GEBORE
18 Mrt. 1923
OORLEDE
25 Feb. 1996
UNIVERSITEIT
US
GELEGITIMEER
1947
ORDEN
1948
STANDPLASE
1948 Calitzdorp
1956 Uniondale
1958 George
1964 Paarl
EMERITEER
1988
Hierdie netjiese, sjarmante en altyd welgeklede predikant met sy besondere en innemende styl en aanslag, sal nog lank onthou word as die predikant van die bekende Strooidakkerk in die Paarl.
Schutz Marais is op die plaas Regopkloof in die distrik van Bedford gebore. Hy was een van ‘n gesin van ses seuns en een dogter. Toe hy slegs drie weke oud was, moes hy ‘n baie ernstige operasie op die plaas ondergaan. Sy ouers het toe ‘n belofte aan die Here gemaak dat, indien hy gespaar sou bly, hulle hom so opvoed dat hy eendag voltyds in die bediening van die evangelie kan staan. Hy het dusgrootgeword met die wete dat hy vir die Here afgesonder is.
Hy studeer en matrikuleer aan die Hoërskool Templeton, Bedford. Daarna het hy sy teologiese studie aan die Universiteit en Kweekskool op Stellenbosch gevolg. Hy word in 1947 gelegitimeer.
Sy eerste gemeente was Calitzdorp waar hy op 24 April 1948 georden en bevestig is. Daarna bedien hy die gemeentes Uniondale (17.11.1956); George (19.07.1958) en toe die gemeente Paarl (25.07.1964); In hierdie gemeente sou hy byna ‘n kwarteeu getrou arbei.
Hy tree in 1988 af, maar gaan voort om die bejaardes van Huis Vergenoegd, Paarl, op ‘n deeltydse grondslag te bedien. Op 25 Februarie 1996 sterf hy skielik aan ‘n hartaanval.
In Calitzdorp, ontmoet hy sy vrou, Susann van Wyk. Hulle trou in 1949. Vier kinders is uit ‘n baie gelukkige verbintenis gebore, naamlik Johan (prokureur op Stellenbosch); Hermien (getroud met dr Servaas Verster van die Paarl) en die tweeling Danie en Charl (onderskeidelik personeelbestuurder en onderwyser).
Schutz Marais het die Here en sy medemens met groot getrouheid gedien. Sy werk was sy erns. Hy het in al die gemeentes bouwerk en restourasiewerk op fisiese en geestelike vlak verrig wat gespreek het van sy groot liefde, en toewyding. Die onderwys en skoolsake was vir hom van baie groot belang. Hy was intens betrokke by die opvoeding van die jeug.
Daarby het hy ook ‘n groot liefde vir sy vaderland en sy moedertaal gehad. Hy was lid van die Raad van die Afrikaanse Taalmonument en Taalmuseum in die Paarl tot met sy dood: Hy was ‘n ewewigtige man wat ook soms kon speel en ontspan. Ook op die gholfbaan was hy ‘n geliefde en gewaardeerde vriend van baie.
Hy was veral ‘n gesinsman by uitnemendheid. Sy 12 kleinkinders was vir hom geskenke van God. Daarom treur hulle steeds oor hom. – Susann Marais, verwerk en aangevul deur DJ Viljoen.