
gebore
10 Mei 1915
OORLEDE
7 Sep. 2004
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1939
ORDEN
1940
standplase
1940 Wellington (Hpr.)
1942 Loxton
1945 Pretoria-Suid
1948 Olifantsfontein
1949 Pretoria-Oos
1955 Potchefstroom
1957 Aasvoëlkop
EMERITEER
–
Beyers Naudé is gebore te Roodepoort, Suid-Afrika, op 10 Mei 1915. Hy was een van agt kinders van ds. Jozua Francois Naudé en Ada Naudé. Sy pa was ‘n predikant van die NG Kerk, die stigter van die Volkskool op Graaff-Reinet en ‘n stigterslid en eerste voorsitter van die Broederbond.
Hy matrikuleer op Graaff-Reinet en studeer aan die Universiteit Stellenbosch en behaal ‘n MA-graad in tale. Hy voltooi sy studies aan die Kweekskool in 1939.
In 1940 word hy as lid van die Afrikaner-Broederbond toegelaat – die jongste lid van sy tyd in hierdie organisasie. Hy word in 1942 in die NG gemeente Loxton bevestig en georden en daarna is hy presikant van Pretoria-Suid (later Lyttelton genoem), Olifantsfontein, Pretoria-Oos, Potchefstroom en Aasvoëlkop. In 1961 word hy aangewys as moderator van die Suid-Transvaal Streeksinode. Soos ander, is hy self daardeur verras en lok wyd kritiek uit vir sy standpunt teen die apartheidsbeleid van die Nasionale Party.
As gevolg van toenemende druk en kritiek weens sy anti-apartheidsuitsprake en standpunt wat op Bybelse gronde en Christenskap berus, bedank hy uit die bediening in Oktober 1963. Hy en sy vrou gaan vestig hulle in Parkhurst omdat dr. Jan van Rooyen, leraar van die NG gemeente Parkhurst die Christelike Instituut goedgesind was en bly lidmaat van dié gemeente tot 1978, toe hy lidmaat word van die NG Kerk in Afrika se gemeente in Alexandra. Gedurende die jare 1977 tot 1984 raak hy betrokke by ondergrondse weerstand teen apartheid. In 1980 is hy toegelaat tot die NG Kerk in Afrika, die sendingkerk (vir swart mense) van die NG Kerk.
Na die totstandkoming van die demokratiese bestel in Suid-Afrika in 1994, word Beyers Naudé wêreldwyd gehuldig vir sy rol in die anti-apartheidsbeweging en ontbinding van die voormalige Suid-Afrikaanse politieke bestel.
Sy gesondheid gaan sedert 1999 agteruit en hy verswak dermate dat sy bondgenoot Nelson Mandela hom in ‘n rystoel moet rondstoot tydens ‘n plegtigheid in Augustus 2004. Beyers Naudé sterf op 7 September 2004 in ‘n aftree-oord in Northcliff, Johannesburg.