Myburgh, Francois Petrus Panter

 

gebore

25 Apr. 1928

OORLEDE

15 Jul. 2010

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1946

ORDEN

1947

standplase

1947 Greytown

1951 Warrenton

1955 Florida

1956 Florida-Suid

1962 De Aar-Noord

EMERITEER

Ds. Frank Myburgh (BA, BA Hons, MTh) 25 April 1928 – 15 Julie 2010

Francois PetrusPanter Myburgh is op 25 April 1923 op Ladybrand gebore. Sy ouers, Francois Petrusvan Blerk Myburgh en Margaretha Johanna Panter, het op Clocolan gewoon. Frank was een van drie broers en twee susters. Frank het in 1928 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Clocolan begin, maar nadat die gesin in 1935 na Senekal getrek het, het hy aan die einde van 1939, toe hy slegs 16 jaar oud was, aan die Hoërskool Senekal gematrikuleer.

In 1940 het hy na die Universiteit van Kaapstad vertrek, waar hy die BA-graad verwerf en in 1943 toelating tot die Teologiese Seminarium op Stellenbosch verkry het. Frank was bekend vir sy leergierigheid en is op 6 Desember 1946 as proponent gelegitimeer.

Op 29 Junie 1946 is hy met Helena Hendrina (Leonie) Herold van Observatory in Kaapstad getroud en uit die huwelik is vyf kinders gebore: Helena, Marietjie, Frank, Philip en Ilze.

Frank se eerste beroep was na die NG Gemeente Greytown in Natal en op 14 Februarie 1947 is hy daar met handoplegging ontvang en bevestig. Hierna het sy pad na die NG Gemeente Warrenton geloop, waar hy op 3 Februarie 1951 bevestig is deur ds. SB Meyer van Kimberley. Op 11 Junie 1955 het sy pad na die Wesrand geloop toe hy leraar geword het van die NG Gemeente Florida. Hy was ten nouste betrokke by die afstigting van die NG Gemeente Florida- Suid, waar hy op 23 Februarie 1956 die eerste leraar geword het.

Nadat hy ‘n beroep na die NG Gemeente De Aar-Noord ontvang het, is hy daar in 1962 bevestig, en ‘n dekade later, op 14 April 1972, het Frank leraar van die NG Gemeente Goudini op Rawsonville geword. Hy was tot die einde van sy lewe lief vir studeer, en in 1981 het hy ‘n Meestersgraad op Stellenbosch oor die bejaarde in sterwensnood voltooi. Hy het mense altyd aangemoedig en gemotiveer om verder te studeer.

Frank het ‘n besondere vermoë gehad om die Here se Woord op ‘n sagte en verstaanbare wyse oor te dra. Uitsonderlik was sy voorbereiding. Hy was belese, het ‘n fyn humorsin gehad en op ‘n besondere manier in die gemeente belanggestel.

Ds. Frank Myburgh het op 25 Maart 1985 emeritaat aanvaar en hy en Leonie het na die Strand verhuis. Hy is op 15 Julie 2010 Oorlede. Sy gemeentelede onthou: “Dominee was ‘n mens-mens, kindervriend, dierevriend, natuurvriend, boekevriend en het net goed en mooi in dinge raakgesien. Van die eenvoudigste boemelaar tot die mees aanstaande. Sy geesdrif, ondeundheid, positiewe gesindheid, toewyding, liefde vir sy medemens, sy roeping bewustheid, sy liefde vir die Here, raaksien van klein dingetjies, ondersteuning, belangstelling, onthou, toepaslike aanhalings en gedigte, terggees, insig en wysheid sal maak dat die leemte wat hy laat, nooit gevul sal wees nie.” – Dr Gerdrie van der Merwe.