gebore
5 Des. 1925
OORLEDE
15 Jan. 2013
UNIVERSITEIT
US
gelegitimeer
1953
ORDEN
1954
standplase
1954 Vredendal
1960 Sondagsrivier
1964 Waarn Jeugorganiseerder van Noord-Tvl
1967 Saldanha-Noord
1970 Org Sekr (Oos-Kaap)
1974 Asst Hoofsekr Kommunikasie en Personeel
1990 Asst Hoofsekr Kommunikasie en Inligting, Bybelgenootskap van SA
EMERITEER
31 Mei 1991
Ds Blessie Minnaar (BA) 5 Desember 1925 – 15 Januarie 2013
Jan Rossouw Minnaar is op 5 Desember 1925 in Observatory in die Kaap gebore. Destyds het die gesin in Wynberg gewoon. Hy word “Jannie” genoem, maar toe hy begin bles word, kry hy die bynaam “Blessie” – vir hom ‘n eretitel, ‘n naam wat respek uitdruk. Sy vader is Andries Hendrik Minnaar, wat as markagent werk. Sy moeder, Hester Elizabeth Rossouw, is ‘n onderwyseres.
Blessie word in Wynberg in die skadu van Tafelberg groot, wat met sy destydse plattelandse atmosfeer die speelveld is waar hy mens word. Hy begin sy skoolloopbaan in 1932 aan die Laerskool Simon van der Stel in Wynberg en hy word in 1938 ‘n leerling aan die Laerskool Voortrekker daar – waar hy in 1942 matrikuleer. Blessie was hoofseun, hy blink uit in sport en is kaptein van die atletiek- en rugbyspan.
In 1943 begin hy by die staatsdiens werk, waar hy in ekononie en markte spesialiseer. Hy loop van 1943 tot 1945 in sy pa se voetspore toe hy in Johannesburg ‘n agent in die blommemark word.
Die Here roep die jong Blessie in die hart van die Goudstad om predikant te word en in 1946 vertrek hy na die Universiteit Stellenbosch. Sy oom, Faan Rossouw (ma Hester se broer); leen aan hom die studiegeld en hy kan sy roeping volvoer en predikant word. Destyds is hy deel van die Universiteit Stellenbosch se veldloopspan en later ook die kaptein. Hy is primarius van Huis Marais – en toe Huis Visser in 1949 sy deure open, word hy die eerste primarius daar.
Sy seun, ds Bossie Minnaar, skryf oor ‘n ervaring wat sy pa gehad het.”Pappa het altyd vertel dat hy op agtjarige ouderdom siek geword het en dat sy lewe aan ‘n draadjie gehang het. Eers tydens sy studiejare op Stellenbosch, toe dit swaar gaan met studieskuld en Grieks, vertel sy ma hom dat sy in 1934 ‘n belofte aan die Here gemaak het: As die Here hom sou spaar, sou sy hom aan die Here se diens afstaan. Dit was vir hom altyd ‘n wonderlike bevestiging van sy roeping.”
Nadat hy in 1949 ‘n BA-graad verwerf het, betree hy in 1950 die marmertrappies by die Teologiese Seminarium in die Eikestad. Dit was goeie tye – en aan die einde van 1953 word hy as proponent gelegitimeer.
Blessie trou op 19 Mei 1954 met Benita Septima van der Linde van Hofmeyr, slegs drie weke voor sy bevestiging as predikant op Vredendal. Benita is ‘n maatskaplike werker en het ook op Stellenbosch studeer. Uit hulle huwelik is die volgende kinders gebore: Andries Hendrik (Bossie) Minnaar (1952); predikant en tans saakgelastigde van die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland – hy trou met Karen Hugo, ‘n maatskaplike werker en dogter van wyle ds George Hugo van Windhoek; Loumarie Kistner (1960); ‘n ingenieur; Hetsie van Zyl (1962); ‘n onderwyseres; dr Steven Minnaar (1967); ‘n bedryfsingenieur en tans fondsbestuurder by Abax. Blessie en Benita is die grootouers van 11 kleinkinders.
Prop JR (Blessie) Minnaar word op 12 Junie 1954 met handoplegging in die NG Gemeente Vredendal bevestig. Op 4 November 1960 vertrek Blessie en Benita Minnaar na die NG Gemeente Sondagsrivier op Kirkwood in die Oos-Kaap, waar die hartlikheid en liefde van die boeremense daar hulle aanraak. Hy het die Woord met oorgawe bedien en saam met sy mense geleef.
In 1955 het hy die eerste redakteur van die Kaaplandse KJA-Kongres geword, en van 1952 tot 1966 die eerste redakteur van die Uniale KJA. Hy dien ook van 1955 tot 1960 in die SJK van Kaapland en van 1956 in die KJA se Federale Unie.
‘n Roepstem na die ou Transvaal bring Blessie en sy gesin op 26 Februarie 1964 na Pretoria, toe hy Predikant in Sinodale Diens vir Jeug in Noord-Transvaal word. Hy reël baie kampe en toere vir jong mense. Na drie jaar in die Jakarandastad kom daar ‘n roepstem na die Weskus, toe hy op 22 Januarie 1967 die eerste predikant van die nuutgestigte NG Gemeente Saldanha word. Dit bring geweldige uitdagings mee, wat hy met geloofsmoed en volharding hanteer. Op 2 Februarie 1970 word sy bediening bekroon toe hy aangestel word by die Bybelgenootskap in Bellville; in 1971 open hy ‘n eerste kantoor in Port Elizabeth. Die gesin woon nou in Uitenhage. Nadat Blessie die kantoor gevestig het, verskuif hy in 1975 na die Bybelgenootskap se hoofkantoor in Kaapstad. Hy is ook die sekretaris van die reëlingskommissie vir die eerste Bibliathon, in samewerking met die SAUK. Blessie is “assistent-hoofsekretaris : kommunikasie en personeel” tot met sy aftrede en emeritaat op 31 Mei 1991.
Blessie was baie lief vir die Bybel. Bossie skryf: “Een prentjie van my pa staan vir my uit: Hy was gedurig met die Bybel besig. Hy het sy Bybel oral gelees; op 80 lees hy nog (sonder bril) uit die Weermag se Sakbybeltjie. Waar ons gesin ookal was, het hy gesorg dat ons saam uit die Bybel lees, en dan het hy vir die gesin gebid. Sy eie Bybel is bladsy vir bladsy onderstreep; dan kry hy weer ‘n nuwe een – want hy werk mos by die Bybelgenootskap!”
Blessie se aftrede preek hy gereeld en help pastoraal in die NG Gemeentes Tygerberg en Parow-Panorama. Hy het sy preke genommer – en die 5 155 preke wat hy nagelaat het is ‘n kosbare kleinnood vir die gesin. Toe sy seun, Bossie, 16 jaar lank die NG Gemeente Velddrif bedien het, het Blessie meer as honderd keer daar gepreek. Na Blessie se emeritaat het hy nog 493 keer gepreek. Hy ondergaan in sy leeftyd verskeie hartomleidings – en getrou aan sy humorsin het hy op ‘n keer die dokters gevra of hulle nie maar ‘n “zip” wil insit nie! Op 21 Maart 2002 verhuis Blessie en Benita na Oude Westhof Aftreeoord in die NG Gemeente Kenridge – vanwaar hy op 15 Januarie 2013 na die Hemelstad verhuis.
Op 18 Januarie 2013 word ‘n gedenkdiens vir ds Jan Rossouw (Blessie) Minnaar in die NG Gemeente Kenridge gehou. Sy oudste seun, ds Bossie Minnaar, neem die dankdiens waar en sy jongste seun, dr Steve Minnaar, lewer ‘n huldeblyk. Dit is ‘n treffende dankdiens, vol emosie en herinnerings – en die Bybel staan sentraal. Albei seuns het momente van hulle pa se geloof, sy liefde en sy humorsin met die aanwesiges gedeel. Daar is onder meer gesê: “Ons kinders sal altyd Pa en Ma se verstaanbare antwoorde op geloofsvrae onthou. Pa Blessie se geloof was diep gewortel, sonder komplikasies of tierlantyntjies. ‘n Deel van sy karakter was die vermoë om sy roeping te vervul, die perspektief wat hy kon bring, die verskil wat hy kon maak en sy werklike empatie met sy medemens in krisistye. Pa het vir ons ‘n wonderlike voorbeeld van geloof en liefde gestel, ingeweef met ‘n humorsin.” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM