Ds. Murray en ook dr. Laws voel dat daar na die suidekant van die sendingveld van Livingstonia na ‘n veld vir die Ned. Geref. Kerk gesoek moet word. ‘n Week na die koms van eerw. Vlok vertrek die twee sendelinge te voet op die soektog. By Kasungu maak die hoofman van die gebied, Mwase, nie ‘n gunstige indruk nie.
Hulle gaan verder en verby hoofman Msakarnbewa (waar die latere Kongwe stasie aangelê word) tot by die hoofman Chiwere van die Angoni-volk, wat van Zoeloe-oorsprong is. Teen die helfte van die 19de eeu vlug Zwangendaba, ‘n vername indoena van Shaka, en sy volgelinge vir die Zoeloekoning uit Natal. Op 19 November 1835 (op ‘n dag van totale sonsverduistering) gaan hulle oor die Sambezi en trek tot in die huidige Tanzanië. Na die dood van Zwangendaba in 1848 verdeel hulle onder verskillende van sy indoenas. Sommige trek noordwaarts na Meer Victoria en ander na die huidige Malawi en oostelike provinsie van Zambië. Een van hul hoofmanne, Chiwere, vestig hom by Kaso-heuwel en hier besoek die twee sendelinge hom. Die Angoni ondertrou met vrouens van plaaslike stamme en die moeder leer die kind haar taal. Sodoende verloor hul algaande hul Zoeloetaal.
Chiwere willig in om ‘n sendingstasie naby sy dorp toe te laat. In hierdie tydregeer die hoofmanne nog die land. Eers in 1891 word Malawi ‘n Britse Protektoraat. Selfs daarna gaan die hoofmanne in die sentrale gebied voort om hulself as onafhanklik te beskou, totdat Britse gesag tussen 1896 en 1897 daar ingestel word.
Die N.G. Sending erken van die begin af die gesag van die hoofmanne en vra hulle verlof om ‘n sendingstasie te begin. Na die koms van die Britse regering word die regering se verlof natuurlik ook gevra en moet grond vir die doel van die staat aangekoop word.
Waarom laat Chiwere, en na hom verskillende ander kapteins, die sending toe? J. L. Pretorius wys daarop dat die rede in die meeste gevalle nie ‘n geestelike (verlange na die godsdiens) is nie, maar wel die volgende oorwegings:
* Die teenwoordigheid van sendelinge kan vir hom beskerming teen sy vyande bring, in ‘n tyd toe stamoorloë algemeen voorkom.
* Sendelinge kan goeie raadgewers en tussengangers tussen hulle en die Britse regering wees.
* Dit sou ook die status van ‘n hoofman verhoog om Blankes op ‘n sendingstasie in sy gebied te he.
* Die sendelinge word aangesien as “persone met enorme krag om die bonatuurlike magte te manipuleer.”
Die Sondag wat die sendelinge by hoofman Chiwere oorbly, word onder ‘n wildevyeboom kerk gehou. Die kaptein met baie van sy mense is teenwoordig. Ds. Murray preek oor Joh. 3:16: “So lief het God die wêreld gehad. Wanneer die heidene vir die geeste bid, doen hulle dit met oop oë. Nou sê die Witman: “Maak toe die oë dat ons bid.” Hulle vertrou die vrede nie. Wat wil die vreemde man met ons doen wanneer ons oë toe is? Chiwere herhaal vir sy mense die versoek om oë toe te maak, maar hyself loer met een oog op die sendeling om te sien wat hy gaan doen! Ander sit die hand voor die oë, maar loer tussen die vingers deur.
Die sendelinge reis daarop ooswaarts vanaf Chiwere se dorp na die Meer en vandaar terug na Bandawe. Na verdere oorlegpleging met dr. Laws word finaal besluit om met ‘n sendingstasie by hoofman Chiwere te begin. Met behuip van ‘n boot van die U.M.C.A., die Charles Janson, en later die Ilala van die Livingstonia-Sending reis ds. Murray en eerw. Vlok tot by Ndindi. Daarvandaan trek hulle drie dae te voet die binneland in, terwyl ‘n groot getal vragdraers hul benodigdhede en persoonlike besittings vervoer die enigste metode van trek in ‘n land waar daar nog geen paaie, ossewaens, motors of treine is nie. Op 28 November 1889 slaan hulle hul tent naby hoofman Chiwere se dorp langs ‘n stroompie onder ‘n groot wildevyeboom, 40 km van die Meer, op. Hierdie datum word as die begindatum van die N.G. Sending in Malawi geneem. In ‘n digbeboste land, waar die gras tot vier meter hoog kan groei, is dit moeilik om die mees geskikte plek vir ‘n sendingstasie te bepaal. Standhoudende water is ook ‘n voorvereiste. Daarby moet die stasie om gesondheidsredes hoog geleë wees om die gevaar van malaria (deur muskiete gedra) te verminder.
Die eerste dae word dus aan verkenning van die omgewing bestee. Na verdere onderhandeling met die kaptein word besluit om die sendingstasie op ‘n breë rif, omtrent drie kilometer van Chiwere se dorp, te bou. As naam van die stasie word Mvera gekies, die naam van die heuwel waarop die stasie gebou word en wat “gehoorsaam” beteken (afgelei van ku-rn vera = om te gehoorsaam). In gehoorsaamheid aan die bevel van die Here in Matt. 28:19 word hierdie sendingveld ook begin. Dit is reeds laat in die jaar en die swaar somerreëns moes al begin het. Die twee sendelinge begin dus dadelik om vir hulle ‘n tydelike woning van pale en klei met ‘n grasdak op te rig (Bron: Cronje, J.M. 1981. Aan God die dank. p 18-19).