Minnaar, Abraham Johannes

 

gebore

3 Aug. 1915

OORLEDE

09 Okt. 2005

UNIVERSITEIT

M.A., B.D., D.Phil

gelegitimeer

1943

ORDEN

1944

standplase

1944 Bergville

1949 Sinoia, S.R.

1957 Willowmore

1961 Rouxville

1965 De Bloem. Williston

EMERITEER

 

Dr Awie Minnaar (BA, MA, BD, DPhil) (03/08/1915 – 09/10/2005)

Abraham Johannes Minnaar is op 3 Augustus1915 op Hendrina in die Oos-Transvaal gebore, waar sy vrome ouers die Here as boere dien. Awie se vader was Roelof Johannes Minnaar en sy moeder Susanna Margritha Human, sy laat ‘n blywende indruk op sy lewe en oor wie hy tot sy oudag toe dikwels verwys. Awie is vanaf 1922-1930 ‘n leerling aan die Laerskool Hendrina en aan die Hoërskool Belfast waar hy einde 1936 matrikuleer. Awie voel van kindsbeen af geroepe om predikant te word en is van kindsbeen af ‘n voorbeeld in woord en daad.

Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria en is ‘n inwoner van die bekende Sonop-koshuis waar hy ook in die bestuur dien. In 1942 en 1943 is hy lid van die Studenteraad en voorsitter van die dagstudente op Tukkies, voorsitter van die boksraad en drie jaar lank die bokskaptein en blink ook uit in rugby en atletiek. Die universiteit ken aan hom erekleure in sport toe. Awie verwerf die BA (Admissie) -graad. Daarna is hy student aan die jong Teologiese Fakulteit (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria waar hy die BD-graad in Teologie behaal en op 1 Desember 1943 as proponent gelegitimeer word.

Dit was ‘n besondere oomblik toe proponent AJ Minnaar op 16 September 1944 met handoplegging in die NG Gemeente Bergville, Natal, bevestig word. Die rede word gelewer deur prof JH Kritzinger van Pretoria. Ds. Awie se intreepreek handel oor Fil. 1:21-22: “Want om te lewe, is vir my Christus en om te sterwe, is vir my wins. As ek bly lewe, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid.” Die jong leraar dien die Natalse Kerk as skriba in die Ring van Ladysmith. Hy werk met oorgawe in die skadu van die Drakensberg tot ‘n roepstem na die verre Rhodesië die jong leraarspaar se ankers laat lig en hulle noordwaards beweeg. In die bergagtige Natal doen hy op sekere plekke te perd huisbesoek.

Op 17 November 1949 word ds. Awie bevestig as leraar van die NG Gemeente Sinoia in Suid-Rhodesië, waar hy leiding neem in die Ring van Bulawayo en in 1955 ‘n nuwe kerkgebou op Sinoia ingewy word. Hy studeer steeds en verwerf die MA-graad met ‘n verhandeling oor die betroubaarheid van gewetensuitsprake. Die groot Afrikanergemeenskap in Rhodesië bied aan hom enorme geleenthede in die mooi land. In 1956-1958 word sy vrou ernstig siek en hy is genoodsaak om Rhodesië te verlaat en neem ‘n beroep aan na die NG Gemeente Willowmore in Suid-Afrika. Hy word op 31 Mei 1957 bevestig en in die wye Karoo geniet hy die plaasbesoeke en leef intiem met die boeremense saam. In 1957 word sy nagraadse studie bekroon toe hy die DPhil-graad in Wysbegeerte behaal, met ‘n proefskrif oor die mensbeskouing by die Duitse teoloog Johannes Hessen, ‘n bydrae tot die Wysgerige Antropologie.

‘n Beroep na die Suid-Vrystaat as leraar van die NG Gemeente Rouxville bring dr Awie na die sinodale gebied waar hy werk tot met die aanvaarding van sy emeritaat in 1984. Hy word op 24 Augustus 1961 op Rouxville bevestig en is ook skriba van die Ring van Smithfield. Hy is ook intens betrokke by die sinodale eeufeesviering van die Ned Geref. Kerk in die Oranje Vrystaat op 14-15 November 1964 te Smithfield waar die sinode ‘n eeu gelede gestig is en die eerste kerkvergadering plaasgevind het.

Op 24 Julie 1965 word hy leraar van die NG Gemeente De Bloem in Bloemfontein, die opvolger van die legendariese dr PSZ Coetzee, ‘n geliefde moderator en kerkleier in die Vrystaatse Kerk. Met sy menslikheid, insig en deernis is dr Awie ‘n mooi rolspeler in die streek en trap hy diep spore in Koninkryksdiens. Hy dien twaalf jaar lank in die moderatuur van die Ned Geref. Kerk in die Vrystaat, vier jaar as skriba, vier jaar as assessor en later weer vier jaar as skriba. Met sy wit das en ampsdrag is hy ‘n waardige bedienaar van die Woord, iemand wat as man van God respek en agting verwerf. Hy is vir baie ‘n ware rolmodel en gee inhoud en waardigheid aan die leraarsamp. Dr Awie is intens betrokke by die stigting van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar hy tot met sy aftrede ‘n groot rol as lid van die kuratorium speel. Oor dekades dien hy in die eksamenkommissie van die Teologiese Fakulteite in Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein en is ook lid vir die Kommissie vir Kerklike Tydskrifte. Met die skrywer se proefpreek op 28 Augustus1983 in die geskiedkundige Tweetoringkerk in Bloemfontein, wat ook die 50- jarige herdenking van die Bybel in Afrikaans herdenk, is dr Awie en prof Evert Kleynhans die promotors.

Dr Awie Minnaar het in die krag van huisbesoek geglo en het elke jaar al die lidmate in sy gemeentes besoek, al was dit soms moeilik in ‘n stedelike gemeente soos De Bloem met al die woonstelblokke. Hy was ‘n ywerige werker vir die sending en die barmhartigheidsdiens. Na bykans twee dekades as herder en leraar van De Bloem-gemeente in die Vrystaatse hoofstad, neem hy op 29 April 1984 afskeid van die gemeente en vestig hom by Lofdal-aftreeoord in Bloemfontein. Hierna is hy jare lank hospitaalarbeider en help tydelik in die gemeentes Bainsvlei, Universitas, Universitas-Rif en Maclear. Hy is ook leiersouderling in die NG Gemeente Bloemfontein-Wes en is ouderling in die NG Gemeente Aandbloem. Hy is op 2 November 1946 getroud met Martha Christina de Kock en uit die huwelik is vier kinders gebore: Maritha Garman, ‘n maatskaplike werker op Somerset-Wes, Susan Wink, ‘n onderwyseres in Kaapstad, Stella Viviers, ‘n onderwyseres op Britstown en Roelof, predikant in die NG Gemeente Roodekrans.

Dr Awie Minnaar sterf op 9 Oktober 2005 in die rype ouderdom van 90 jaar in Bloemfontein. Hy word op 14 Oktober 2005 uit die NG Gemeente Aandbloem in Bloemfontein begrawe. Sy seun ds. Roelof Minnaar bring ‘n troosdiens uit Fil 1:21 en 22, dieselfde teksvers wat sy vader destyds met sy intreepreek in 1944 op Bergville gebruik het. Prof Piet Strauss van die Fakulteit Teologie aan die UV in Bloemfontein lewer namens die NG Kerk in die Vrystaat ‘n treffende huldeblyk. Dr Awie se eggenoot, met wie hy 59 jaar lank getroud was, onthou hom as ‘n toegewyde vader en eggenoot: “Hy het ‘n onwankelbare geloof in sy Verlosser gehad, ‘n positiewe lewensuitkyk, ‘n werkywer, ‘n humorsin en het nooit gekla nie. Selfs nie in die laaste drie jaar toe sy gesondheid so agteruit gegaan het nie. ‘n Hoogtepunt was toe hy nog op sy negentigste verjaarsdag so vrolik saam met sy kinders kon verkeer.”