Meerlandt, Rudolphus

 

GEBORE

OORLEDE

1699

UNIVERSITEIT

Leiden

GELEGITIMEER

1674

ORDEN

1674

STANDPLASE

1674 Kaapstad

1676 na Batavia

EMERITEER

Ds. Rudolphus Meerlandt (of Maerlandt) (* IJselstein, Utrecht  +1699, Colombo, Ceylon) was die vyfde predikant wat in diens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika getree het.

In sy geboortestadjie was ’n familielid in 1664 burgemeester, maar andersins is niks meer bekend oor sy herkoms of kinderjare nie. Op 1 Augustus 1661 is hy as teologiese student aan die Universiteit van Leiden ingeskryf en tussen Julie 1663 en Julie 1664 is hy deur die Klassis van Leiden geëksamineer en as proponent toegelaat. Dit is nie bekend waar hy van hierdie tyd tot 1673 was nie. Dis wel bekend dat hy in laasgenoemde jaar deur die Klassis van Hoorn as predikant na Oos-Indië gestuur is. Op 24 Januarie 1674 het hy met die skip De Gekroonde Vrede by die Kaap aangekom. ‘n Week later het nog ’n skip geland en daarop was ook ’n predikant wat vir die diens in die kerk in Oos-Indië bestem was, naamlik ds. Rudolphus van Varick. Die owerheid aan die Kaap het aan ds. Adriaan de Vooght toegestaan om ter wille van sy gesondheid na Batavia te gaan, en in sy plek moes een van die twee pas aangekome predikante dan aangestel word. Albei het blykbaar goed beval en albei wou ook blykbaar graag aan die Kaap bly sodat besluit is dat daar dan maar geloot moes word, waarby die lot op ds. Meerlandt geval het. Hy het sy dienswerk op 11 Februarie aanvaar. Die gemeente was nie groot nie; dit het slegs ongeveer 70 lidmate getel. Daar het ook nog ‘n paar Rooms-Katolieke huisgesinne gewoon en aangesien die ruime doopspraktyk aan die Kaap toegepas is, is die kinders van hierdie Roomse persone ook gedoop. Maar die gebruik was dat, wanneer so ‘n kind van Roomse ouers gedoop moes word, die Roomse doopouers met Roomse doopgetuies voor die preekstoel gestaan het om die formulier aan te hoor en op die vrae te antwoord. Hieraan het ds. Meerlandt ‘n end gemaak. Die kerkraad het onder sy leiding besluit dat die Roomse doopouers Protestantse doopgetuies moes bring en, as dit nie moontlik was nie, kon die kinders alleen gedoop word nadat aan die Roomse doopouers die betekenis van die doopsformulier en die doopbelofte goed duidelik gemaak is, in die hoop dat hulle later na die Hervormde Kerk (soos die NG Kerk toe nog bekendgestaan het) sou oorgaan.

In Maart 1676 het ds. Meerlandt na Batavia vertrek, waar hy op 7 Junie aangekom het en reeds die volgende dag sy kerklike stukke by die kerkraad ingedien het. Hy is op 13 Augustus as predikant beroep van die Hervormde gemeente van Cochin, in die suide van die latere Brits-Indië, waar hy op 12 September sy dienswerk aanvaar het. In 1692 is hy na Colombo verplaas. In 1699 is in Ceylon hy oorlede. (Geskryf deur Morne van Rooyen).