Myburgh, Jacobus Francois

Ds. Myburgh Jacobus

gebore

11 Sep. 1912

OORLEDE

06 Jun. 1996

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1938

ORDEN

1939

standplase

1939 Observatory

1941 Tierberg

1944 Victoria-Wes

1947 De Aar

1952 Irene, Johannesburg-Oos

1957 Cradock

1959 Burgersdorp

1961 Brixton

1965 Rynfield

EMERITEER

Ds. Jacobus Francois Myburgh BA 11.09.1912 – 06.06.1996

Ds. Kosie Myburgh was van huis uit ‘n Vrystater. Hy is op 9 September 1912 op ‘n plaas in die distrik Ficksburg gebore. Hy gaan op verskillende Vrystaatse dorpe skool en matrikuleer aan die einde van 1931 aan die Hoërskool Ladybrand.

Aangevuur tot verdere studie deur sy moeder, skryf hy in 1932 in as student vir sy BA-graad in onderwys aan die Grey Universiteitskollege, Bloemfontein. Gedurende sy tweede jaar aan die kollege ontvang hy egter die duidelike roeping om predikant te word. Aan die einde van 1934 behaal hy die BA-graad, maar skryf terselfdertyd in vir die Admissie-eksamen in Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Na vier jaar teologiese studies daar, word hy aan die einde van 1938 gelegitimeer.

Hy word op 6 Mei 1939 in Observatory georden. Hierna bedien hy die volgende gemeentes: Tierberg (16.08.1949); Victoria-Wes (25.03.1944); De Aar (11.01.1947); Johannesburg-Oos (11.01.1952); Cradock (09.02.1957); Burgersdorp (25.07.1959); Brixton (1961); Rynfield (1965); Grahamstad (1968) en Hopetown (10.11.1974).

In De Aar het hy in die vyf jaar wat hy daar was nie alleen baie geseënd gearbei nie, maar ook 23 beroepe ontvang.

Hy aanvaar sy emeritaat na ‘n bediening van 39 jaar in 11 gemeentes. Aanvanklik vestig hulle hulle in Cradock, maar verskuif later na Somerset-Oos. Daar is sy vrou, Marjorie, wat ‘n nooi De Smidt van Seepunt was, in 1994 Oorlede. Daarna het sy lewenskrag vinnig afgeneem en twee jaar later het hy ook gesterf op 6 Junie 1996 in die ouderdom van 84 jaar.

Sy drie dogters, Alette du Plessis, Retha Burgers en Pikkie Louw, het hom tot aan die einde liefdevol versorg. Hy word ook oorleef deur ‘n seun, Francois, en sewe kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Die teks by sy begrafnisdiens (deur sy broer, ds. Frank Myburgh gelei) was 1 Kor. 15:10: `Maar deur die genade van God is ek wat ek is

Dit was ook die teks waaroor hy sy proefpreek in 1938 gehou het. Dit was die grondslag van sy hele Woordbediening en ook die tema van sy lewe wat hy in alle omstandighede ervaar het, naamlik die genade van God. Hy was inderdaad ʼn begenadigde mens’.

Kosie Myburgh sal onthou word vir sy vurige preekstyl, sy intense belangstelling in alle mense en sy vriendelike omgang met almal met wie hy in aanraking gekom het. – Verwerk uit verskillende bronne deur DJ Viljoen.