Naude, Jacobus Izak Du Toit

 

gebore

30 Mrt. 1924

OORLEDE

06 Apr. 1999

UNIVERSITEIT

BA, MA, BD (UP)

gelegitimeer

1948

ORDEN

1949

standplase

1949 Louwsburg

1952 Eloffsdal-Wes

1958 Pretoria (NGSK)

1960 Windhoek-Wes

1963 Paul Roux

1966 Springs

1967 Presidentsoord

1973 Lugmaggimnasium

1977 Voortrekkerhoogte

EMERITEER

Ds. Jacobus Izak Du Toit Naude (BA, MA, BD) 30/03/1924-06/04/1999

Kosie Naudé was ‘n vriendelike, meelewende, innemende, gedissiplineerde en hartlike mens. Hy was op en wakker in sy hele optrede en dit het ‘n mens altyd tuis by hom laat voel. Hy is op 30 Maart 1924 op Hanover gebore waar sy vader ‘n boer was. Sy skoolloopbaan het op Hanover begin (1932-1939) en sy hoërskoolloopbaan het hy aan die Afrikaan Hoër Seunsskool van Pretoria deurloop. Hy het na die Universiteit van Pretoria gegaan waar hy sy BA-graad (1945); MA in Grieks (1948) en BD (1948) behaal het. Hy is op 23 November 1948 gelegitimeer.

Op 11 Desember 1948 is hy met Maria Elizabeth (Ria) van der Merwe getroud. ‘n Halfuur voor sy troue is hy byna deur `ʼn weerligstraal getref toe hy op pad kerk toe was. Hy het die voorval altyd as ‘n wonderwerk beskou. Die Here het hierdie mooi huwelik geseën met twee dogters, Elize (24 Augustus 1951) en Anfra (22 Januarie 1957); Daar is ook vyf kleinkinders.

Sy roeping om predikant te word, het hy reeds as jong seun ontvang. Hy was baie bewus van hierdie roeping en het dikwels daaroor gepraat en daarvan getuig. Selfs na sy aftrede het hy nog volgehou dat die Here hom geroep het en dat hy nooit kan aftree nie, want die Here sê altyd vir hom: “Aantree”.

Hy is op 2 Februarie 1949 in die NG Gemeente Louwsburg in Natal georden. In sy lang bediening het hy ook die volgende gemeentes bedien: Eloffsdal-Wes in Pretoria (1952) en die NG Sendingkerk gemeente Pretoria (1958); In hierdie gemeente was hy betrokke by die reëlings van besondere kooruitvoerings. In 1960 het hulle na die destydse Suidwes-Afrika geskuif waar hy die gemeente Windhoek-Wes bearbei het. In 1963 het hy na die Vrystaat gegaan om in die gemeente Paul Roux te dien. In 1966 het die leraarspaar weer na Suid-Transvaal verhuis, eers na Springs (1966) en toe Presidentsoord-Springs (1967); waar hy vir die eerste keer kapelaan geword het. Hier het hy die bou van ‘n kerk, saal en pastorie.

In 1973 het hy kapelaan van die Lugmaggimnasium geword en vanaf 1978 was hy kapelaan by Voortrekkerhoogte. Dit was vir hom ‘n besondere voorreg om die Nasionale dienspligtiges, die manskappe en die offisiere en onder-offisiere van die Weermag as sy gemeente te hê. Sy kapelaanskap was vir hom ‘n opwindende tyd en hy was later ook mentor van talle dienspligkapelane. Tydens sy hele bediening was die prediking en huisbesoek vir hom van die hoogste prioriteit.

Hy was ‘n man wat ook sy plek volgestaan het in die kommissiewerk van die kerk. Hy het in die Sinodale Sendingkommissie, die Sinodale Kommissie vir Ampsbediening en Evangelisasie, die Sinodale Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid en die Sinodale Fondse Kommissie gedien.

Sy BD-verhandeling was getiteld: “Die Engelewese in die Ou Testament.” Later het hy ‘n belangrike hoofstuk geskryf in die boek Evangelistiek onder redaksie van prof JJ de Klerk.

Na sy aftrede op 60-jarige ouderdom as kapelaan, het hy weer in Presidentsoord vir twee en ‘n half jaar gaan help as pastorale hulp. Die gemeente het hom toe weer as leraar beroep. Hy het dit egter nie aanvaar nie, maar het later in Lyttelton, waar hulle gewoon het, as pastorale hulp in die talle aftree-oorde gehelp. Hy het lank as voorsitter van die Beheerraad van die Dienssentrum van Lyttelton gedien.

In hierdie tyd het hy ook as pastorale raadgewer vir Maxi-konsultante, ‘n filiaal van die Rentmeester-groep opgetree. Hy het geestelike raad gegee en berading vir die personeel gedoen asook navorsing na behoeftes op maatskaplike terrein.

Koos en Ria Naude het die voorreg gehad om in 1998 hulle goue bruilof te herdenk. Hy het toe reeds ‘n ernstige aandoening in sy gesig gekry. Met ‘n neusoperasie het dit geblyk dat dit ‘n “plaveisel karsenoom” is, ‘n kanker wat na die neusholte en wangbeen versprei het. Te midde van groot lyding het hy kobalt- en platinachemobehandeling ontvang wat hom later hewig geaffekteer het. As gevolg van die feit dat hy nie kon sluk of kos inneem nie, is hy op 6 April 1999 oorlede.

Koos was nie net ‘n goeie man, vader en predikant nie, maar ook ‘n goeie luisteraar. Hy was bereid om stil te bly en na ander se probleme te luister. Sodoende het hy werklik by mense uitgekom. Met sy stiptelikheid, gepaardgaande met nederigheid, opregtheid en ook ‘n pragtige sin vir humor, het hy almal wat hom geken het, se lewens verryk. Ria en die kinders kan net dankbaar wees dat die Here hom aan hulle geleen het. – Dirk Viljoen, aan die hand van die biografiese vorm, persoonlike herinneringe en ‘n huldiging van ds. Eduan Naude.