Gestig
1831 / 1916
Ring
Albanie
Adres
H.v. Hill- en Markstraat, Grahamstad / Kerkstraat, Riebeek-Oos
Sluit in
Grahamstad, Riebeek-Oos, Bathurst
Eerste predikant
John Pears (1839–1849)
WAARBY INGELYF
Grahamstad, 2000
Die NG Gemeente Albanie is die 21ste oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en die sewende oudste in die Sinode van Oos-Kaapland. Die middelpunt van die gemeente was amper 170 jaar lank die dorpie Riebeek-Oos, 39 km noordwes van Grahamstad, maar op 1 Maart 2000 skakel die meer as 80 jaar oue NG gemeente Grahamstad weer by die moedergemeente in, waarna dié stad die middelpunt van die gemeente geword het.
Stigting
Jacob Cuyler, landdros van Uitenhage, het in 1812 die Zuurveld hernoem na sy geboorteplek, die Amerikaanse stad Albany, waarvan sy vader burgemeester was. Die verafrikaansing van dié naam is aan die latere gemeente gegee. Die eerste kerkraadslede is in 1831 in die Metodistekerk in Grahamstad deur ds. Alexander Smith van Uitenhage bevestig. Agt jaar later, in April 1839, kry die gemeente sy eerste leraar in die persoon van ds. John Pears, na wie Pearston genoem is terwyl hy leraar van Somerset-Oos was.
Hy bly net tot 1841, maar tydens sy dienstyd koop die gemeente ’n gedeelte van die plaas Mooimeisjesfontein van die indertydse eienaar, M.J. van Rooyen, teen £800 aan as kerkplaas. Die Voortrekkerleier Piet Retief het die plaas in 1831 gekoop en daar gaan woon, maar dit verkoop toe hy en die meeste Afrikaans-Hollandse boere hierdie dele tydens die Groot Trek verlaat het.
Omdat die Engelse setlaars van 1820 hulle tuiste in Grahamstad gemaak het en daar min lidmate van die NG Kerk oorgebly het, het die middelpunt van die gemeente in daardie dae na Riebeek-Oos verskuif en dit meer as ’n anderhalf eeu gebly. Eers in 1916 het die sowat 110 NG lidmate in Grahamstad die moed bymekaargeskraap om hulle eie NG Gemeente Grahamstad van die moedergemeente afgestig. Intussen het die meeste NG lidmate in Grahamstad by Engelse kerke ingeskakel.
Tweede leraar
Ds. John Pears het net twee jaar in die gemeente gebly. In 1841 volg dr. Adrian Roux (ook gespel “Adriaan”) hom op. Hy was ’n Kapenaar van geboorte en slegs die tweede predikant wat in Suid-Afrika georden is. Hy is in die ou waenhuis op Mooimeisjesfontein bevestig. In 1842 stel landmeter Rodgers ’n plan vir die dorp op wat, op voorstel van dr. Roux, Riebeek genoem word. Later die plek Riebeek-Oos geword om dit van Riebeek-Wes te onderskei.
Die Sewende Grensoorlog van 1846 tot ’47 het uitbreiding baie gestrem. Dr. Roux moes tydelik in Grahamstad gaan woon, waar hy gereeld in die katedraal eredienste vir die deurtrekkende boere gehou het. Eers in 1847 kon die kerkraad weer vergader. In 1848 is die eerste kerkgebou teen ’n koste van £900 ingewy. Binne twee jaar het die Agtste Grensoorlog uitgebreek en weer het Albanie swaar gely. Weer moes dr. Roux wyk en so arbei hy ’n tyd lank op Richmond tot hy uiteindelik in 1853 na sy geplunderde gemeente kon terugkeer.
Hy werk met ywer sodat die hoeksteen van die kerkgebou wat vandag nog in gebruik is, in 1861 gelê kon word. Die kerk is op 31 Mei 1862 ingewy. In dr. Roux se tyd is ook die dorpsdam gebou en die verbod op sterk drank (Riebeek-Oos is ’n “droë” dorp soos byvoorbeeld Vishoek in die Kaapse Skiereiland) gehandhaaf. Die verbod het daarna bly staan. In 1882 aanvaar dr. Roux sy emeritaat ná hy 40 jaar, weliswaar met onderbrekings, in die gemeente gearbei het.
Latere leraars
Ná dr. Roux dien ds. W.P. Rossouw tot 1897 en word hy opgevolg deur ds. George Rudman. Hy arbei 22 jaar lank met getrouheid en toewyding in Albanie in die tyd toe die ondernemende gemeente die ander deel van die geskiedkundige plaas Mooimeisjesfontein, vroeër die eiendom van die Voortrekkerleier Piet Retief, aankoop om ’n tweede “Kakamas” (arbeidskolonie van die NG Kerk vir behoeftige lidmate) te begin.
In sy tyd is die NG Gemeente Grahamstad afgestig nadat die lidmate in Grahamstad teen 1904 ongeduldig begin word het met die langsame beweging van die kerkraad van Albanie, veral ook toe die aankoop van die Odd Fellows’ Hall vir ’n kerkgebou deur die mat val. Daarna is in 1907 die blinde evangelis, die heer David Roux, in Grahamstad geplaas en vir ’n aantal jare het hy ten spyte van sy gebreke ’n geseënde werk gedoen.
In 1911 het die Ring ingegryp en ’n oplossing vir die Grahamstad-probleem probeer vind. Die gedagtes het nog al die tyd in die rigting van ’n vaste hulpprediker gegaan. Op die vergadering wat die Ringskommissie met die kerkraad gehou het, kon nou berig word dat daar hier 239 siele was wat tot die NG Kerk behoort het, asook 37 studente aan die Opleidingskollege en 16 aan die Rhodes-universiteitskollege, terwyl 42 leerlinge in die openbare skole en 12 in die kloosterskool was.
Die bemoeiinge van die Ring en die lofwaardige ondersteuning van Rings- en ander gemeentes en Christelike verenigings het dit toe moontlik gemaak om ’n beroep uit te bring waardeur aan ’n geordende hulpprediker £250 per jaar vir twee jaar gewaarborg is. “Die kerk het besef dat Grahamstad ’n strategiese punt was. Dit was hier ’n kwessie van die redding van ons armes, die behoud van ons studerende jeug, die troos van ons siekes,” het ds. Roelof Johannes de Leeuw Theron jare later geskryf.
Die kerkraad was gelukkig om die dienste van hierdie jong leraar te kry met wie se bevestiging op 2 Mei 1913 daar ’n nuwe hoofstuk in die geskiedenis van die NG Kerk in die Setlaarstad begin. Meer as een wat die feestelike verwelkoming van die eerste hulpprediker bygewoon het, moes sy verbasing lug oor die groot aantal Afrikaners in Grahamstad en met toegewyde ywer het ds. Theron hom van sy moeilike taak gekwyt om die verstrooide skape van die kudde op te soek en hulle saam te snoer tot ’n eenheid wat sy verpligtinge sou voel en nakom.
Geen wonder dan ook dat daar reeds in September 1914 gerapporteer kon word dat die ou Odd Fellows’ Hall in Hillstraat vir £1 200 aangekoop is om as kerkgebou ingerig te word nie, en in Desember van dieselfde jaar is dit opnuut aan die diens van God gewy. Opnuut omdat hierdie interessante en historiese gebou op 30 Maart 1851 ook as kerk in gebruik geneem is en wel deur ’n deel van die Doopsgesinde gemeente wat hulle onder eerw. Alexander Hay van die oorspronklike gemeente afgeskei het.
Hierdie waardige leraar is in 1871 oorlede en toe daar teen die volgende jaar weer ’n hereniging van die twee seksies plaasvind, is die gebou aan die Vrymesselaars verkoop wat daar ’n netjiese losie aangebou het wat vir die NG gemeente goeie diens as konsistorie en saaltjie gedoen het. Deur ’n genadige beskikking van God kon die gemeentetjie in ’n kritieke tyd van sy bestaan hierdie ou Godsgebou aankoop en daarin het hulle vergader tot op hierdie dag waar hulle hul nuwe kerk in gebruik neem. Sonder twyfel mag gesê word dat die aankoop van ’n kerkgebou baie daartoe bygedra het om kerklike en nasionale selfrespek by die minderbevoorregte gemeentelede in te boesem.
Intussen het die begeerte na ’n selfstandige gemeente hy die lidmate steeds sterker geword en teen September 1915 was die verwesenliking van hierdie ideaal reeds in sig. Daar moes egter weer ’n struikelblok in die weg gekom het, want in Maart 1916 besluit die kerkraad van Albanie om ds. Theron daarvan te verwittig dat sy werk in Grahamstad aan die einde van daardie kwartaal gestaak moes word, tensy die geldsake anders sou toelaat. Hierdie besluit het waarskynlik die laaste stoot aan die afstigting gegee want op 29 April 1916 word in ’n buitengewone kerkraadsvergadering amptelik daartoe verlof gegee. Die werklike afstigting het op 28 September 1916 plaasgevind wat dan die geboortedag van die gemeente genoem mag word.
In 1921 word ds. H.A. Hanekom die leraar. Gedurende sy tydperk is die woning van Piet Retief aangekoop en begin met die Piet Retief-weeshuis vir verweesde en verwaarloosde seuns. In 1928 word hy deur ds. W.F.P. Marais opgevolg. Van 1936 staan ds. G.P. le Roux aan die hoof van die gemeente en na hom ds. P.G. Rossouw van 1944 tot ‘7. In daardie jaar is die moderne gebou van die Piet Retief-weeshuis voltooi, veral deur die ywer van die plaaslike skoolhoof, mnr. A.M.M. Rossouw, latere sekretaris van die inrigting. Die kinderhuis is in die middel jare sewentig gesluit. Ds. J.A. Kotzé is in April 1949 in die gemeente bevestig.
Lidmaattal
Omstreeks 1951 met die spoorverlegging in die omgewing is die lidmaattal van die gemeente so te sê verdubbel omdat die hoofspoorwegkamp te Commadagga (ook gespel “Kommadagga”) aangelê is. Ander jare toon ’n dalende tendens tot kort voor Grahamstad by die gemeente ingelyf is: 1933: 420, 1973: 330, 1979: 244, 1990: 218, 1995: 194, maar 1999: 271 en die laaste jaar, 2000: 267. In daardie jaar het Grahamstad 823 lidmate gehad, vir ’n totaal van 1090. In 2005 is die totaal egter terug op 836 en in 2010 daal dit verder tot 794.
Sedert Grahamstad se inlywing
Ds. Strauss de Jager, sedert 1984 leraar van Grahamstad en sedert 2000 van Albanie, gee op die gemeente se webblad ’n volledige uiteensetting van die gebeure in die gemeente nadat Grahamstad by die moedergemeente ingelyf is. Moeder en dogter is op 1 Maart 2000 herenig, waarna die gemeente oor feitlik die hele gelyknamige landdrosdistrik strek met punte tot 70 km ver van die Setlaarstad op byvoorbeeld Kommadagga en uithoeke soos Martindale, plase aan die Koonaprivier en anderkant die Groot-Visrivier op Salisbury Plains en aan die N2 van die Boesmansrivier tot by die Groot-Visrivier. (Geskryf deur Morne van Rooyen)
Predikante
- John Pears,1839–1841
- Adrian Roux, 1842–1882
- Willem Petrus Rousseau,1882–1897
- George Rudman, 1898–1920
- Hendrik Andries Hanekom, 1921–1927
- Willem Francois Petrus Marais, 1928 – 1935
- Gabriël Petrus le Roux, 1936–1943
- Petrus Gideon Rossouw, 1944–1947
- Johannes Augustinus Kotzé, 1949–1952
- Vidius Nel, 1952–1958
- Pieter Francois de Wet, 1958–1961
- Salomon Johannes Stander, 1962–1963
- Jacob Petrus du Toit Furstenburg, 1963–1967
- Johannes Meyer Rheeder, 20 Mei 1967 – 1970
- John le Roux, 1971 – 1973
- Philippus Daniël Olivier, 3 Februarie 1978 – 1982
- Willem Gerhardus Olivier, 15 Januarie 1983 – 2000
- Frederick Strauss de Jager, 2000 – hede