolplaas Boetsap gestig. Die gemeente is vernoem na sir George Cathcart, ’n voormalige goewerneur aan die Kaap. Die nuwe gemeente het ook die inwoners van die Vaalrivier ingesluit. Met die besoek van die ringskommissie aan Boetsap word ds. JD Kestell as eerste konsulent van Cathcart-Wes benoem. In 1888 keur die sinode goed dat die naam van die gemeente na Boetsap verander. In 1890 gee die ring van Colesberg toestemming dat dit na Klein-Boetsap verander. Die later bekende dr. JD Kestell het baie moeite gedoen om ook die delwers en boere in die omgewing van Barkly-Wes te besoek.
Prop. JJ Ackermann is op 2 Julie 1887 in die gemeente bevestig. Ds. Ackermann beskryf sy bediening aan die delwers langs die Vaalrivier as volg: “Nou was daar nog ’n deel van die gemeente langs die Vaalrivier wat diamante gedelf het. Op Delportshoop, Longlands en Barkly-Wes ongeveer sewe uur te perd van Boetsap geleë, waar ook gereeld dienste gehoue en Nagmaal bedien was”.
Ds. AJ Olivier word op 22 Augustus 1914 as tweede leraar van Boetsap bevestig. Die gemeente het toe bestaan uit die huidige gemeentes Reivilo en Barkly-Wes.
Die kerkraad van Klein Boetsap besluit om die gemeentesentrum na Bruinjieshoogte te verskuif, omdat dit meer sentraal geleë was.
Op 3 Oktober 1919 besluit die kerkraad dat die nuwe dorp en gemeente Reivilo sal wees. “Dit was onuitgesproke tot eer van ds. Olivier – Reivilo agterstevoor gespel Olivier”.
Die gemeente Barkly-Wes is op 16 Februarie 1918 gestig. Ds. DJ Hugo is op 3 Augustus 1918 as eerste leraar bevestig. ’n Pastorie is vir £75 op Barkly-Wes gebou en herstel.
Die hofgebou by Klipdrift (Barkly-Wes) is vir baie jare gebruik om eredienste in te hou. Later is erf nommer 197 deur die kerkraad gekoop om ’n kerk op te bou. Heer Wright het die planne vir £10 geteken. Die nuwe kerkgebou is op 6 November 1920 ingewy. Die kerk het meer as £2,500 gekos en het sitplek vir 300 mense.
’n Nuwe kerkgebou word ook op Klipdam opgerig. ’n Petisie is deur die inwoners van Klipdam opgestel wat vra vir afskeiding van Barkly-Wes. Dit sou eers in 1945 werklikheid word toe Delportshoop afgestig het.
Op 1 September 1945 het die saak van die herbou of die bou van ’n nuwe kerkgebou op die agenda gekom. Op 10 Mei 1947 het die kerkraad finaal besluit om ’n nuwe kerk te bou. ’n Lening van £25,000 is aangegaan om die kerk te bou.
Predikante:
D J Hugo
Bron
Van der Merwe, G. 1993. Onverganklike rykdom: Nederduits-Gereformeerde gemeente Barkly-Wes 1918-1993