Maritz, Francois

 

GEBORE

13 Apr. 1946

OORLEDE

23 Okt. 2003

UNIVERSITEIT

BA, BA HONS, BTh, MTh (US)

GELEGITIMEER

1972

ORDEN

1973

STANDPLASE

1973 Cradock

1976 Que Que

EMERITEER

Frans Maritz, met sy kenmerkende rooi hare en welige baard, was die menslike spil waarom die Sinode van Midde-Afrika se ratte gedraai het. In die moeilike tye wat die NG Kerk in Zimbabwe in die laaste jare beleef, was hy ‘n sterk steunpilaar vir al die lidmate. Dat hy so skielik deur ‘n motorongeluk weggeruk is, was ‘n uiters gevoelige slag vir die kerk.

Frans is op 13 April 1946 in Harare gebore. Hy was dus’n gebore Zimbabwiër en hy het ook sy hele bediening aan Zimbabwe gewy. Sy vader was Solomon Ignatius Maritz, ‘n telefooningenieur, en sy moeder was Johanna Sophia van der Walt, ‘n onderwyseres. Hy het sy skool- opleiding ontvang aan die Laerskool Hillside Bulawayo (1952-1956); Fort Victoria (1956-1959) en die Hamiltonskool in Bulawayo (1959-1964); Op skool het hy uitgeblink in debat en drama. Hy was ook die redakteur van die skoolblad in 1964.

Vir sy teologiese studies het Frans van 1965 tot 1972 na Stellenbosch gegaan. Hy het die grade BA (1967); en BA Hons in Klassieke tale (1969); BTh (1971) en ‘n Lis Teol. (1972) ontvang. In 1985 het hy die MTh-graad voltooi. Sy MTh-verhandeling het gegaan oor “Die boodskap van Hebreërs”. As student het hy opgetree as tydelike dosent in Klassieke Tale aan die Universiteit van Fort Hare (1967); Stellenbosch (1968); en die Universiteit van Wes-Kaapland (1969-1971).

Hy het in die tyd reeds baie belang gestel in die ekumene en was ook redaksielid van “Die Eifel”, jaarblad van Dagbreek-koshuis. In November 1972 is Frans gelegitimeer. Sy proponentsverhandeling het 1 Kor. 13:13 as tema gehad.

Ds. Maritz se eerste gemeente was Cradock waar hy in 1973 georden en bevestig is. In hierdie gemeente het hy die Visriviervloed van Maart 1974 beleef en moes hy die pastorie ontruim. Twee maande later is sy medeleraar, ds. JL Nel, oorlede en hy moes vir 18 maande alleen die groot gemeente bedien.

In hierdie tyd (op 30 Desember 1971) het hy in die huwelik getree met Jesse Anna Yeld. Sy het haar doktorsgraad in Klassieke Kultuur voltooi en was later dosent in die vakrigting aan die Universiteit van Zimbabwe. Uit die huwelik is vyf kinders gebore: Jessie Alleyne (1973); Johanna Sophia (1974); Margaret Jean (1975); David Francois (1980) en John Samit (1982).

In 1976 is ds. Maritz in sy tweede gemeente bevestig, naamlik Kwekwe (Que-Que, ‘n gemeente wat later met ander saamgesmelt het) in Zimbabwe. Hier het hy die uittog van lidmate in die jare voor die onafhanklikwording van Zimbabwe beleef. Ses jaar later is hy benoem as saakgelastigde van die Sinode van Midde-Afrika en was hy ook ex officio-skriba van die sinode. In hierdie amp is hy noodwendig betrek by talle kommissies van die sinode, byvoorbeeld die Kerkkantoor- kommissie (eertyds voorsitter); skriba van die Moderatuur en die Sinodale Kommissie, Beheerraad van Huis Vergesig, Argief- kommissie van Transvaal en Midde-Afrika, lid en tesourier van die Raad van die Bybelgenootskap van Zimbabwe, dagbestuur van die Zimbabwe Raad van Kerke, lid van die Subkommissie vir Geregtigheid, Vrede en Versoening en lid van die Algemene Fondsekommissie en Algemene Sinodale Kommissie van die Algemene Sinode. Hy was ook ‘n vlytige korrespondent van Die Kerkbode. Hy het oral in Zimbabwe preekbeurte waargeneem.

Hy en Jesse was op pad terug van ‘n diens wat hy op Beatrice (suid van Harare) waargeneem het, toe ‘n bus wat van voor gekom het, ‘n vragmotor wou verbysteek en hulle getref het. Hy is op slag dood. Jesse het ernstige harsingskudding opgedoen, maar oorleef.

Ds. Maritz was die ekumeniese gesig van die kerk van Zimbabwe en was ‘n sleutelfiguur in die sinode se beplande inskakeling by die Sinode van Noord- Transvaal.

Sy haastige, doelgerigte en bekwame optrede en administrasie sal terdeë deur die kerk en sy huisgesin gemis word.

Hy is in die Pioneer Cemetery in Remembrance Drive begrawe, heeltemal gepas vir een van Zimbabwe se kinders. Die diens is waargeneem deur die moderator van die sinode, ds. Dion van Dyk, met wie hy jare lank saamgewerk het. Sprekend van die besondere plek wat Frans in die kerk ingeneem het, was die feit dat daar deelnemings boodskappe oorgedra is van die hele ekumeniese gemeenskap: die Zimbabwe Raad van Kerke, die Church of Central Africa Presbyterian, die Vergadering van Moderamens, die Sinode van die NG Kerk van Noord-Transvaal, Oos- Transvaal, Suid-Transvaal, Wes-Kaapland en die Algemene Sinode, sowel as van die Reformed Church in Masvingo.

Daar was ook ‘n wonderlike mengsel van medegelowiges teenwoordig soos wat selde in een kerk gesien word.

As getuienis van die besondere huisgesin wat hulle gevorm het, is die feit dat al vyf sy kinders aan sy begrafnis deelgeneem het. Die liedere is begelei deur Jesse (jnr.) by die orrel en John met die saksofoon. Die Skriflesings is gedoen deur David en Margaret. Johanna het die bedankings gedoen. Sy vrou, Jesse, kon gelukkig ook by die begrafnis teenwoordig wees.

Ds. Van Dyk het daarop gewys dat Frans se werk sekerlik nie genoeg waardeer is terwyl hy gelewe het nie. Maar dit was omdat hy so deel van die kerklike familie was. Soos aan elke lid van die liggaam ‘n besondere genadegawe gegee is, so het Frans sy deel aan hierdie besondere genade ryklik onder sy geestelike familie uitgeleef.

Behalwe sy praktiese dienslewering as saakgelastigde, het hy met sy hele lewe God verheerlik. So het hy steeds probeer om horisonne te verbreed en om deur grense te breek. Hy het gedurig gevra dat vooroordele gelos en uitgereik moet word na nuwe gebiede en groepe. Dit het hy gedoen omdat hy hartstogtelik geglo het dat ons almal een is in God. Hy het ‘n oop hart vir andere gehad. Nog die dag van sy dood, toe hy op Beatrice gepreek het en nagmaal bedien het, het hy na die diens aan ‘n lidmaat wat siek geword het tydens die diens, die nagmaal in sy motor gaan bedien.

Frans was baie spesiaal. Maar hy sou ongemaklik gewees het dat dit van hom gesê word. Hy sou wou gehad het dat ons moet besef dat God spesiaal is, oneindig meer spesiaal. God het die eintlike brug gebou in Christus Jesus. Oor die brug het Frans nou gestap, maar dit het ook vir ons getoon dat hierdie lewe en die lewe hierna eintlik maar een is – ewige lewe. Daarom bly hy ook steeds by ons en is ons veilig in die hande van die hemelse Vader. (Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy 04/02/1997 ingevul het, ‘n berig deur Neels Jackson in Beeld, en die begrafnisrede van ds. Dion van Dyk.)