Meyer, Francois Arnoldus

 

GEBORE

28 Jul. 1952

OORLEDE

15 Mei 2005

UNIVERSITEIT

BA, BD

GELEGITIMEER

ORDEN

STANDPLASE

EMERITEER

Francois Arnoldus Meyer is op 28 Julie 1952 in Pretoria gebore. Hy is na sy oupa Meyer vernoem, een van elf seuns wat elkeen ‘n plaas van hulle vader geërf het. Oupa FA Meyer het in die distrik Schaapkraal naby

Bethal geboer. Francois se pa was Willem Meyer en sy moeder Lettie Naude. Francois begin sy skoolopleiding aan Laerskool Totiusdal in Waverly en matrikuleer aan die John Vorster-Tegniese Skool in Pretoria.

Reeds op skool voel Francois geroepe vir die bediening, maar hy kies ‘n tegniese rigting, want hy het ‘n passie vir elektronika. Hy word kommunikasie-tegnikus by die Spoorweë en was die jongste in sy afdeling in Suid-Afrika. In die tyd begin hy met sy fotografie-stokperdjie, wat in moeilike tye ‘n ekstra geldjie kon inbring. Die roepstem tot die bediening het so sterk geword dat hy in 1986 begin met buitemuurse studie by Tukkies waar hy die BA (Admissie) -graad behaal. Hy word ‘n student aan die Teologiese Fakulteit (Afd B) aan die UP in Pretoria en is pastorale hulp by die NG Gemeente Ebenhaeser in Pretoria-Wes. Hy spesialiseer met ‘n onderwerp oor die bediening aan die nywerheidswerker. Francois se jonger broer is ds. Dawid S Meyer van die NG Gemeente Bloemhof-Oos.

Francois wag lank op ‘n beroep. Hy word op 15 November 1991 gelegitimeer en aanvaar ‘n jaar later op 15 November 1992 die beroep na die NG Gemeente Vryheid-Suid. Op 6 Februarie 1993 word hy met handoplegging ontvang en bevestig, sy vriend ds. Berry Holtzhausen lewer die rede. Oor sy bediening in sy eerste en enigste gemeente, skryf sy vrou Mariana: “Hy was ‘n prediker en pastor by uitnemendheid. Sy pastorale bediening het wyer in die gemeenskap uitgekring en was eers werklik sigbaar na sy dood. Hy het die wonderlike gawe van leierskap gehad om op ‘n rustige manier ‘n situasie vinnig te kon opsom, ‘n moontlike probleem te kon identifiseer en voor ‘n konfrontasie ontstaan het, alreeds ‘n oplossing te kon voorlê! ‘n Groot datum op die gemeente-kalender was elke jaar die Jeugweek wat hy aangebied het vir die hele gemeenskap se tieners. Dit was keer op keer ‘n enorme sukses. Die dag met sy begrafnis was daar meer tieners en jongmense wat hy bedien het tydens hulle skooljare, as wat daar ander belangstellendes was!” Hy sterf skielik aan sy hart op 15 Mei 2005.

Francois is op 23 Maart 1974 getroud met Mariana Lewies van Randburg, ‘n gekwalifiseerde verpleegsuster. Uit die huwelik is twee kinders gebore: Willem Meyer is getroud en is bestuurder by Spar op Vryheid. Rentia is ‘n skoonheidsdeskundige en werk op Vryheid.