GEBORE
21 Mei 1906
OORLEDE
12 Feb. 1984
UNIVERSITEIT
MA (UK); MTh (Princeton)
GELEGITIMEER
1931
ORDEN
1932
STANDPLASE
1932 Rondebosch
1938 Johannesburg-Oos
1951 Heidelberg, Tvl
1961 Pretoria-Oos
EMERITEER
21 Junie 1970
Ds Arnoldus Mauritius (Arnold) Meiring (21.5.1906 – 12.2.1984) het gedurende vier dekades en onder andere as geniale moderator van die Transvaalse Sinodes van 1957 en 1961 ‘n belangrike rol in die kerklike lewe gespeel. Van hom is gesê dat hy ‘n man was wat hom, nooit met vertoon nie, maar met eerlike inspanning, na liggaam en gees in diens van sy Meester en Kerk uitgebrand het. Hy is op Graaff-Reinet gebore waar sy vader, ds. P G J Meiring, wat veral as bekwame redakteur van Die Kerkbode en voorsitter van die vroeëre Raad van die Kerke in wye kringe bekend was, destyds gestaan het. Sy moeder was die jongste van die ses Louw-susters van Laborie by die Paarl wat almal predikantsvroue geword het. Hy is vernoem na die Meiringstamvader wat die eerste predikant van die gemeente in die Land van Waveren (Tulbagh) was (1743-1757); Die matriekeksamen lê hy in Rondebosch af en sy universiteitsopleiding geniet hy aan die Universiteit Kaapstad waar hy sy MA behaal. Aan die Kweekskool deurloop hy die vereiste kursus en toe gaan hy na die VSA waar sy studie in Princeton in 1931 met ‘n MTh bekroon word. Einde dieselfde jaar word hy tot die bediening toegelaat en op 3.6.1932 in Rondebosch bevestig, waar hy tot sy vader – wat die gemeente saam met die redaksie van die kerkblad behartig het – se heengaan in Mei 1938 trou aan sy sy staan. Ses maande later vertrek hy na die groot stadsgemeente Johannesburg-Oos (Irenekerk) wat eweneens ook vroeër deur sy vader bedien is en waar hy byna 13 jaar met onvermoeide ywer arbei. In September 1951 word hy ds. P J Viljoen se medeleraar in Heidelberg Tvl., waar sy oom, ds. A J Louw – soos ds. Viljoen ‘n vroeëre Transvaalse moderator – in sy tyd meer as 38 jaar predikant was. Sy laaste gemeente, Pretoria-Oos, bedien hy sowat nege jaar totdat hy op 21.6.1970 uittree. Die gemeentes waarin hy by name in die Transvaal gewerk het, het vanweë hul ligging en ander omstandighede besondere toerusting van die kant van die predikant vereis, maar aan hom ook besondere geleenthede gebied en in almal gaan daar van hom ‘n heilsame invloed uit. Op die breër kerklike terrein dien hy in ‘n hele reeks belangrike kommissies. As voorsitter van die Sinodale Kommissie vir Openbare Sedelikheid in die Transvaal, knoop hy baie jare lank saam met die sekretaris, ds. D F B de Beer, die stryd teen misstande in die samelewing aan. Hul grootste oorwinning op die gebied was die oplegging in 1949 van ‘n algehele verbod op hondewedrenne en die dobbelary waarmee dit gepaard gegaan het. Verder was hy onder meer voorsitter van die Kuratorium van die Teologiese Fakulteit B in Pretoria, sowel as van die Inligtingsburokommissie, en lid van die Kommissie vir Kerklike Tydskrife. In 1951 en 1954 kies die Transvaalse Sinode hom tot assessor en in 1957 volg hy ds. C B Brink in die moderatorstoel op. Die verantwoordelike amp beklee hy ook in die volgende sinode en so staan hy aan die spits van die kerklike bedrywighede in die Transvaal tot die totstandkoming van die Algemene Sinode in 1962. In die tyd vind verskeie belangrike gebeurtenisse plaas, soos die naamsverandering van die Transvaalse Kerk (1957); die Kerkvereniging (1962) en die omstrede Cottesloe-beraad (1961); Dat daar in verband met laasgenoemde nie groter groepvorming en ernstiger verdeeldheid in kerklike geledere ontstaan het nie, kan in ‘n groot mate aan die kalmte, nugterheid en takt toegeskryf word waarmee hy sake benader en behandel het, sowel as aan die vriendelike hoflikheid waarmee hy steeds teenoor alle mense opgetree het. In 1959 verteenwoordig hy die kerk ook by ekumeniese byeenkomste in Europa. Benoemings tot redakteur van Die Kerkbode en hoofsekretaris van die Bybelgenootskap wys hy van die hand. Die laaste twintig jaar van sy lewe ly hy aan die slepende Parkinsonsiekte, maar met bewonderenswaardige inspanning en volharding hou hy die siekte terug deur so aktief moontlik by die kerklike lewe en werksaamhede ingeskakel te bly. Hy dien byvoorbeeld as ouderling in Suidoos-Pretoria en woon so gereeld hy kan bidure en ander samekomste by. Verder lewer hy, in weerwil van toenemende liggaamswakheid, tot betreklik kort voor sy heengaan nog as hospitaalarbeider onskatbare dienste. Miskien omdat sy eie liggaamlike kwelling hom ‘n nog beter begrip vir die behoefte van ‘n lydende mensheid gegee het, laat hy juis in die tyd ‘n paar boeke die lig sien, een waarvan, ‘n Wandeling deur die Psalms, al vir baie troos en versterking gebring het. Die traktaatjies waarvan hy in sy werk gereeld gebruik gemaak het, het hy self met leesstof aangevul wat die seën van geloofsekerheid en die betekenis van die Kerk by sy lesers moes tuisbring. Omdat sy lewe as minsame, innig vrome en toegewyde geloofsman met hartlikheid en nederigheid versier is, was dit altyd aangenaam en verfrissend om met hom te doen te kry. Onvermoeid selfs in die sleurgang van die bediening en onwrikbaar sonder om aanvullend te wees wanneer dit ‘n beginselstandpunt gegeld het, het hy die beskeie man van liefde, hulpvaardigheid, glasheldere eerlikheid en opregtheid gebly. Sy Kerk en die wyer Christendom in ons land sal hom as ryklik begenadigde dienskneg van God nog lank in geseënde herinnering hou. Dr P G J Meiring, leraar van Lynnwoodrif, is sy enigste seun.