Morgenster

Morgenster Laerskool

Ds Andries Adriaan Louw, het die eerste sendingstasie van die NGK in Suid-Rhodesië in Morgenster in 1891 gestig. Ondanks swak gesondheid en nog nie georden nie, was Louw die enigste wat die oproep van ds SP Helm beantwoord het na aanleiding van Helm se verkennende reis na Mashonaland die vorige jaar.

Louw, vergesel van sewe Sotho-sprekende Afrikaanse evangeliste, vertrek in April 1891 per ossewa na Masjonaland . Na ‘n moeisame reis van ‘n paar maande het hulle die piek van Mugabe se berg naby die Groot Zimbabwe-ruïnes bereik. Met die toestemming van die opperhoof is ‘n sendingstasie op 9 September 1891 sowat 35 km vanaf Fort Victoria (Masvingo) geopen.

Louw het die naam Morgenster genoem na aanleiding van sy grootwordhuis in sy tuisdorp Paarl, in die Kaapkolonie. Die volgende jaar het dr. Jameson, die administrateur van die Britse Suid-Afrikaanse Kompanjie, 6000 hektaar toegestaan ​​aan die missie.

Louw se vrou, Cinie (nee Malan), het later by hom aangesluit en hulle het hul bediening onder die Vakaranga begin. Vyf jaar later is die eerste twee bekeerlinge gedoop. Die werk het vinnig gegroei en in 1901, binne tien jaar na hul aankoms, is die eerste buitestasie op Pamushana, gestig. Die eerste ringvergadering van die Kerk in Mashonaland is in 1918 gehou.

‘n Sendingskool is in 1892 begin en ‘n skool vir evangeliste is in 1925 begin met ds Henry Murray (Sr) as die eerste dosent. ‘n Kweekskool is ook in 1936 gestig. Die eerste swart predikant, eerw. Ezra Shumba, is opgelei en in die laat 1930’s tot die bediening toegelaat. Vanaf 1936 was daar reeds duisend skoolonderwysers in diens van die sending, wat nie net kinders moes onderrig nie, maar ook die evangelie moes versprei.

Teen 1948 was daar ook skole vir meisies, doof- en stomleerders, en een vir blinde leerders. ‘n Drukpers is by Morgenster geïnstalleer om die Kerk in staat te stel om sendingliteratuur in die volkstaal te verskaf.

Die NG Kerk het ook een van die vroegste mediese sendingstasies in die gebied begin toe dit in 1894 ‘n hospitaal op Morgenster geopen het met die aankoms van mediese sendeling dr. John T. Helm. Dr. Helm bedien ook melaatses en begin in 1899 met ‘n vrywillige nedersetting vir melaatses by Morgenster. Teen 1912 het die aantal melaatses gedaal tot 40. In 1913 het die regering die melaatses na ‘n plaas in die naburige natuurreservaat verskuif.

Dr M. H. Steyn het in 1924 op Morgenster aangekom en onder sy toesig is die John Helm Gedenkhospitaal (1930) en Cinie Louw Gedenkhospitaal (1934) opgerig. Ter erkenning van sy jarelange diens is Dr Steyn in 1951 bekroon met die Orde van die Britse Ryk (MBE).

Die sendingstasie is op 4 Mei 1977 aan die regering oorgedra.

In Cronje, J.M. 1981. Aan God die dank. p. 93 die volgende:

 

Vanaf die voet van die berg Mugabe besoek ds Andrew Louw te voet eers die kaptein Mugabe, “wat groot vreugde uitgespreek het oor ons aankoms…al was dit dan ook met ‘n sterk bymotief dat hy (ds. Louw) hulle teen die Matebele sou beskerm.” Hy soek ook ‘n geskikte plek vir die beoogde sendingstasie uit. Op 9 September 1891, na ‘n reis van twee-en-’n-halwe maand vanaf Kranspoort en vier maande vanaf Paarl, Iaat Andrew sy wa finaal op die plek wat hy uitgesoek het, uitspan. Hy dink terug aan sy ouerhuis: die pastorie van Noorder-Paarl met die naam Morgenster. Morgenster doop hy dan hierdie eerste sendingstasie.“ Die naam sou dien nie alleen as ‘n dankbare herinnering nie, maar om my gebed tot die Here, en die diepste begeerte van my hart uit te druk, dat die eerste sendingstasie mag word soos die môrester wat opgaan in die duistere harte om die koms van die son van geregtigheid aan te kondig.”

‘n Nuwe dag breek bepaald vir die bevolking van die gebied aan. Nie langer sou hulle die Banjai, die honde, genoem word nie, maar Vakaranga, wat saam met vier ander stamme die Sjonagroep vorm. Weldra sal hulle begin om met die Woord van God en die Christelike geloofkennis te maak, in die skole kennis op te doen en hul siekes na die sendinghospitaal te bring. Morgenster sal ook die eerste van nege sendingstasies van die bekende Masjonalandse Sending in Rhodesië (Zimbabwe) word.

In Olivier, P.L. 1952. Wie is wie in ons sendingvelde? p. 1-2:

Ds. A. A. Louw, stigter

Morgenster, die hoofstasie van die Mashonalandse Sending van die Ned. Geref. Kerk, is gelee op Mugabe-berg, twintig myl van Fort Victoria en ongeveer vier myl vanaf die Zimbabwe-bouvalle in Suid-Rhodesie. Hierdie plek is vir ‘n bou terrein uitgekies omdat die omgewing dig bevolk was – die hoofkaptein se kraal was bo-op die akropolis gelee. Die feit dat dit hoog gelee was, met — volgens informasie van die Vakaranga — ’n  standhoudende fontein in die nabyheid en slegs twintig myl van ’n  ”kamp” waar ‘n kolonne van Rhodes

se “Pioneers” gestasioneer was, het my laat besluit om my hier te vestig. My eerste woning was ‘n tentjie waarin ek geruime tyd aan malaria en disenterie gely het.  Intussen het ‘n paar van die Basoeto-evangeliste wat met my saamgekom het, ‘n vierkantige hartbeeshuis met ‘n plat grasdak opgetrek. Dit was reentyd en die huis het so gelek, dat ek dikwels ‘n vuur aan die gang moes hou om dit enigsins bewoonbaar te maak. Ek het toe besluit om vir my ‘n gewone Vakaranga-hut te laat optrek, in die koppie net anderkant die hospitaal was ’n  groot kraal. Twee van die inwoners het onderneem om vir my ‘n hut te bou teen ‘n betaling van twee komberse. Op ‘n guti-dag kom hulle toe, voordat die hut voltooi was, sidderende en bewende en smeek my om vir hulle jammer te kry en maar die komberse aan hulle te gee, met die belofte dat as die son weer skyn, hulle sal kom om die hut voltooid af te lewer. Al wat kom was die twee bouliede. Micha het toe gegaan en hulle met dreigemente van straf aangekeer. So het ek ‘n goedgeboude woning gekry. Die volgende huis, 20 X 10 vt., was weer van pale, klei en gras, met ‘n grondvloer. Daarin het ek my bruid verwelkom in Januarie 1894. Dit is later vervang met ’n  platdak-baksteenhuis. Vir dr. Helm is ook ‘n hartbeeshuis opgerig. Dit is egter afgebrand en ‘n ander is toe van stene gebou.

Uit ‘n gesondheidsoogpunt was die teenswoordige terrein baie geskik, maar vir vervoer moeilik, berg op en berg af, dog goed begaanbaar vir wa met osse, en later ook geskik vir kar en perde of donkies.

Vir tuingrond was daar geleentheid genoeg onderkant die fontein en vir ‘n span osse en ’n  paar koeie was daar genoeg weiveld op die berg. Die boer, George Euvrard, was ‘n man wat ‘n graaf kon hanteer soos ‘n vaardige skrywer sy pen. En tog het hy ‘n Indier, Sunder Play, in sy diens gehad wat volop groente geproduseer het.

Hier het ons gelukkig gewoon en het te voet of ook wel met donkie of perd die krale en buiteposte van die evangeliste gereeld kon besoek. Die vraag het egter later ontstaan of Mugabe se berg wel in elke opsig die mees gelee plek was vir uitbreiding van die werk. ‘n Deputasie is gevolglik deur die Algemene Sendingkommissie afgevaardig om die plaas goed te ondersoek en ook uit te kyk of daar nie ‘n geskikter een vir ‘n hoofstasie vir die Mashonalandse Sending aangekoop kon word nie. Ons het die eer gehad om die moderators van Kaapland, Vrystaat en Transvaal hier te ontvang. Op perde het hulle verskeie plekke en plase in die omgewing besoek. Maar op slot van sake is besluit dat daar geen geskikter plaas vir die doel van ons Sending te vind was nie. Op en onder die berg was daar vrugbare grond genoeg op ‘n groot skaal mielies en ander graan in te ploeg. Met nuwe moed is die werk voortgesit en uitgebrei met die oog daarop om Morgenster tot ‘n opvoedingsentrum te laat uitbrei, met die nodige inrigtings tot bevordering van onderwys en landbou, maar in alles, en bo alles, om die sieleheil van die inboorlinge na te jaag. (Vertelling deur ds A A Louw).