gebore
20 Des. 1922
OORLEDE
16 Aug. 2004
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1946
ORDEN
1947
standplase
1947 Grahamstad
1955 Wellington
1957 Wellington-Noord
1960 Graaff-Reinet, Nuwe Kerk
1963 Port Elizabeth-Hospitaal
EMERITEER
–
Daniel Theodoms du Plessis Moolman is op 20 Desember 1922 op die familieplaas Commadagga in die distrik Somerset-Oos gebore, die enigste seun en oudste van drie kinders. Sy ouers was JacobusJohannes Moolman (oom Kosie); ‘n boer in murg en been en sy moeder Gertruida Petronella Vosloo (tannie Trixie); ‘n onderwyseres. Danie bly tot met sy dood met liefde verknog aan sy geboortegrond Commadagga, wat reeds geslagte lank in familiebesit is.
Daar ontvang hy sy eerste skoolopleiding en Iater aan die bekende Gill Kollege op Somerset-Oos waar hy in 1939 matrikuleer. Dit was ‘n spogskool waar hy as boerseun die Crollbeurs as beste skolier ontvang en aktiefleiding neem in die skool se CSV-tak. Op skool is sy beste vriend Graham Stegman, wat saam met hom geroepe voel om predikant te word. Met die uitbreek van die Tweede-Wêreldoorlog vertrek hy na Noord-Afrika waar hy in 1942 sterf, ‘n saak wat Danie Moolman diep raak.
Menslik gesproke moes Danie op die familieplaas Commadagga boer, maar die jong boerseun voel intens geroepe vir die Evangeliebediening. Sy pad loop in 1940 na Matieland waar hy aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Hier kom sy leierseienskappe na vore as inwoner van Dagbreek, waar hy eers op die huiskomitee en later primarius word. Danie neem aktief aan die studentelewe deel en dien sedert 1944 op die studenteraad en is in 1946 die voorsitter. Later neem hy aktief deel aan die Klub vir Oud-Studenteraadsvoorsitters, waar studenteleiers van gister met dankbaarheid terugdink aan wonderlike tye in Matieland.
Die BA-graad word in 1942 aan hom toegeken en die MA (Grieks) in 1944, terwyl die vier jaar aan die Teologiese Seminarium op die walle van die Eersterivier aan Danie die geleentheid bied om hom in die Teologie te verdiep. Aan die einde van 1946 word hy as proponent gelegitimeer, in Die Kerkbode word sy adres aangedui as Commadaggaplaas, P.K. Commadagga. Kort daarna, op sy vier en twintigste verjaarsdag tree hy in die huwelik met Nellie Benecke, ‘n liefde uit sy skooljare wat hom tot in sy sterfifur met liefde en deernis bystaan. Uit die huwelik is vyf kinders gebore: Koos, (boer op Commadaggaplaas); Humne (professor op Stellenbosch wat in 1997 sterf); Peter Lafras (leraar in Oos-Londen); Petro Faasen van Port Elizabeth en Marie van Rensburg van Jeffreysbaai ds. Danie en Nellie Moolman het sestien kleinkinders wat met trots die tradisie en godsvrug van hulle voorgeslag laat voortleef.
Die jong proponent Danie Moolman, in murg en been ‘n Oos-Kapenaar, word op 10 Mei 1947 met handoplegging in die NG Gemeente Grahamstad ontvang en bevestig. I lier werk hy net twee jaar en word op 10 Junie 1949 leraar van die NG Gemeente Port-Elizabeth Sentraal, ‘n stad waarin hy tot met sy dood diep spore op kerklike gebied trap. Na ‘n roepstem van die Meester in die herfs van 1955 as leraar van die NG Moedergemeente Wellington, is ds. Danie gehoorsaam en die gesin verhuis na die Bolandse dorp aan die Groenberg. Met die afstigting in 1957 van die NG Gemeente Wellington-Noord, word ds. Danie en Nellie die eerste leraarspaar. Hier help hy die gemeente met die bou van ‘n kerkgebou en pastorie. In 1960 keer ds. Danie terug na die Oos-Kaap as leraar van die NG Gemeente Nuwe Kerk op Graaff-Reinet, waar hy drie jaar lank diep spore trap. In 1963 word hy die eerste herder en leraar van die NG Gemeente Port Elizabeth-Hospitaal, waar hy die Here dien tot met sy aanvaarding van sy emeritaat op 6 April 1988. In hierdie tydperk het hy ‘n geseënde bediening in Port Elizabeth se hospitale, daarvan kan meer as een gelowige getuig.
Ds. Danie Moolman het sy talryke talente op wye akkers gebruik, daarvan kan die mense van die Baai met dankbaarheid getuig. Hy was nie net ‘n teoloog en kerkman nie, maar trap diep spore op die terrein van die opvoedkunde en kulturele gebied. Vanaf 1964-1992 dien hy op die Raad van die Universiteit van Port Elizabeth, veertien jaar as ondervoorsitter en dertien jaar as voorsitter. Met ywer en entoesiasme help hy met die beplanning van die nuwe kampusaan die see. Hy dien ook van 1978-1999 ononderbroke in die raad van Merryvale Skool vir Gestremde Leerders, waar hy twee dekades lank as voorsitter optree ds. Danie dien twintig jaar lank in die streekraad van die Bybelgenootskap in Oos-Kaapland, van 1983 – 2001 as voorsitter van die uitvoerendekomitee se nasionale raad waar sy liefde vir die Woord en kosbare insette die Bybelsaak bevorder het. Hy was iemand met ‘n passie vir die Afrikanerkultuur, daarom was lidmaatskap van die Rapportryers die FAK vir hom ‘n saak van groot erns waar hy ‘n verskil gemaak het. Hy was ‘n stigterslid van die Port Elizabethse Afrikaanse Opvoedingsfonds, ‘n dominee wat met oorgawe jongmense help om hulle drome waar te maak.
In die wingerd van die Here in Oos-Kaapland word ds. Danie Moolman onthou as geestelike reus, ‘n kerkman wat tot met sy dood onuitwisbare spore op die kerklike akker trap. In 1973 tydens die vergadering van die Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika te Kaapstad, is hy die afgevaardigde wat die voorstel indien en motiveer wat uitloop op die stigting van ‘n eie sinode van Oos-Kaapland. Dieselfde middag met die konstituering van die nuwe sinode in die historiese Groote Kerkgebou in Kaapstad, word ds. DT du Toit Moolman die eerste moderator. In die pos word hy twee jaar later herkies en so ook vier jaar later tot in 1983, toe hy assessor van die Sinode van Oos-Kaapland word tot in 1987.
As aktiewe kerkman dien hy ononderbroke tussen 1973-1983 in die Breë Moderatuur van die NG Kerk, vandag die Algemene Sinodale Kommissie ds. Danie verteenwoordig ook jare lank die Sinode van Oos-Kaapland op die Kuratorium, Kieskollege en Eksamenkommissie van die Kweekskool op Stellenbosch. Oom Daantjie, soos baie jonger predikante hom aanspreek, was vir baie leraars in die Oos-Kaapse Kerk ‘n geestelike vader en rolmodel. Hy openbaar dwarsdeur sy bediening ‘n besondere liefde vir Diens van Barmhartigheid, ‘n kommissie waarvan hy voorsitter bly van 1973 tot met sy aftrede in 1988. Onder sy leiding word talle huise vir bejaardes, kinderhuise en ander inrigtings gebou en staan vandag as tasbare monumente van sy versiendheid ds. Danie Moolman was ‘n besondere prediker, daarom word van sy geestelike boodskappe in nege preekbundels opgeneem en tot vandag toe deur kollegas, ouderlinge en gemeentelede met groot seën gebruik.
‘n Paar jaar gelede verhuis ds. Danie en Nellie Moolman na Somerset-Oos as inwoners van Huis Louisa Myburgh, waar hulle ‘n kamer deel en in die nabyheid van hulle plaas Commadagga gelukkige tye beleef. Op 16 Augustus2004 sterf hierdie geliefde Oos-Kaapse leraar in die ouderdom van byna 82 jaar, waarna ‘n gedenkdiens op 20 Augustus 2004 gehou word in die NG Gemeente Port Elizabeth Nooitgedacht met ds. Matie van Niekerk as liturg. Die volgende dag word hy te ruste gere op Commadagga plaas, soos ‘n Abraham van ouds by sy voorsate en geliefde erfgrond.
Ds. Hansie Schutte, ‘n persoonlike vriend en geesgenoot, ook moderator van die NG Kerk in Oos-Kaapland, lewer ‘n treffende huldeblyk en verwoord die gevoel van almal wat hom liefgehad het. Ons haal die slotparagraaf aan: “Ds. Danie Moolman se uiters bekwame leiding van vergaderings en sy wonderlike humoristiese kwinkslae sal almal wat hom geken het vir baie lank bybly. Sy liefde vir en lojaliteit aan die NG Kerk dien vir vele tot inspirasie, terwyl sy voorbeeld as pastor en dienskneg van die Here deurgaans op lidmate, kollegas en ook buitekerklikes ‘n diep indruk gemaak het. In sy gemeentelike bediening het Woordverkondiging, liturgie en huisbesoek altyd hoë prioriteit geniet. Die Kerk in Oos-Kaapland, soos die Kerk in wyer verband, eer oom Danie Moolman se nagedagtenis. Sy spore lê diep getrap in ons harte en in ons kerk wees. En ons loof en dank ons Here vir die wonderlike gawes waarmee Hy hom, en ons ander deur hom, geseën het!”. – Dr Gerdrie van der Merwe.