NG Gemeente Aucklandpark

NG Gemeente Aucklandpark (Foto: M van Rooyen)

gestig

1958

ingelyf by

10 Mei 1995

NG Gemeente Johannesburg

Adres

Richmondlaan 71, Aucklandpark

Eerste predikant

Ds

Die NG Gemeente Aucklandpark was ‘n gemeente in die Hoëveld Sinode.

Die NG gemeente Aucklandpark was ‘n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die noordwestelike voorstad van Johannesburg met dieselfde naam.

Aucklandpark het in 1958 van Melville afgestig met sowat 750 belydende lidmate. Die gemeente het sedert die middel jare sestig as die studentegemeente vir NG studente aan die Goudstadse Onderwyskollege en die Randse Afrikaanse Universiteit opgetree. In 1971 het die gemeente 704 belydende lidmate en 700 studentelidmate gehad, in 1979 578 belydend (die studente is nie aangegee nie), in 1985 705 belydend en 1 942 studente, in 539 belydend en 1 865 studente en in 1994 550 belydend en 1 760 studente.

Inlywings

Veral ná die verslapping van apartsheidswetgewing ná 1990 het wit mense vinnig uit die middestad en omliggende woonbuurte verhuis (party van die buurte was trouens al lank “grys gebiede”). Dit het meegebring dat die NG gemeente Johannesburg se lidmaattal tot slegs 110 in 1994 gedaal het. Aucklandpark en Johannesburg se kerkraad het toe samesprekings gevoer om ‘n enkele gemeente te vestig, maar met twee bedieningspunte, naamlik Aucklandpark se kerkgebou by Richmondlaan 71 en dié van die moedergemeente by De Kortestraat 117, Braamfontein.

Op Donderdag 1 Junie 1995 smelt die gemeentes saam. Reeds in Augustus 1995 was daar sprake dat Johannesburg-Oos (wie se kerkgebou in Doornfontein as die Irenekerk bekendstaan) ook deel van die verenigde gemeente sou word om so een, multikulturele NG gemeente in die middestadgebied tot stand te bring. Dié gemeente, wat op Sondag 1 Junie 1997 ontstaan het, het steeds NG gemeente Johannesburg geheet en toe gestrek van Aucklandpark tot by Braamfontein, Berea en Hillbrow. Die gemeente se sentrum was die kerkkompleks van Aucklandpark, maar dienste is ook gehou in Braamfontein en in die Irenekerk.

Die gemeente het ‘n volle vier leraars gehad: ds. Johan Krige (studenteleraar in Aucklandpark sedert 8 Januarie 1982, later hoof- uitvoerende beampte van MES), ds. Christoph Müller (woongebiede) en di. Attie Botha en Piet Smith (middestadbediening). Dié drieledige gemeente het toe gestrek van Ellispark in die ooste (waar weinig min NG lidmate oorgebly het) tot anderkant die Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) in die weste. Veral Botha en Smith het baie gedoen vir nie-lidmate in die middestad.

Toe Aucklandpark voelers uitsteek na Melville met die oog op samewerking (Melville se lidmaattal het in 1994 al tot 340 gedaal en Aucklandpark het ‘n aanbod van ‘n koper vir hulle kerkgebou gekry), was die ou moedergemeente blykbaar nie bereid om met die Braamfontein/Irenekerk-gedeelte saam te werk nie. Die samestellende dele van die Johannesburg-gemeente skei omstreeks 2003 toe daar sprake was dat Aucklandpark die kerkgeboue by Richmondlaan 71 aan ‘n ontwikkelaar sou verkoop vir die oprigting van ‘n vulstasie en daardie deel van die gemeente, saam met die studente, met Melville se NG gemeente saamsmelt om die Mellville Kruisgemeente te vorm. Hulle aanbid sedertdien in Mellville se kerk by Vierde Laan 51.

Kerkgebou in later jare

Tydens die inlywing van die gemeente Johannesburg se Auckland Park-wyke by Melville, is die Auckland Park-kerk aan die petroleummaatskappy BP (SA) verkoop, wat dit wou sloop om plek vir ’n vulstasie aan die besige Kingsway te maak. Eers nadat die gebou verkoop is, is agtergekom die grond waarop die gebou staan, het ‘n voorwaarde in die oorspronklike skenkingsakte wat vereis dat die perseel slegs vir gemeenskaplike doel benut mag word. Dit het dus die bou van enige kommersiële onderneming daarop verbied. Alles in die kerk is afsonderlik verkoop: die orrel, banke, ens.

Predikante

  • Coligny Nel, 1958 – 1963
  • Stanley Charles Biggs, 1963 – 1971
  • George Madder Steyn, 1972 – 1981
  • Willem Petrus van Niekerk, 1972 – 1978
  • Johannes Francois Swartz, 1976 – 1981
  • Wilhelmus Cornelis Goosen, 1978 – 1990
  • Hermanus Stucki Pienaar, 1982 – 1995
  • Johannes Stefanus Krige, 1982 – 1995
  • Pieter Ernst Scholtz Smith, 1982 – 1995
  • Christoph Thomas Müller, 1990 – 1995