Mostert, Nicolaas Johannes

Ds. Mostert Nicholaas

gebore

14 Oktober 1926

OORLEDE

5 Augustus 2012

UNIVERSITEIT

BA, Dipl Teol, MTh:

gelegitimeer

1951

ORDEN

1952

standplase

1952 Gibeon

1958 Usakos

1960 Walvisbaai

1963 Walvisbaai-Noord

1968 Hartswater

1970 demissie, verdere studie

1971 Witbank

1974 Middelburg-Kanonkop

EMERITEER

1992

Nicolaas Johannes Mostert is op 14 Oktober 1926 gebore. Hy bring sy kinderjare in die destydse Suidwes-Afrika (SWA) deur. Nic voel geroepe om predikant te word, en sy pad loop na Stellenbosch waar hy ‘n BA-graad verwerf. Hy verruil die Eikestad vir die Jakarandastad toe hy in 1948 ‘n student word aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit Pretoria. Hier word hy aan die einde van 1951 as proponent gelegitimeer.

In 1952 word hy met handoplegging in die NG Gemeente Gibeon, suid van Mariental in SWA, bevestig.

In 1958 kom daar ‘n roepstem na die NG Gemeente Usakos, waar hy twee jaar lank die Woord bedien.

Op 9 April 1960 word hy na die NG Gemeente Walvisbaai beroep. Hier werk hy totdat hy op 6 Januarie 1962 na die buurgemeente, Walvisbaai-Noord, vertrek.

Na ‘n geseënde dienstyd. in SWA word hy op 17 Augustus 1968 die leraar by die NG Gemeente Hartswater in die Vaalhartsbesproeiingskema noord van Kimberley. Op 27 Februarie 1971 word hy in die NG Gemeente Witbank ontvang en bevestig. In hierdie tyd studeer hy ook verder, en behaal ‘n MTh- graad.

Op 16 Junie 1974 word hy in die NG Gemeente Middelburg-Kanonkop bevestig. Hier werk hy met groot vrug, totdat hy in 1992 sy emeritaat aanvaar. Die egpaar verhuis na Pretoria, en hier word sy vrou, Elisabeth, ernstig siek. Hy versorg haar met groot deernis en liefde, tot met haar afsterwe op 9 Junie 2008. Op 5 Augustus 2012 sterf Nic Mostert in die geseënde ouderdom van 86 jaar. Hy en Elisabeth het nie kinders gehad nie.

In 1979 het hy ‘n groot rol gespeel in die stigting van die Sinode van Oos-Transvaal, en hy word as eerste moderator verkies. Tydens 1983 se sinodesitting is hy as moderatorherkies, en daarna is hy van 1987 tot 1991 assessor van die sinode.

Ds. Henk Boshoff, vroeër sy kollega in die gemeente Middelburg-Kanonkop, skryf: Dit was my voorreg om oom Doom se kollega te wees in die laaste jare van sy bediening, en tot met sy aftrede. Ek deel graag in die herinnering aan ‘n groot man — in die omgang bekend as ds. Nic Mostert, predikant, moderator, oom Doom en die kanon van Kano op!

“Oom Nic was ‘n unieke persoon — reguit, eerlik en opreg. Reg was reg en verkeerd was verkeerd. Dit was baie maklik om te weet waar jy met hom staan, omdat hy geen geheim daarvan gemaak het nie en geen gevoelens weggesteek het nie. ‘n Goeie predikant was hy, een wat sy lidmate tot in die laatnag besoek het, wat dadelik aan nuwe intrekkers vertel het in watter gemeente hulle sal wees. Met die koms van TV het hy menige televisiestel op huisbesoek afgeskakel, met ‘n `Waar sit die ding af?’

“Hy het ‘n groot stem gehad. Daar was nooit ‘n luidspreker vir hom nodig nie. Hy sal ook vir sy duidelike en duidelik-hoorbare! — prediking onthou word. Sy liefde vir kinders was duidelik in sy optrede teenoor hulle, en al was hy kwaai (en het hy nog kwaaier geklink!) het kinders graag na hom toe gegaan. Hy het ‘n intense belangstelling in mense gehad. En hy het ‘n geheue beter as ‘n olifant s’n gehad. Die Kerkorde was sy tweede Bybel; ‘n agenda en ‘n notule moes korrek wees anders doen jy dit r.”

Daar is baie staaltjies oor Nic (oom Doom) Mostert in omloop. Ds. Henk Boshoff vertel een daarvan: “Ek wou as jong dominee ‘n vraag tydens ‘n sinodesitting vra en het die knoppie op my bank gedruk. Langs my het oom Doom gesit, en toe my beurt kom, kondig die voorsitter aan dat “die kanon van Kanonkop” iets wil sê. Oom Nic het my net in die ribbes gepomp en ek moes praat — waarop ek toe reageer met: `Nee, dis die windbuks wat wil praat.’ Ek dink oom Doom se spook sal nog lank in die Oos-Transvaalse kerk loop!” Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek 2015).