Malherbe, Stephanus Gideon

 

GEBORE

26 Mrt. 1930

OORLEDE

1 Mrt. 2005

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

ORDEN

STANDPLASE

1954 Hulpleraar, Zionsgemeente, Paarl

19 Jun. 1954 Richtersveld, Namakwaland

1959 Goudini, Rawsonville

1966 Franschhoek

1970 Saakgelastigde, NG Sendingkerk, Worcester

1978 SA Gestig, Kaapstad

EMERITEER

1995

 

Stefanus Gideon Malherbe is op 26 Maart 1930 op Dekkersvlei naby die Paarl gebore. Hy was die oudste seun van Johannes Stefanusen Lily Malherbe wat op die familieplaas geboer het. Hy was baie hardwerkend en het die plaas van min af opgebou. In sy lewe was drie dinge baie belangrik: godsdiens, Afrikanerskap en werk. Sy vrou was 16 jaar jonger as hy en het die opvoeding van die vyf kinders behartig, terwyl hy ‘n geliefde gesagsfiguur en rolmodel was. Twee dogters is albei met predikante getroud, naamlik ds. Thys Agcnbach en ds. KobusAuret. Stephen begin sy eerste skoolopleiding aan die Laerskool Klein Drakenstein waarheen hy te voet kon loop. In 1947 matrikuleer hy aan die Paarl “Boy’s High” en hy speel vir WP se 0/16 jukskei span.

Stephen voel van kleins af geroepe om sendeling te word, maar hou dit geheim omdat hy as oudste seun bestem is vir die boerdery. Maar toe hy sy ouers daarvan vertel, het sy vader dit aanvaar en hom aangemoedig om voltyds in diens van die Meester te staan. In 1948 vertrek hy na Wellington waar hy die BA (Admissie) behaal en aan die Sending Instituut sy opleiding as sendeling deurloop. Aan die einde van 1953 word hy gelegitimeer en bly tot die einde van sy lewe student. Stephan trou op 24 September 1955 met Johanna Bester, iemand met baie talente wat hom in sy sendingroeping getrou bystaan. Uit die huwelik is vyf kinders gebore: Marietjie is senior lektor in Chemie aan die Universiteit van Pretoria. Elzeth is ‘n gekwalifiseerde onderwyseres wat haar Med-graad (in Sekondêre Remediering) aan die Universiteit van Illinois in die VSA verwerf en is tans besig met die oprigting van kinderhuise vir vigswesies in Natal. Dr Johannes Malherbe is ‘n predikant en verbonde aan Petra Kollege vir Kinderbediening by Witrivier.

Willem Malherbe is ‘n elektroniese ingenieur in Kalifornië in die VSA. StefanusMalherbe het sy eie prokureursfirma in Bellville.

In 1954 werk eerw. Stephen Malherbe as hulpleraar in die bekende Zionsgemeente in die Paarl, tot met sy bevestiging op 19 Junie 1954 as leraar vir die Richtersveld sendingwerkkring in Namakwaland. In die winter van 1959 word hy bevestig in die Sendinggemeente Goudini te Rawsonville, waar hy sewe jaar lank op voetsoolvlak ‘n verskil maak. In 1966 word hy sendeling op Franschhoek, waar hy benewens sy gemeente ook lid is van die kommissie vir Toesig en Kontrole. Benewens sy werk in die Publikasiekommissie neem hy ook waar as redakteur van “Die Ligdraer” tydens die siekte van ds. WF Loots. Aan die begin van 1970 word ds. Stephen Malherbe op die jeugdige ouderdom van 40 jaar saakgelastigde van die NG Sendingkerk op Worcester. In 1978 skuif die kerkkantoor na ‘n nuwe gebou langs die SA Gestig in Kaapstad, waarna hy tot met sy aftrede op 30 Junie 1995 ook die gemeente bedien.

Sy vrou Johan na skryf: “Stephen het gebou sover hy gegaan het. In die Richtersveld bou hy skole, onderwyserswonings op buiteposte en die skool- en kerkgebou te Port Nolloth. Op Rawsonville word ‘n nuwe kerkgebou opgerig en op Franschhoek twee skole en herstelwerk aan die pastorie en kerkgebou. Nadieaardbewing van 1970 is hy volledig betrokke by die opbou van Steinthal Kinderhuis. Hy is ook betrokke met die oprigting van die nuwe geboue vir die Bethal Skool vir Epileptici in Kuilsrivier. Stephen is ook betrokke met die bou van ‘n nuwe kerkgebou vir die gemeente SA Gestig en die aangrensende sinodale sentrum”.

Ds. Stephen Malherbe was ‘n besondere begaafde onderhandelaar, iemand wat vir die eertydse sending kerk en later VGK ‘n waardige dienskneg van die Here was. Na sy aftrede het die VGK hom gevra om voort te gaan met die onderhandelinge met die Staat in verband met die oorname van die eiendom van die kerk wat op die terrein van die Universiteit van Wes-Kaapland geleë was. Hy het die onderhandelinge suksesvol afgehandel en ‘n paar miljoen rand is aan die Kerk oorbetaal wat in trust is vir behoeftige teologiese studente.

Na ds. Stephen se aftrede het die egpaar in Bellville bly woon tot met hulle verhuising in die lente van 2001 na die aftree-oord Heritage Manor in Somerset-Wes. Hy het sedert 2000 aan Alzheimers gelei en is sedert einde 2004 in die Helderberg Lodge vir versorging opgeneem tot met sy dood op 1 April 2005. Sy seun dr Johannes, wat sy vader se voetspore as VDM volg, verwys in sy begrafnisdiens treffend na sy pa se siekte en hoe die trauma beleef word: “Dit was swaar om te beleef hoe die houtpen geleidelik versplinter en die voorwerpe wat daaraan gehang het, een vir een moes losraak. ‘n Mens kan maar net dink aan die neerlê van sy amp as saakgelastigde, wegtrek uit Bellville, die afskaal van en uiteindelik ophou met dinge wat vroeër soveel vreugde verskaf het – houtwerk, preek, rolbal, sy motor, rekenaar, skryfwerk, kuier by familie en vriende.

Ons kon beleef hoe sy wêreld krimp van waar hy elke Ieraar van die VGK – en heelwat van ‘n paar ander kerke – geken het tot waar die name van selfs sy heel naastes vervaag en later heel weggeraak het. Verlede jaar kon hy nie die huis herken wat hy self gebou het nie. Aan die begin van hierdie jaar was selfs sy geboorteplek vir hom vreemd. Die middag het hy selfs nie sy huis in Heritage Manor herken nie. Die siekte het sy innerlike afgetakel – aanvanklik hoofsaaklik sy geheue, maar mettertyd alles wat hom die persoon gemaak het wat hy was. Oor die laaste paar maande het sy liggaam ook begin kwyn. So het hy dit vir ons moontlik gemaak om reeds oor ‘n tyd die laaste bande los te maak. Op Vrydagoggend 1 April het die pen ingegee en het alles tot rusgekom”.

Op 5 April 2005 word ‘n aangrypende gedenkdiens in die kerkgebou van die NG Gemeente Somerset-Wes gehou, dr Johannes Malherbe se hoofteks is Jesaja 22:20-25. Hier lees ons van Eljakim, seun van Gilkia se aanstelling, sukses en einde van ‘n leier uit die geskiedenis van God se volk. Johannes toon aan dat hierdie verhaal ooreenkomste toon met sy pa ds. Stephen Malherbe van wie afskeid geneem word. Dit het ook ‘n boodskap vir die wat agterbly en nog hulle eie lewensverhaal moet voltooi.

In ‘n besondere huldeblyk onderstreep ds. DP Botha (sr) die lewe van ‘n merkwaardige dienskneg: “Stephen was ‘n oortuigde demokraat. Hy het nooit enigiets nuuts aangepak, sonder medewete en goedkeuring van sy opdraggewende kommissies nie, en dan het hy deurlopend volledige en gedetailleerde verslag van sy werksaamhede gelewer. Daarom het hy so ‘n volkome vertroue van elke lid van sy kommissies asook die hele NG Sendingkerk geniet. As kantooradministrateur en leier van sy personeel het hy min gelykes gehad. Sy sisteem was deeglik en geordend. As voorsitter van die Gesamentlike Kommissie vir Administrasie het Stephen die leiding geneem om die ekonomiese struktuur vir die vereniging van die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika tot die Verenigende Gereformeerde Kerk in 1994 daar te stel. Dit was sy laaste groot inset voor sy aftrede in 1995.

Stephen het nie van ander verwag wat hy nie self bereid was om te gee nie. Elke dag was hy eerste op kantoor en hy was sonder uitsondering die laaste om huis toe te gaan. Sy werkywer het nie perke geken nie. Tuis het hy die nagte verkort om werk vir sy kerk te doen. Sy kantoor was uiters toeganklik vir leraars en lidmate van die kerk, personeel en enigeen wat hom wou te woord staan of hulp nodig gehad het. Elkeen het geweet wie en wat jy aan Stephen Malherbe het. Hy het nie geopereer met bedekte motiewe of verborge agendas nie. Sy optrede en insette was altyd eerlik, openlik en opreg. Sy nederigheid was eg en hy het gedien sonder om te roem op sy sonderlinge Godgegewe bekwaamheid”. Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2006).