Nel, Paul * 1907

Ds P A Nel

gebore

15 Mei 1907

OORLEDE

27 Mei 1979

UNIVERSITEIT

US; Utrecht; Princeton

gelegitimeer

1933

ORDEN

1934

standplase

1934 Wakkerstroom

1939 Utrecht

1948 Hendrina

1956 Ermelo-Oos

EMERITEER

1976

Ds. Paul (Paultjie) Nel (15.5.1907 – 27.5.1979) was ‘n seun van die welbekende ds. Paul Nel (1867 – 1943) wat die laaste meer as 26 jaar van sy bediening aan die gemeente Ermelo gewy het en drie keer moderator van die Transvaalse sinode was. Hy is op Jeppestown in Johannesburg gebore, maar hy geniet sy skoolonderrig op Ermelo en sy teologiese opleiding op Stellenbosch. Later studeer hy verder in Utrecht (Nederland) en Princeton (VSA); In 1933 gelegitimeer, word hy 31 Maart 1934 as opvolger van die latere prof G B A Gerdener op Wakkerstroom georden en bevestig. Hiervandaan gaan hy 1939 na Utrecht waar hy tydens Wêreldoorlog II van die kerkraad verlof kry om vir ‘n jaar as veldprediker na Noord-Afrika te gaan. Sommer met die intrap in die Noorde neem hy in die voorste linies aan die groot Slag van El Alamein deel en sy ondervindinge onder die soldate druk ‘n onuitwisbare stempel op sy gevoelige gemoed af. In 1948 gaan hy na Hendrina en 1956 na Ermelo-Oos, waar hy tot sy aftrede 31 Maart 1976 bly. Op die dorp waar hy grootgeword het, bly hy woon en daar sterf hy skielik net voordat hy die Sondagoggenddiens in sy ou gemeente sou gaan lei. Vir baie jare het hy die Ring van Ermelo in die Sinodale Kommissie en die Sinodale Sendingkommissie verteenwoordig, terwyl hy ook lank dien in die Swaziland-Sendingraad – ‘n werkgebied wat besonder na aan sy hart lê. Soos sy vader was hy ‘n kenner van die Voortrekkergeskiedenis en hy was dan ook die kerk van Noord-Transvaal se verteenwoordiger in die Bloedrivierkommissie. Waar sy vader die hoeksteen van die Bloedriviermonument gelê het, val die eer hom te beurt om by die restourasie van die terrein ‘n gedenksteen te onthul. Oral waar hy gearbei het, het hy die onderwys op sy hart gedra. Op Ermelo was hy dan ook lank voorsitter van beide die Beheerraad van die Hoërskool Ermelo en die skoolraad. Van die plaaslike hospitaalraad was hy ten tyde van sy heengaan nog voorsitter. Hy was ‘n uitgesproke, maar ook hartlike, spontane, minsame en lewenslustige mens, met ‘n opgeruimde gemoed en diepe geestelike oortuigings. (Jaarboek 1980/246).