NG Gemeente Aurora

Die NG kerk Aurora is op 23 Januarie 1909 deur prof. N.J. Hofmeyr ingewy. Dit het £3 550 gekos en het meer as 700 sitplekke. Die argitek was William Henry Ford. Foto: Gert du Plessis

Gestig

25 April 1906

Ring

Ring van Piketberg

Adres

Kerkstraat, Aurora

Sluit in

Aurora en omgewing

Eerste predikant

Ds. C.R. Ferreira (1907-1912)


Die NG Gemeente Aurora is ’n gemeente in die Sinode van Wes-Kaapland van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met sy middelpunt op die Sandveldse dorpie Aurora. Dis op 25 April 1906 van die moedergemeente Piketberg afgestig, net ’n dag voor die gemeente Redelinghuys; daarom word soms na dié gemeentes as die tweeling van Piketberg verwys.

Ontstaan

Oortuig van die noodsaaklikheid vir beter bearbeiding van die uitgestrekte gemeente van Piketberg, met sy byna 2 400 lidmate, het die Ring van Clanwilliam in Oktober 1905 dit aan ’n kommissie opgedra om die wenslikheid daarvan om hierdie gemeente in drie gemeentes te verdeel, te ondersoek. Vir hierdie doel het die Ringskommissie, nadat hulle die saak op 21 April 1906 op Piketberg bespreek het, afgereis na die Sandveld, om op ’n verteenwoordigende gemeentelike vergadering op die ou kerkplaas Rietvlei die gemeente van Aurora op 25 April 1906 te stig met ’n kerkraad bestaande uit ses ouderlinge en agt diakens en oor die 800 lede.

Aangesien die ou kerkplaas Rietvlei nie sentraal genoeg geleë was nie, is op aanbeveling van Ringskommissie die plaas Schreeuwfontein uitgekies as die dorp en kerkplaas van die nuwe gemeente. Die naam “Aurora” (daeraad) was die voorstel van een van die Ringsommissielede, ds. R.H.T. van der Meulen.

Finansieel was die toestand van die begin af vry rooskleurig. Die eerste basaars en die verkoop van erwe op die nuwe kerkplaas vroeg in September 1906 het die aansienlike som van meer as £1 700 opgelewer; en op 15 September van daardie jaar het ouderling Kotzé van Grootkloof 147 morge van die plaas Schreeuwfontein, tesame met sy servituutsregte op Groot-Klipfontein en ’n gedeelte van die waterregte “als een volkomen geschenk” aan die kerkraad gegee vir die aanlê van die dorp Aurora.

Eerste leraars

Eers nadat vier onsuksesvolle beroepe uitgebring is, kom die eerste leraar, prop. C.R. Ferreira, op 12 April 1907 hier aan. Die pastorie op die dorp was toe reeds voltooi, maar die kerkdienste moes nog in die ou buitekerkgebou op Rietvlei gehou word. Binne 10 maande verrys daar egter ’n buitekerkgebou op Velddrift en die teenswoordige nuwe kerk op Aurora met sy meer as 700 sitplekke.

Laasgenoemde kerk is op 23 Januarie 1909 deur prof. N.J. Hofmeyr plegtig ingewy en kos die gemeente £3,550. Reeds in Oktober van daardie jaar is die eerste tak van die Vrouesendingbond (VSB) en drie jaar later die eerste Christen-Jongeliedevereniging (CJV) gestig. Ná ’n geseënde dienstyd van ’n bietjie meer as vyf jaar, neem ds. Ferreira ’n beroep na die gemeente Koppies aan. Hy was iemand met ’n warm hart vir die jeug en die Sending, aldus eerw. Andries Dreyer in Piketberg se eeufeesgedenkboek van 1933.

Sy opvolger, ds. P.J. van der Merwe het in die ses en ’n halfjaar (28 September 1912 tot 4 Februarie 1919) van sy verblyf op Aurora hom veral beywer vir die afbetaling van die kerkskuld, die aanbou van ’n CJV-saal en die bestryding van die drankeuwel. Die volgende leraar, ds. H.S. Pretorius, het gedurende ’n betreklik korte dienstyd hier (Mei 1919 tot November 1921) ’n begin gemaak met afsonderlike katkisasie en aanneming op Velddrift, en het so die grondslag gelê van die latere gemeente van Velddrift (later genoem Velddrif). Dankofferkaartjies en kinderfeeste het nou gereeld begin plaasvind.

Ds. Smit en latere leraars

Die vierde leraar, ds. J.C. Smit (bevestig op 19 Augustus 1921), was pligsgetrou, veral in huis- en krankbesoek, en was ’n stille dog deeglike werker. Die afstigting van Velddrift as ’n aparte gemeente deur die Ringskommissie op 26 Januarie 1928 (met meer as 700 lede), was die vrug veral van sy moed en volharding. Om Aurora, wat deur hierdie afstigting van sy dogter te veel lidmate verloor het, tegemoet te kom, het die Kerkraad van Piketberg die Kapteinskloof-wyk, met omtrent 100 lidmate, aan Aurora afgestaan.

Op 25 April 1931 kon Aurora reeds sy kwarteeufees vier, en was toe ’n bloeiende gemeente met ’n gemiddelde inkomste van omtrent £600 per jaar en ’n lidmate- en sieletal van ongeveer 840 en 1 600 onderskeidelik. Die gemeente was omtrent 50 myl lank en 15 myl breed, en ingedeel in sewe wyke. Daar was destyds 22 Sondagskole met omtrent 300 kinders, teenoor 10 dagskole met omtrent 400 kinders in die gemeente. Gemiddeld is daar hier jaarliks 45 kinders gedoop en 35 katkisante aangeneem. Die dorpie Aurora, toe nouliks sy kinderskoene ontgroei het, het ’n oppervlakte van ongeveer 10 vkt. myle beslaan en ’n blanke bevolking van nog geen 200 siele gehad.

Tydens ds. Smit se lang bediening het belangrike ontwikkelinge plaasgevind, onder meer het die skool gegroei tot ’n hoërskool, koshuisgeriewe is daargestel vir 130 kinders, die beheer oor die dorp is oorgedra aan ’n plaaslike bestuur sodat die kerkraad nie meer daarmee belas is nie, en die sendinggemeente St. Helenabaai is in samewerking met Velddrift gestig. Die vyfde leraar, ds. P.B. van Schalkwyk, het sy werk hier in Februarie 1948 begin. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante

  • Cornelis Rademeyer Ferreira, 12 Apr. 1907 –  1912
  • Petrus Jacobus van der Merwe, 28 Sep. 1912 – 1919
  • Hendrik Stefanus Pretorius, 10 Mei 1919 – 1921
  • Johannes Cornelis Smit, 19 Aug. 1922 – 1947
  • Philippus Brink van Schalkwyk, 22 Feb. 1948 – 1956
  • Jan Jakob Daniël Malan, 3 Aug. 1956