
gebore
20 Mrt. 1919
OORLEDE
16 Des. 2002
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1943
ORDEN
1945
standplase
Masjonaland
EMERITEER
–
Ds. George Muller Murray (BA) 20/03/1919 – 16/12/2002
George Murray was nie alleen ‘n gebore Zimbabwiër nie, maar het sy hele lewe en bediening aan die kerk van Zimbabwe gewy, veral die Reformed Church in Zimbabwe. Hy was ‘n mooi en innemende mens wat ander mense liefgehad het en die liefde van Christus uitgestraal het.
Ds. Murray is op 20 Maart 1919 op Masvingo in Zimbabwe gebore, waar sy vader ds. Henry Murray destyds die hoof van die Morgenster-sendingstasie was. Sy moeder was Sybella Susara du Toit. Hulle was toegewyde mense. Sy vader was verantwoordelik vir die opleiding van onderwysers, evangeliste en leraars. Sy moeder het ook gehelp met die opleiding van leraarsvroue. Morgenster was ‘n kinderparadys waar hulle vry kon speel en die natuur geniet. Hy het die eenmanskooltjie op die sendingstasie bygewoon tot 1931, en daar tot bekering gekom.
Van 1932 tot 1935 het hy by vriende in die huis gewoon en die Hoërskool Edenburg in die Vrystaat bygewoon. Dit was swaar depressiejare. Daarna het hy na die Universiteit van Stellenbosch (1936-1943) gegaan en die BA-graad verwerf. Hy het die studentelewe geniet en deelgeneem aan die berg-en-toerklub en hokkie gespeel. Hy is aan die einde van 1943 gelegitimeer.
Aan die einde van 1945 is ds. Murray in die gemeente De Rust georden met die oog op die Masjonoland-sending. De Rust-gemeente was sy ondersteunende gemeente vir 40 jaar. Intussen het hy opgetree as hulpprediker in die gemeente Bulawayo. Hy het ook tot Augustus1944 in die Makumba-sendingstasie van die Masjonoland-sending gedien. Hier het hy opgetree as skolebestuurder en met dr WJ van der Merwe, die sendeling-staatsman, saamgewerk. Van Junie 1945 af het hy in die Alheit-sendingstasie in Masjonoland gewerk tot Junie 1954 toe hy na Gutu verhuis het, steeds in diens van die Masjonolandsending.
Van Julie 1958 af was hy sendeling op Morgenster. Dit was ‘n groot gemeente waarvan twee gemeentes later afgestig het. Van Desember 1978 was hy dosent aan die leraarskool daar, waar hy dr Van der Merwe opgevolg het.
Hier het hy ‘n waardevolle bydrae gelewer tot die opleiding van swart leraars vir die kerk in Midde-Afrika. Ds. Murray het dit beleef toe die Masjonaland-sending op 4 Mei 1977 ‘n onafhanklike en outonome inheemse kerk geword het, naamlik die Reformed Church in Zimbabwe. Dit was vir hom ‘n groot oomblik in sy bediening. Terwyl hy in Alheit gedien het, het hy met Ina Maritz, ‘n sendeling-dogter wat as ‘n onderwyseres op die stasie gewerk het, getrou. Haar pa was in daardie stadium sendeling van Ermelo. Haar hart was, soos syne, in die sending. Uit hierdie geseënde huwelik is drie kinders gebore, Henry William (1950) wat tans ook predikant in Harare is, Karin (Februarie 1953) en Isabel (November 1953); Hulle is al drie getroud en daar is tien kleinkinders. Gedurende sy bediening by die leraarskool van Morgenster het hulle die spanning van die bosoorlog in Zimbabwe beleef. In 1977 het die dood van Andre en Binecke Brand, wat langs die pad oorval is, ‘n groot invloed op hulle gehad. Daar is toe ‘n aandklokreël op Morgenster ingestel. In 1978 was daar ‘n aanval op Morgenster en het hulle in die kruisvuur tussen die bosvegters en die weermag beland. Al was dit traumatiese ondervindings, het God hulle gedra en beskerm. In hierdie tyd het ds. Murray ook begin om die evangelie twee keer per maand in die tronk te bedien.
In 1980 het Zimbabwe onafhanklik geword. Die kerk het toestemming gekry om sy werk voort te sit na vier jaar waarin daar geen dienste plaasgevind het nie. Hy het in die Zunga-gemeente gehelp en soms in skole gekamp terwyl hy dienste gehou en huisbesoek gedoen het. Van 1983 tot 1985 is hulle terug na Morgenster en het hy voortgegaan met klasse by die leraarskool.
In 1985 het ds. Murray aftree-ouderdom bereik en emeritaat aanvaar. Hulle het op Masvingo gaan woon aangesien hulle die huis wat die sending vroeër aan hulle voorsien het, gekoop het. Ds. Murray het nog afgelos en saam met sy vrou hulle bediening in die gevangenis voortgesit.
In 1987 het hulle oorsee gaan toer en ds. Murray het vir meer as drie maande in ‘n Skotse gemeente op die Isle of Skye afgelos. Later het hy weer vir afloswerk na Skotland teruggekeer. In 1997 het hulle hulle in die Pioneer Trust Cottages gevestig waar hulle tot ds. Murray se dood gewoon het.
In die week voor Kersfees 2002 moes Ina ‘n knieoperasie in Pretoria ondergaan. Ds. Murray was ook siek en ‘n gewas is in sy maag gevind. Hulle het in verskillende hospitale beland waar hy geopereer is om die gewas te verwyder. Ina het van haar operasie herstel, maar ds. Murray is kort syne op 16 Desember 2002 Oorlede.
Die verassingsdiens is in Pretoria gehou en sy as is teruggeneem na Zimbabwe, waar ‘n roudiens op Morgenster gehou en sy as in ‘n kis begrawe is. Talle sendelinge en oudsendelinge was teenwoordig en van sy oudstudente het sy kis gedra. Volgens die plaaslike gebruik is ‘n “troosdiens” daarna vir die agtergeblewenes gehou.
Hierdie “troosdiens” is deur die Moderatuur gereël en het ʼn vreugdediens geword. Honderde van die plaaslike inwoners wat saam met Mbuya (“oupa”) gewandel het, het die diens bygewoon wat deur ds. Chumotiri gelei is. ‘n Mielieplant is vir die diens in die kerk ingedra en ds.
Chumotiri het verduidelik dat een mieliepit wat geplant en natgegooi word, honderde mielieplante kan voortbring. Hoe weet ons nie. Sekuru (ds. Murray) het geplant en gebid en die Heilige Gees het gewerk, en vandag sit die kerk vol pitte om daarvan te vertel en die familie te troos.
Ds. George Murray was altyd ‘n perfekte “gentleman” en het die erename Muneri of Sekuru (“grootvader”) verdien. Hy was ‘n toegewyde verbondsman wat die beeld van sy Hemelse Vader uitgeleef het. Hy was onwrikbaar in sy beginsels en optrede, ‘n vriend van sondaars en ‘n spesiale begunstigde van die genade van God.
(Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 9/8/2000 ingevul het en ‘n gesprek met sy eggenote, sowel as stukke wat sy beskikbaar gestel het.)