Naude, Christiaan Petrus

 

gebore

01 Jan. 1931

OORLEDE

27 Jan. 2006

UNIVERSITEIT

BA, Dipl. Teol. SD, SSAS

gelegitimeer

1959

ORDEN

1960

standplase

1960 VanderbijIpark

1962 Ohrigstad

1965 Reitzpark

EMERITEER

Ds. Chris Naude (BA, Dipl. Teol., SD, SSAS) (01/01/1931 – 27/01/2006)

Christiaan Petrus Naude is op 1 Januarie 1931 op Swakopmund in Namibië gebore. Sy ouers was Sarel Francois Naude en sy moeder Isabella Margaretha Beatrix van Greunen. Albei het die Here op verskeie plekke in die land as onderwysers gedien. Hy word groot in die wye Suidwes-Afrika wat dwarsdeur sy lewe ‘n groot rol speel en waar hy die hoogste sport bereik. Hy begin sy skoolopleiding aan die Laerskool Grootfontein (1938 – 1941); Pretoria-Oos (1941-1942) en Outjo in Suidwes Afrika (1943); Hy is van 1944 tot 1948 leerling aan die Hoërskool Swakopmund waar hy matrikuleer. Chris werk na skool van 1950 tot 1957 in die landdroskantoor op Grootfontein.

Maar in die hart van Chris leef die roeping tot die evangeliebediening en hy behaal die BA-graad wat toelating gee tot die NG Kerk se Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria. Chris woon in die later bekende Sonop waar hy sekretaris is en ook sekretaris van die Perdeby, ‘n studentekoerant. Aan die einde van 1959 word hy as proponent gelegitimeer en aan die begin van 1960 met handoplegging bevestig in die NG Gemeente Vanderbijlpark. Hier is hy betrokke by die bou van ‘n nuwe kerkgebou en dien die Here op wye akkers in die ontwikkelende Vaaldriehoek. Na slegs twee jaar word hy leraar van Ohrigstad waar hy die Moeder- en die Sendingkerk saam bedien. Hy is geseën met ‘n uitstekende werksvermoë. In 1965 word hy leraar van die NG Gemeente Reitzpark op Welkom in die Vrystaatse Goudveld, maar vertrek in 1968 na die NG Gemeente Tzaneen in die Transvaalse Laeveld, waar hy ook as burgermag-kapelaan diens doen. In 1971 begin sy verbintenis met die SA Weermag (SAW) toe hy kapelaan word op Tzaneen en ook lid van die raad vir die totstandkoming van die Letyaba-skool vir kreupel kinders.

In 1975 verhuis hy na Grootfontein in die destydse SWA en word in 1978 die assistent Kapelaan-Generaal in die Leër. In 1980 is hy deel van die NG Gemeente Arcadia waar hy in 1983 die Kapelaan-Generaal van die SAW word. In 1986 word hy verbind in dieselfde hoedanigheid met die NG Gemeente Noordoos-Pretoria tot in 1990. Tydens ‘n Katolieke Kapelaanskonferensie in Rome het hy ook ‘n oudiënsie met Pous Johannes PaulusII, ‘n uitsonderlike gebeurtenis. Hy ontvang ‘n spesiale “Vaderlike Apostoliese Seëning” in Afrikaans, gerig aan die Kapelaan-Generaal en sy Kapelane. In 1990 word hy bevestig in die NG Gemeente Pretoria-Oos met standplaas Washington, met opdrag die bediening van lidmate in Noord-Amerika. Hy besoek drie jaar lank lidmate in die VSA, Kanada, Chili, Brasilië, Uruguay, Paraguay en Argentinië. En een jaar lank is hy betrokke by besoeke aan Afrika-lande, die Midde-Ooste en die Verre-Ooste. In die vier jaar verkondig hy die Woord in 50 wêreldstede. In 1994 aanvaar hy emeritaat.

Na sy aftrede woon die egpaar in Pretoria. Die laaste paar jaar van sy lewe geniet hy nie goeie gesondheid nie en ondergaan agt jaar voor sy dood ‘n hartvat-omleidingsoperasie. Hy help ook ‘n maroela pulp-fabriek vestig, ook die vestiging van ‘n artikel 21-maatskappy wat na die behoeftes van arm gemeenskappe omsien.

Hy is op 10 Desember 1960 met Ria Slabbert getroud. Uit die huwelik is drie kinders gebore: Leana wat getroud is met Rikus Ficher; Francois is getroud met Susan Kruger; Jaco is getroud met Tracy Gresse. Daar is ses kleinkinders, drie seuns en drie dogters.

Hy sterf op 27 Januarie 2006 en word op 3 Februarie 2006 vanuit die NG Kerk Skuilkrans begrawe, waar ds. Jan van den Berg die Woord by die dankdiens verkondig. Huldeblyke word gelewer deur Rikus Fischer en Generaal-Majoor Johan de Witt. Daar word onder meer gesê: “In die weermag het hy, met sy mooi persoonlikheid, goeie menseverhoudinge en nederigheid, menige soldaat en dienspligtige na die Here gelei. Hy het geglo dat kapelane tydens militêre operasies tussen die soldate moet wees en nie van veraf op ‘n veilige plek nie. Tydens die meer as sewe jaar wat hy die pos van Kapelaan-Generaal beklee het, was hy ook lid van die Verdedigingsbevelsraad en het hy die Woord van die Here ook daar laat spreek. Chris het ‘n besondere bydrae gelewer op interkerklike vlak, deur die samewerking van alle kerklike denominasies in Suid-Afrika te bevorder tydens die oorlogsjare, asook tydens sy bediening in die buiteland.”