Marais, Andries Francois

 

GEBORE

9 Mrt. 1881

OORLEDE

6 Apr. 1980

UNIVERSITEIT

US

GELEGITIMEER

1914

ORDEN

1915

STANDPLASE

1915 Pofadder

1926 Reivilo

1929 Olifantshoek

EMERITEER

11 Jun. 1938

Ds Andries Francois Marais (9.3.1881 – 6.4.1980) was die eerste leraar van ons Kerk wat in sy 100ste lewensjaar ontslaap het. Op 6.2.1980 het hy ds. William Cormack se rekord van 98 jaar 10 maande en 28 dae geëwenaar en 32 dae later sy 99ste verjaarsdag gevier in Huis Maudie Kriel op Ceres waar hy en sy derde eggenote (vroeër die weduwee van ds. J W Snyman, wat ten tyde van sy heengaan skriba van die Kaapse. Sinode was) die afgelope jare gewoon het. Hy is uit ‘n welbekende Robertsonse familie gebore en het ‘n aantal jare in ‘n handelsbank gewerk voordat hy na Stellenbosch is om hom as evangeliedienaar te bekwaam. Na sy legitimasie in 1914 bedien hy Pofadder (toe nog Namies) waar hy 11.9.1915 georden is, Reivilo (1926) en Olifantshoek (1929); Toe ‘n kroniese keelaandoening dit vir hom onmoontlik maak om langer in die voltydse bediening te staan, aanvaar hy 11.6.1938 – dus byna 42 jaar voor sy heengaan sy emeritaat. Onder die gemeentes waarin hy later in tydelike hoedanigheid met vrug werksaam was, neem Peddie in Oos-Kaapland ‘n besondere plek in, want daar het hy in die tyd toe die gemeentetjie nie meer ‘n voltydse leraar kon bekostig nie, van Mei 1943 tot Desember 1947 gestaan en hoog gewaardeerde diens gelewer. Hy het sag op Ceres heengegaan. (Jaarboek 1981/256).