Marais, Pieter Willem

Ds. Marais Pieter

GEBORE

5 Mei 1929

OORLEDE

9 Februarie 2014

UNIVERSITEIT

BA (UOVS); (US)

GELEGITIMEER

1953

ORDEN

1954

STANDPLASE

1954 Pretoria

1955 Odendaalsrus

1958 Brixton

1960 Olifantshoek

1962 Krugersdorp

1964 Bloemfontein

1969 Pretoria-Oos

1981 Besturende drekteur TWR (RSA) (Radiokansel)

1983 PSD: N-Tvl.: Ampsbediening en Evangelisasie

EMERITEER

5 Mei 1994

Pieter Willem Marais is op 5 Mei 1929 in Christiana in die ou Wes-Transvaal gebore. Sy vader is Andries Stephanus Marais en sy moeder Elzie Catharina du Toit. Daar is ses kinders; Willie is die tweede oudste. Saam met die gesin in die huis op Christiana was Willie se ouma, ‘n vroom en toegewyde vrou aan wie se knie die jong Willie Marais leer bid.

Nog voordat hy skool toe is, het Willie reeds geweet dat hy ‘n predikant moet word — ‘n geloofsaadjie wat (so het hy geglo) deur sy ouma geplant is. Die enigste boek wat hy van kleintyd af gelees het, was die Bybel. As jongman het hy met baie vrae geworstel, totdat die Heilige Gees die lig vir hom laat deurbreek het.

Willie begin sy skoolloopbaan in die plaasskool Brakfontein in die distrik Hopetown. Later is hy die grootste deel van sy skoolloopbaan ‘n leerling aan die Laerskool Dr Viljoen, en aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein waar hy matrikuleer. Hy en sy twee broers is inwoners van “Ons Kinderhuis” in die Vrystaatse hoofstad. In 1949 behaal hy BA (Admissie) aan die destydse UOVS. Hy preek die eerste keer in sy ouers se gemeente op Brakfontein, ‘n wykskerkie in die NG Gemeente Hopetown. Op ‘n buitengewone manier voorsien die Here finansieel deur ‘n mnr. WL Smith, wat Willie in 1950 in staat stel om ‘n student aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch te word. Na vier jaar word hy as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. Toe reeds is die jeugdige Willie Marais bekend as ‘n buitengewoon dinamiese prediker.

Prop Willie Marais word op 3 April 1954 met handoplegging in die NG Gemeente Pretoria (Groot Kerk) in Bosmanstraat bevestig. Hy woon in die Jeugsentrum. Steeds onderskei hy hom as prediker en begenadigde teoloog wat deur die Heilige Gees se werking ‘n verskil in mense se lewe maak. Binne ‘n jaar voorsien die Here verder deur Maryna Otto, dogter van mnr. en mev. HJ Otto van Roodepoort, as lewensmaat vir Willie te stuur.

Op 12 November 1955 word hy in die NG Gemeente Odendaalsrus ontvang en bevestig. Dit was gelukkige jare op die jong Vrystaatse Goudveld. Op 21 Junie 1958 word hy leraar in die NG Gemeente Brixton in Johannesburg.

Hierdie talentvolle jongman ontvang baie beroepe — onder andere ook een na die NG Gemeente Olifantshoek in die Noord-Kaap, wat hy bedank. Toe hy ‘n tweede keer daarheen beroep word, beleef hy dit as ‘n Masedoniese roepstem. Op 14 Mei 1960 word hy dus op Olifantshoek ontvang en bevestig. In sy dienstyd daar word daar ‘n nuwe kerkgebou en pastorie gebou tot vandag toe bakens op die dorp. ‘n Roepstem kom na die NG Gemeente Krugersdorp, waar hy vroeg in 1962 ontvang en bevestig word. Ook hier aan die Wes-Rand het Willie Marais hom grensloos weggegee aan die Here, en sy prediking en bediening was vrugbaar.

Op 6 November 1964 word Willie Marais die leraar by die NG Gemeente Bloemfontein (Tweetoringkerk). In sy dienstyd daar trek hy groot skares. Terselfdertyd ontvang hy meer as honderd beroepe; hy saai op wye akkers, ook as deeltydse dosent in Bybelkunde aan die Bloemfonteinse Onderwyskollege. Intussen verwerf hy in 1969 sy doktorsgraad aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Dr Willie Marais was lief vir die Bybel. Hy het dit woord vir woord, teks vir teks, in sy hart en verstand gebêre. Hy was ‘n weergalose kenner van die Bybelse inhoud. Hy kon enige Bybelteks vers en kapittel aanhaal. Hy kon die Bybel as ‘n swaard gebruik om die evangelieboodskap te bevorder; by hom het dit altyd die laaste woord gespreek.

Hy bedank vir ‘n beroep na die NG Gemeente Pretoria-Oos, maar hy aanvaar die beroep toe dit ‘n tweede keer na hom toe kom ‘n brief van prof HDA du Toit. Die eerbiedwaardige professor skryf onder meer aan Willie: “As u aan die roepstem van die Here ongehoorsaam is, sal die seën van die Here nie langer op u bediening rus nie, maar ‘n vloek.”

Op 21 Junie 1969 word hy die leraar by die NG Gemeente Pretoria-Oos. Hy trap diep spore in die Jakarandastad. Hier was hy byna 13 jaar lank die herder en pastor van die staatspresident, die eerste minister en die kabinet. Met huisbesoek en in sy prediking het hy nie geswyg nie en nooit afgewyk van sy siening oor die Bybelse boodskap soos hy dit verstaan het nie. Hy kon voor ‘n sinode ‘n uur-lange verslag lewer, woordeliks soos dit geskryf staan, sonder ‘n nota voor hom.

Dr Willie Marais was ‘n uitnemende prediker. Die Bybel was sy hartboek, leefboek en handboek. Mense het aan sy lippe gehang, omdat hy die Woord eenvoudig, duidelik en prakties verkondig het. Sy dogter, Rentia, onthou: “Wanneer hy gepreek het, was dit vurig, passievol en boeiend.” Dit was by hom tweede natuur om met oud en jonk oor die Here te praat. Hy het met sy evangeliese hart die kuns verstaan om mense na die Here te bring.

Op 5 Mei 1981 word dr Willie Marais die besturende direkteur van Transwêreldradio (RSA), tans Radiokansel. Dit was ‘n krisistyd na omstredenheid wat sy voorganger betref. Tog het hy in die Here se krag die bootjie deur die moeilike vaarwaters gestuur. Op 1 Augustus 1983 het hy predikant in sinodale diens geword, met opdrag ampsbediening en evangelisasie in Noord-Transvaal. Dit het hom in staat gestel om op tientalle kansels te preek.

Na sy emeritaat op 5 Mei 1994 sit hy sy liefdes- en lewenstaak voort: Hy preek en hy wen siele vir die Here. Hy gebruik ook sy skryftalent met oorgawe. Sy skryfwerk oor lyding en lewenskrisisse het mense aangegryp.

Willie en Maryna Marais het drie kinders gehad Fanie, Rentia en Elrina. Na sy aftrede gaan woon hulle ‘n tyd lank by Fanie in Amerika. Later keer hulle terug en hy bring sy laaste jare deur in Huis Herfsblaar in Pretoria. Hier sterf hy op 9 Februarie 2014, na ‘n lang siekbed. Sy begrafnisdiens vind op 21 Februarie 2014 in die NG Gemeente Pretoria-Oos plaas. Dit is waargeneem deur ‘n vriend oor vyf dekades heen — dr Gerdrie van der Merwe van Trompsburg.

Met Willie Marais se dood het die NG Kerk een van sy bekendste en mees begaafde predikante verloor. Oor dekades heen het hy diep spore in mense se lewe getrap as prediker, sielesoeker, pastor, skrywer, Bybelkenner by uitnemendheid. In die volksmond is daar dikwels na hom verwys as die “Billy Graham van Suid-Afrika”.

Ds. Attie Beetge, wat saam met hom in Pretoria-Oos gewerk het, skryf: “As kollega was hy nederig en sag, vol vrede en opreg. Hy het die beste verhoudinge gehandhaaf. In die gemeente was hy geliefd en gerespekteer, en kon hy met die grootste gesag optree.” — Dr. Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek 2015).