Marais, Barend Jacobus

 

GEBORE

26 Apr. 1909

OORLEDE

27 Jan. 1999

UNIVERSITEIT

MA (US), ThM (Princeton), DD (Hc) (UNISA); LLD (Hc) (WITS); DD (Hc) (UP); DPhil (Hc) (US)

GELEGITIMEER

1936

ORDEN

1938

STANDPLASE

1938 Pretoria-Oos (Studentebediening)

1949 Pretoria-Oos

1953 Fakulteit Teologie UP

1975 Fakulteit Teologie UNISA

EMERITEER

1985

Prof Ben Marais, of `Oom Ben’ soos hy algemeen bekend was onder sy studente, is op 26 April 1909 op Venterstad gebore. Sy vader was ‘n boer van die distrik. Hy het op Middelburg in die Kaap gematrikuleer en verder aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer waar hy sy uitstaande akademiese loopbaan voortgesit het. Die grade BA en MA is met lof aan hom toegeken. Op Stellenbosch was hy voorsitter van die studenteraad, redakteur van die Stellenbosse Student, voorsitter van die Afrikaanse Kultuurvereniging en vir vier jaar lank voorsitter van die huiskomitee van die bekende Wilgenhofkoshuis.

In 1932 het hy by die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch ingeskryf. In sy finale jaar is hy na die Princeton Theological Seminary in New Jersey waar hy sy ThM-graad in 1936 met die hoogste lof behaal het. In Oktober 1936 het hy teruggekeer na Stellenbosch waar hy sy finale teologiese eksamens gedoen het en aan die einde van die jaar is hy gelegitimeer.

Hy het eers hulp-predikerswerk in die NG Gemeente Riversdal en later by die Irene-gemeente in Pretoria gedoen. In 1937 is hy beroep as eerste studenteleraar vir die Transvaalse universiteite en kolleges en in 1938 is hy in die Pretoria-Oos gemeente georden.

Vir twaalfjaar het hy in hierdie posisie gedien. Hy het ook die kolleges op Heidelberg en Potchefstroom besoek. In 1949 is hy beroep as gemeenteleraar van Pretoria-Oos in die plek van dr Willem Nicol wat toe administrateur van die destydse Transvaal geword het. In 1944 het hy ‘n DPhil-graad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal.

Op 29 April 1939 is hy met Sibs Botha getroud, ‘n onderwyseres van Worcester en dogter van die hoof van die bekende Kalahari-Hoërskool te Seodin by Kuruman. In Mei 1940 is hulle enigste dogter, Augusta, gebore.

In 1950 het hy na Amerika gereis waar hy as gas-dosent by die Yale Divinity School en Yale-universiteit navorsing gedoen het oor die Amerikaanse rasseprobleem. Vandaar het hy na die Wes-Indiese Eilande en Brasilië gegaan. Met sy terugkeer het sy bekende (en omstrede) boek, Die Kleurkrisis in die Weste, in 1953 verskyn. Dit is in Engels vertaal onder die titel: Colour, the Unsolved Problem of the West. Dit was die eerste boek wat die tradisionele houdings en teorieë van blanke Afrikaners in die Afrikaanse konteks bevraagteken het.

In 1953 is hy as professor by die Teologiese Fakulteit Afdeling B aan die Universiteit van Pretoria beroep. Hy het die vakke kerkgeskiedenis, sendinggeskiedenis en ekumene doseer. Hierdie pos het Oom Ben vir meer as twintig jaar met besondere onderskeiding beklee. Op sy kenmerkende gemaklike manier het hy gedurig nuwe metodes van onderrig beproef. Hy ook vir ‘n hele aantal jare as dekaan van die Teologiese Fakulteit gedien.

By al sy akademiese pligte en prestasies, het hy nog tyd gevind om wyd te reis. In 1960 en 1961 het hy twee studietoere na Sentraal-, Wes- en Oos-Afrika onderneem. Dit het gelei tot die skryf The Two Faces of Africa. In 1968 het hy weer ‘n toer na Sentraal- en Oos-Afrika onderneem. Hy het ook drie jaar in die VSA, Kanada en Suid-Amerika deurgebring. Daarby het hy deur Europa, Indië en die Midde-Ooste gereis. In 1960 het hy op uitnodiging van die Amerikaanse “State Department’ ‘ die VSA besoek om lesings oor die werklikhede van Afrika aan ‘n paar van die grootste universiteite te hou.

In 1964 het hy weer na Amerika gereis, hierdie keer as gas van die Danford Foundation. Gedurende die drie maande-toer het hy as spesiale dosent by twintig universiteite en kolleges opgetree. In 1968 is hy weer genooi om lesings oor “Die nuwe Afrika” aan te bied. Hy het vir meer as 180 studentegroepe gedurende die jare sestig klas gegee. Talle rigtinggewende artikels van hom het in teologiese en ekumeniese tydskrifte wêreldwyd verskyn.

In 1974 het hy as professor aan die Universiteit van Pretoria uitgetree en by die Departement van Kerkgeskiedenis aan UNISA aangesluit waar hy tot 1985 doseer het.

Verskeie universiteite het eregrade aan hom toegeken, naamlik DD deur UNISA in 1978; LLD deur die Universiteit van die Witwatersrand in 1963; DD deur die Universiteit van Pretoria in 1988 en DPhil deur die Universiteit van Stellenbosch in 1992. In 1982 is hy ook verkies as erelid van die Kerkhistoriese Vereniging van Suid-Afrika.

Op sy 70ste en 75ste verjaarsdae is erebundels aan hom opgedra deur sy studente en kollegas. Die eerste is Ekumene onder die Suiderkruis (1979) en die tweede, New Faces of Africa (1984).

As afgevaardigde van die NG Kerk het hy in 1938 na die Tambaran-Internasionale Sendingkonferensie in Indië gegaan; die Gereformeerde Ekumeniese Sinode in Edenburgh in 1950 asook die Toronto byeenkoms van die Wêreldraad van Kerke (WRK); waar hy in die sentrale komitee gedien het. In 1954 is hy verkies as lid van die WRK se kommissie vir kerk- en rasaangeleenthede en as lid van die paneel van hoofsprekers by die Evaston Assembly van die WRK in Geneve. Hy was ook raadgewer by die byeenkoms van die WRK in Nieu Delhi in 1961 en spreker by die Bangalore-byeenkoms van die Vereniging van Christen-studente uit Afrika en Asië. Hy het ook gedien in die Kommissie vir Training of the Ministry in Africa” van die Internasionale Sendingraad.

Nader tuis was hy vir vyf en twintig jaar voorsitter van die Sonop-Raad en het hy in talle kommissies van die Raad van Kerke en die Algemene Sinode gedien.

Hy en sy eggenote, Sibs, wat op baie terreine, onder andere die Kinderkrans, TVSV en die SAVF bedrywig gebly het, het al die jare in Haystraat, Brooklyn gewoon. In 1995, terwyl hulle met vakansie op Kleinmond was, het hy ‘n bloedklont in sy been ontwikkel en hy moes uiteindelik drie amputasies van die been ondergaan.

In November 1998 het hy ‘n beroerteaanval gekry wat sy liggaam aan die een kant verlam het. Hulle het toe na ‘n meenthuis in Waterkloof getrek sodat hy medies versorg kon word. Op 27 Januarie 1999 – slegs drie maande voor sy neëntigste verjaardag – is hy oorlede. Die begrafnis het vanuit sy geliefde Pretoria-Oos-gemeente plaasgevind. Honderde vriende het gekom om die laaste eer aan hom te bewys en God vir sy lewe te dank.

Om ‘n evaluering te gee van Ben Marais se lewe, is bykans onmoontlik: ‘n teoloog van formaat; ‘n vriendelike innemende mens wat opreg in sy medemens belang gestel het – hy het die uitsonderlike vermoë gehad om byna elke student op sy naam te ken; ‘n man met ‘n wye belangstelling, wyd belese, wyd berese, ‘n uitstekende prediker en redenaar, ‘n taktvolle mens met ‘n aansteeklike lag, vol humor, maar ook deernis; en ‘n sportman en sportentoesias. Hy het nie net krieket en rugby op skool en universiteit gespeel nie, maar was president van die Universiteit van Pretoria se krieketklub en vir baie jare vise-president van die rugbyklub.

Hy sal veral onthou word vir sy standpunt oor die rasse-situasie in Suid-Afrika. Veral op die Transvaalse Sinode van 1940, 1944, 1948 en 1951 het hy sterk standpunt ingeneem teen ‘n verslag oor rasseaangeleenthede waarin hy dit sterk betwyfel het dat die Bybel die skeiding van rasse as ‘n imperatief voorstaan. Hierdie standpunt het hy vreesloos in talle geskrifte en toesprake gestel. Hy is deur verskeie mense as ‘n profeet bestempel. Wat egter kenmerkend van Ben Marais was, was dat hy hierdie standpunte duidelik gestel het, maar op so ‘n liefdevolle en oorredende wyse, dat selfs diegene wat radikaal van hom verskil het, sy vriende gebly het en steeds groot bewondering vir hom gehad het. Hy het hom nooit losgemaak van sy kerk of kerklike debatte nie. Nooit het hy lelik of bitter opgetree nie. Daarvoor was sy gees te groot.

Dat hy ook ‘n digterlike gees gehad het, het duidelik uitgekom in sy preke en toesprake en ook in sy boeke: ‘n Groet op die pad; Wit huise van herinnering en Die verre horison.

Ben Marais se bydrae tot die gees van sy tyd en ook vir die ontwikkeling van die denke in die kerk, is onberekenbaar. Die kerk is armer na sy heengaan, want ‘n mooi Christen mens wat van ander soos ‘n Christen kon verskil, is uit ons midde weggeneem na sy eie “huis” van verlange waar hy ewig by sy Here is. – Dirk Viljoen, aan die hand van die CV van Ben Marais en gegewens verkry van mev. Sibs Marais, talle huldigings-geskrifte en nuusberigte sowel as persoonlike herinnerings. (Jaarboek 2000)