gebore
18 Februarie 1922
OORLEDE
28 Februarie 2014
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1946
ORDEN
1947
standplase
1953 Port Elizabeth
1959 Calvinia
1962 Calvinia-Hantam
1967 Citrusdal
EMERITEER
1987
Marthinus Gerhardus Mynhardt is op 18 Februarie 1922 op Koffiefontein in die Suid-Vrystaat gebore. Sy vader is dr Joseph Hermanus Mynhardt en sy moeder Helena Dorothea Janse van Rensburg. Sy pa is ‘n diepgelowige man met baie insig en wysheid. As tandarts dien hy die Here op Jagersfontein, Fauresmith en Kimberley.
Tienie Mynhardt se oupa aan vaderskant is MG Mynhardt van die plaas Blanco in die distrik Smithfield; Tienie is na hom vernoem. Sy grootouers aan moederskant boer op die plaas Wintershoek in die distrik Koffiefontein.
Tienie begin sy skoolopleiding aan die Laerskool Jagersfontein (1928- 1930) en Laerskool Fauresmith (1931- 1933) en is sedert 1934 ‘n leerling aan die Hoërskool Werda op Fauresmith, waar hy in 1938 matrikuleer. Hy skryf: “Die Here het my sedert my kinderjare van my toekomstige roeping oortuig.”
Daarom vertrek Tienie na, matriek na die destydse UOVS in Bloemfontein, waar hy in 1942 ‘n BA (Admissie)- graad behaal. Hierna loop sy pad na Stellenbosch, waar hy in 1943 by die Teologiese Seminarium aanmeld.
Prop MG Mynhardt word in 1946 in die Groote Kerk in Kaapstad gelegitimeer. Op 1 November 1947 word hy op Queenstown met handoplegging bevestig. Die bevestigingsrede word deur sy nuwe kollega, ds. PA de Wet, gelewer, en sy moeder hang die toga om sy skouers.
Nadat ds. Tienie Mynhardt reeds drie jaar lank predikant op Queenstown is, trou hy op 23 Desember 1950 met Annette Pauw van Riebeek-Kasteel.
Hulle het mekaar op Stellenbosch ontmoet, waar sy ‘n BSc-graad behaal het. Sy was ‘n onderwyseres aan die Meisieskool La Rochelle in die Paarl, en aan die Rhenish-meisieskool op Stellenbosch. Sy het ook by Wellington se onderwyskollege klasgegee. Uit die huwelik is daar vier kinders gebore: Dr JH Myburgh, ‘n internis in Kimberley; MG Mynhardt, ‘n administratiewe assistent, wat ook in Kimberley woon; Priscilla (Janse van Rensburg) woon in Pretoria; en die jongste, Annette Maria Mynhardt, is getroud met ds. Nico Roux van die NG Gemeente De Aar-Noord.
Op 29 Augustus 1953 word Tienie leraar by die NG Moedergemeente Port-Elizabeth. En na ses jaar in die Baai, vertrek die gesin na die NG Moedergemeente in Calvinia, ‘n sterk boerderygemeenskap, waar hy op 8 November 1959 as medeleraar ontvang en bevestig word. Algou word die gemeente te klein vir die groeiende aantal lidmate en daar ontstaan ‘n groot behoefte aan afstigting — en so kom die NG Gemeente Calvinia-Hantam tot stand.
Die eerste leraar is ds. MG Mynhardt; hy word op 19 Augustus 1962 daar bevestig. Onder Tienie se leiding word daar ‘n nuwe kerk en saal gebou, en
projek vestig ‘n besonderse band tussen die gemeentelede in Calvinia-Hantam.
Toe, in 1967, kom die roepstem na die NG Gemeente Citrusdal. Hier is hy betrokke by die bou van ‘n saal en die “Ons Huis”- aftreeoord vir bejaardes.
Tydens sybediening is getroue huisbesoek, Bybelstudie en pastoraat baie belangrik. In die gemeenskap werk hy met ywer, tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 29 April 1987.
Na sy aftrede gaan woon Tienie en Annette Mynhardt in hulle eie huis op Stellenbosch, maar gaan besoek gereeld die gesin se seehuis by Bettysbaai. Op 20 April 1992 word hy ernstig beseer toe hy op Bettysbaai val, maar na twee breinoperasies herstel hy merkwaardig. Na sy vrou se dood, verhuis Tienie na Kimberley, waar hy onder sy seuns se wakende oog versorg word. Hy voltooi sy aardse wedloop met sy afsterwe op 28 Februarie 2014. — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek 2015).