Muller, Hendrik Albrecht

 

gebore

31 Okt. 1919

OORLEDE

03 Aug. 2004

UNIVERSITEIT

 –

gelegitimeer

1944

ORDEN

1945

standplase

1945 Hendrina

1949 Bonnievale

1952 Schweizer-Reneke

1955 Vrede

EMERITEER

Ds. Hennie Muller 31/10/1919 – 03/08/2004

Hendrik Albert Muller is op 31 Oktober 1919 op die plaas Millvale in die distrik Vrede gebore. Sy vader was Joseph Jurgens Muller, ‘n boer wat later by die spoorweë aangesluit het. Sy moeder, Maria Elizabeth Boshoff, was ‘n boorling van Trompsburg in die Suid-Vrystaat, ‘n onderwyseres wat in die distrik Vrede gaan onderwys gee en so haar lewensmaat ontmoet het. Hennie het sy skoolopleiding in ‘n plaasskool tussen Volksrust en Newcastle begin, en

het later in Bloemfontein aan Grey Kollege gematrikuleer. As jong seun het hy uitgehelp as koster in die NG Gemeente Bloemfontein-Oos, waar hy vroeg reeds die begeerte gehad het om predikant te word. Tydens sy laaste skooljare is sy vader na Keetmanshoop verplaas, maar Hennie het in Bloemfontein agtergebly om te matrikuleer.

Nadat sy moeder ‘n sendingkongres bygewoon en onder die indruk gekom het van die groot nood, het Hennie besluit om sendeling te word. Sy pad het na die Sending-instituut op Wellington geloop. Na ‘n wonderlike studietyd is hy op 29 November 1944 as sendeling gelegitimeer. Daar was net twee kandidate: HA Muller en GC Oosthuizen. Hennie het ‘n beroep na die sendinggemeente op Hendrina ontvang, waar hy op 28 Februarie 1945 met handoplegging deur eerw. WS Bruwer as sendeling bevestig is. Die kerkie was baie nederig, en daar was nie eens ‘n kussing om op te kniel nie, maar gelukkig was daar in oom Fanie Durr se motor ‘n kussing sodat dit nie nodig was dat Hennie op die kaal misvloer met sy swartpak kniel nie.

Hy het in die stoepkamer van ds. Koos Driescher se pastorie gewoon en sy eerste ryding was ‘n fiets. Elke week het ‘n lid van die sendingkommissie hom kom haal en het hy die hele week in die buitewyke gewerk. Dit was goeie tye, al het enkele boere hom beskuldig dat hy van die swart mense Kommuniste maak. Maar hierdie dienskneg van die Koning het met takt en toewyding ook die goedkeuring van die boere gewen wat aanvanklik onverskillig teenoor die sending gestaan het.

In 1949 het eerw. Hennie ‘n beroep na die gemeente Bonnievale in die Breëriviervallei aanvaar, ‘n gemeente waar hy tot 1952 die Here gedien het. In 1952 het ‘n dringende roepstem van die Here hom terug na die Wes-Transvaal gebring, waar hy die sendingsaak met oorgawe gedien het. In 1955 is hy na Vrede in die Noordoos-Vrystaat beroep, en twaalfjaar later het hy na die gemeente Parys verskuif.

In die vroeë sestigs het die Algemene Sinode van die NG Kerk besluit dat alle eerwaardes volle predikantstatusverkry, word eerwaarde Hennie, ds. Hennie Muller. ‘n Dekade later is hy as leraar na die NG Gemeente Vanderbijlpark-Sentraal beroep, waar hy op 29 Oktober 1977 ontvang en bevestig is. Hier het hy met ywer gewerk totdat hy op 18 November 1985 emeritaat aanvaar het.

Hennie Muller het op Hendrina sy lewensmaat, Annie de Clercq, ontmoet. Sy was die jongste dogter van Gert en Anna de Clercq. Na hulle verlowing in 1948 het sy na Wellington vertrek om haar beter te bekwaam, en op 12 April 1949 is hulle getroud. Uit hulle huwelik is ses kinders gebore, twee seuns en vier dogters, en daar is reeds agt kleinkinders. Na ds. Hennie se aftrede het die egpaar hulle in Bedworthpark in Vanderbijlpark gevestig, waar die egpaar ‘n gelukkige aftrede beleef het.

Op 3 Augustus 2004 het die 84-jarige leraar na siekte van langer as drie jaar gesterf. Hy is onder blyke van groot belangstelling op 6 Augustus 2004 vanuit die kerkgebou van sy ou gemeente begrawe. Die rede is gelewer deur ds. Frans van Loggerenberg uit Genesis 6:14. “Maak vir jou ‘n ark van goferhout. Jy moet vertrekke in die ark maak en dit binne en buite met pik dig maak.” – Dr Gerdrie van der Merwe.