GEBORE
05 Jul. 1907
OORLEDE
20 Jan. 1999
UNIVERSITEIT
BA (Rhodes); (US)
GELEGITIMEER
1932
ORDEN
1933
STANDPLASE
1933 Stanford
1945 Robertson
1962 Dealesville
1973 PSD Vrystaat Sinode
EMERITEER
17 Sept. 1979
Oom Sarel Marais (soos hy in later jare algemeen aangespreek is) is op 5 Augustus1907 op Edenburg gebore waar sy vader geboer het. Sy skoolonderrig het hy op Reddersburg ontvang waar hy matriek in 1925 geslaag het. Sy universiteitsopleiding was eers aan die Grahamstad se Universiteitskollege en hy het in 1928 ‘n BA-graad behaal. Daarvandaan het hy na die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch gegaan en is gelegitimeer in 1932. In sy studentetyd was hy lid van verskeie kultuurverenigings, twee jaar lid van die Studente-Verteenwoordigende Raad en hy het twee jaar lank rugby vir die universiteit se eerstespan gespeel.
Hy is op 17 Junie 1933 na die gemeente Stanford beroep en is daar georden en bevestig. Hy het nege jaar in hierdie gemeente gearbei en ook in die tyd, op 12 April 1938, in die huwelik getree met Rhines Swart. Twee kinders is uit die huwelik gebore, naamlik Francois (19 Augustus1939) en Catharina (Carine) (25 Maart 1948); Daar is reeds ses kleinkinders.
In April 1945 is hy in die NG Gemeente Robertson ontvang waar hy sewe jaar gedien het. Op 5 Mei 1962 is hy te Dealesville bevestig.
Vanaf 1 Desember 1973 het hy as predikant in sinodale diens van die OVS met opdrag: sekretaris vir ampsbediening en evangelisasie gedien. Hy was ‘n goeie prediker en het dienste deur die hele Vrystaat gehou en sodoende talle mense deur sy opregte liefde vir sy Here bereik.
Op die breër kerklike diensterrein het hy in Kaapland gedien in die Sinodale Kommissie vir Ampsbediening en Evangelisasie (SKAE); die Federale Raad vir Evangelisasie; die Sinodale Leerkommissie en die Proponents-eksamen Kommissie (Dogmatiek); Namens die Vrystaatse Kerk was hy lid van die Kuratorium van die Kweekskool van Stellenbosch en hy het in die Vrystaatse SKAE en die Algemene Kommissie vir Ampsbediening en Evangelisasie gedien.
Hy was ‘n liefdevolle en geliefde man wat besiel was met ‘n passie om ander na Jesuste lei. Daarby was hy nederig en opreg soos sy Meester. Van hom is gesê dat hy ‘n ware engel was. Hy het nooit kwaad geword nie, het nooit gevloek nie en was altyd met sy hele lewe ‘n voorbeeld van ‘n Christen. Hy was vol liefde en respek vir ander mense en vol opregte nederigheid.
Na sy aftrede op 17 September 1979 het die Marais-egpaar in die NG Gemeente Brandwag in Bloemfontein gaan woon en uiteindelik na die Bayswater Village Huis vir Bejaardes getrek. Hy het sy laaste preek op 85-jarige ouderdom in die Brandwag-gemeente gelewer. Teen die einde van 1998 het hy sy heup gebreek en vir ses en ‘n half weke na ‘n operasie in die bed gelê. Daarna het hy longontsteking opdoen. Hy is op 20 Januarie 1999 oorlede. Sy vrou lewe nog en is reeds 86 jaar oud. Saam met haar en die kinders, skoonkinders en kleinkinders dank ons die Here vir hierdie Godsman. – Dirk Viljoen, aan die hand van die argiefvorms van die OVS en ‘n gesprek met sy dogter, Carine.