Naude, Jozua Francois * 1913

Ds. Naude Jozua

gebore

23 Febr. 1913

OORLEDE

29 Okt. 2002

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1939

ORDEN

1940

standplase

12 Okt. 1940 Dutoitspan

1945 Elsburg

1949 Org. Sekr. Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Tvl.

EMERITEER

Ds. Jozua Francois Naude (BA) 23/02/1913 29/10/2002: Jozua Naude (oom Joos, soos hy later genoem is) was ‘n seun uit die bekende familie van ds. en mev. JF Naudé. Broers en susters van hom wat nog lewe, is Beyers Naudé, Lichtstraal Söhnge, Netta Geldenhuys, Adalena Bekker en Stella Verloren van Themaat. Hy is op 23 Februarie 1913 op Roodepoort gebore waar sy vader toe predikant was.

Jozua het van 1918 tot 1919 sy skoolopleiding van die Laerskool Roodepoort, wat deur sy vader gestig is, ontvang. Daarna het hy die Laerskool Graaff-Reinet (1921 tot 1926) en die Hoërskool Graaff-Reinet (1927 tot 1930) bygewoon. Laasgenoemde skool is ook deur sy pa gestig. Op skool het hy in musiek belanggestel en die tjello bespeel.

Daarna het hy sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch (1931-1939) voortgesit en die BA-graad in 1933 verwerf. Hy het ook ingeskryf vir ‘n MA graad in Psigiatrie (dieselfde graad wat mediese studente destyds moes volg); maar kon dit nie voltooi nie omdat die dosent ‘n betrekking aan ‘n ander universiteit aanvaar het. Hy het aktief aan die studentelewe deelgeneem en het saam met drie ander studente die koerant Pro Liberate uitgegee.

As inwoner van Wilgenhof-koshuis was sy bynaam “Oorlog Naudé”, terwyl sy broer Beyers weer “Vrede” genoem is. Hoewel die bynaam nie regtig van pas was nie omdat hy ‘n saggeaarde mens was, het Jozua sterk standpunt ingeneem oor sekere kwessies en hom nie laat voorsê nie. Sy bediening was egter in die teken van die liefde. Ds. Naudé is in November 1939 gelegitimeer.

In 1938 het hy in die huwelik getree met dr SM (Maxie) Louw en uit die huwelik is twee kinders gebore, Stirling Graham Low (1945); wat in 1999 oorlede is, en Yzelle (1941); Die dood van Graham, wat ‘n bekwame ingenieur was en skielik kanker gekry het, was vir die familie ‘n baie groot slag. Daar is vyf kleinkinders.

Ds. Naude se eerste gemeente was Dutoitspan (Beaconsfield, Kimberley) waar hy in April 1940 georden en bevestig is. Hy het geskryf dat die gemeentes van die Ring van Dutoitspan ongetwyfeld die armste in die Kaap was. Daarom, al het die sinode besluit dat die predikante iets soos ‘n “oorlogtoelaag” moes kry, was sy gemeente te arm om dit te bekostig. Die Tweede Wêreldoorlog was toe aan die gang en jong seuns wat hulle vir diens aangesluit het, is by Alexander Fontein – wat in die gemeentegrense geval het – opgelei. Ds. Naudé moes dusin een jaar sewe “katkisasies” hou en het ongeveer 170 jongmans belydenis van geloof laat aflê.

Sy tweede gemeente was Elsburg waar hy in April 1944 bevestig is. In 1949 was hy die eerste Afrikaanssprekende organiseerder van die British and Foreign Bible Society, met werkgebied die Vrystaat, Swaziland en Basoetoland. In 1967 het hy die organiserende sekretaris van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vir Oos-Transvaal geword. In 1968 het hy die sekretaris vir Beplanning en in 1971 sekretaris vir Vertalings geword. Nog later, in 1974, is hy aangestel as assistent-hoofsekretaris vir Produksie en distribusie beplanning van die BSA in Kaapstad. Hy het vir 27 jaar uitmuntende diens vir die Bybelgenootskap gelewer.

In April 1976 het ds. Naude geëmeriteer en het hy en sy vrou in die Strand gaan woon. Daar was hy nog aktief as ouderling in die Strand-gemeente en het steeds dienswerk gedoen deur weduwees met die instandhouding van hulle huise te help.

Later het ds. Naude-hulle na die Ametis-ouetehuis getrek waar sy vrou oorlede is. Aangesien sy gesondheid versleg het, het hy na sy dogter op Springs verhuis, en later na die Masonic Havenhuis in Pretoria verskuif waar sy suster Netta Geldenhuys ook tuis was. Op 29 Oktober 2002 is hy in die ouderdom van 89 jaar in die Wilgers-hospitaal Oorlede.

Jozua Naude was ‘n bekende en geliefde Afrikaanse taal en kultuurmens en deur sy intense betrokkenheid by die Bybelgenootskap het hy ‘n onberekenbare bydrae tot die Christendom en ook die Afrikaanse taal gelewer. Hy was ‘n getroue leraar en het die pligte van ‘n predikant baie ernstig opgeneem.

Sy verassingsdiens was op Saterdag 2 November 2002 uit die NG Gemeente Fontainebleau. Die familie het oor hom geskryf: “Ons dank en loof God die Skepper en Vader vir sy aardse lewe en talente

Hy laat vir ons ‘n waardevolle skat van geestelike rykdom na wat ons met groot dankbaarheid koester.”

(Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 21/07/2000 ingevul het, sowel as verskeie berigte oor hom en ‘n gesprek met mev. Netta Geldenhuys.)