Maar selfs met die stigting van Hofmeyr-stasie is die werk onder die Ansenga nog te uitgebreid. In 1920 besluit die Sendingraad dan ook om ‘n nuwe stasie tussen Nyanje en Hofmeyr te begin. Hiertoe gee die Sinodale Sendingkommissie in die Vrystaat sy toestemming en in 1922 word besluit dat die naam van die nuwe stasie Merwe sal wees, ter ere van ds. P. van der Merwe, eerste Sendingsekretaris van die Kerk in die O.V.S.
Die eerste twee jaar behartig eerw. S. H. F. Pienaar vanaf Nyanje die werk op Merwe, totdat die pastorie op die nuwe stasie voltooi is. Op 12 April 1924 kom hy en sy eggenote en hul twee-maande-oud seuntjie op Merwe aan om daar te kom woon. Saam met hulle is ook ‘n werkster, mej. Diddy Botha, ‘n bale toegewyde dame van wie gesê word dat sy deur haar voorbeeldige lewe die Christendom nog meer as deur haar woorde verkondig het. By hul aankoms op Merwe is daar reeds ‘n gestigte gemeente. Dit is dus nie eintlik pionierswerk nie, maar wel uitbreidingswerk. Buiteposte word dan ook tot aan die Milemborivier, wes van die Luangwa en 200 km. van die stasie af, geopen. Olifante besoek dikwels die groot piesangtuin op die sendingstasie. Gedurende sy dienstyd op Merwe moet eerw. C. A. Smit, seun van die pioniersendeling eerw. P. J. Smit, ‘n paar van hierdie bosreuse plattrek om die sendingeiendom te beskerm (Bron: Cronje, J.M. 1981. Aan God die dank. p. 161-162).