Nepgen, Cornelis Christiaan

 

gebore

7 Des. 1889

OORLEDE

7 Sep. 1978

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1919

ORDEN

1920

standplase

1920 Umtata (Hpr.)

1921 Umtata

1925 Napier

EMERITEER

1955

Dr Cornelius Christian Nepgen (7.12.1889 – 7.9.1978) is na ‘n lang siekbed in die Strand Oorlede. Hy is op Kikvorschfontein naby Dordrecht gebore en gaan op sy tuisdorp skool. Van 1910 tot 1911 wy hy hom aan die onderwys en 1912-1913 bekwaam hy hom op Stellenbosch verder in die rigting. Hy is egter nie van plan om onderwyser te bly nie, en lê in 1915 die admissie-eksamen met lof af, en volg vanaf 1916 die teologiese kursusaan die Kweekskool. Die kandidaats- (1918) en die proponentseksamen (1919) slaag hy beide met lof en 1917 behaal hy ook die BD- en 1919 die MA-graad. Na sy legitimasie 1919 vra die Armesorgkommissie hom om die lede van ons Kerk in die Transkei op te soek en so word hy 2.4.1920 hulpprediker en Januarie 1921 vaste predikant in Umtata. Van 28.11.1925 tot die aanvaarding van sy emeritaat 16.4.1955 is hy leraar van Napier. Hier is daar in sy tyd nie alleen die pragtige kerkgebou opgerig nie, wat einde April 1978 tot ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is nie, maar ook ‘n kerksaal, ‘n moderne skoolkoshuis en die mooi pastorie. Op kerklike, sowel as op opvoedkundige en maatskaplike gebied verrig hy hier ‘n groot taak. Ook op die breër kerklike terrein lewer hy onder meer as lid van verskeie belangrike kommissies – waaronder die destydse Algemene Armesorgkommissie, waarvan hy ook agt jaar die voorsitter was – gewaardeerde diens. Maar hy sal ook veral onthou word vir sy volgehoue pleidooie daarvoor dat die Kaapse Kerk in die ernstige sendingnood moet voorsien van die Transkei, wat toe nog as die arbeidsveld van ander kerke in ons land beskou is. Op sy aandrang besluit die Kaapse Eeufeessinode van 1924 dan ook om die moontlikhede in die gebied te laat ondersoek en met sendingwerk daar te begin. Eintlik was dit die begin van die ommekeer in die houding van ons Kerk teenoor die binnelandse sending wat uiteindelik tot die stigting van die NGKA (Kaapland) lei. Verder bly hy ‘n ywerige student. Met sy belangwekkende proefskrif Die Sosiale Gewete van die Afrikaanssprekendes waarop hy 1937 ‘n doktorsgraad in die filosofie met onderskeiding verwerf en wat die jaar daarna in druk uitgegee word, trag hy om ‘n getroue uitbeelding van ons volkslewe en -ideale te gee en ons ware volkskarakter te kenskets. Ook skryf hy Die Roomse Gevaar (1917) – ‘n brosjure waarvan daar 10 000 eksemplare versprei word – en ‘n mooi eeufeesgedenkboek van die gemeente Napier (1948); Na sy aftrede is hy in minstens twintig gemeentes behulpsaam, terwyl hy ook met ‘n ondersoek van die Federale Armesorgraad i.v.m. die ontvolking van die platteland help. Kort tevore was hy ‘n lid van ‘n staatskommissie van ondersoek na die blanke bewoning van die platteland, waarvan sy werk Die Sosiologiese Aspekte van die Blanke Bewoning van die Platteland (1957) ‘n uitvloeisel was. (Jaarboek 1979/270)