Malan, Wynand Charl

 

GEBORE

25 Feb. 1885

OORLEDE

14 Okt. 1984

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

1915

ORDEN

1916

STANDPLASE

 Salisbury op Umtali

April 1923 Cedarville

Oktober 1925 Goedgegun, Swaziland

Desember 1931 Demissie

8 Okt. 1955 Olifantsfontein

EMERITEER

1960

 

Hy het op 25.3.1984, d.w.s. ses maande en 17 dae voor sy heengaan, die oudste predikant geword wat ons kerk in die loop van sy geskiedenis gehad het. Daarby was hy slegs die tweede wat sy 100ste lewensjaar bereik het. (Die ander was ds. A F Marais wat op 6.4.1980, 28 dae na sy 99ste verjaarsdag, op Ceres oorlede is.) Terselfdertyd was hy ook die oudste lewende oud-student van Stellenbosch in die land. Hy is in die distrik Wakkerstroom gebore en was ‘n kleinseun van die vermaarde Transvaalse kommandant-generaal P J Joubert. Sy voorname was – in omgekeerde volgorde – die van sy grootvader van vaderskant wat in die vorige eeu as boer op Salomonsvlei by die Paarl ‘n gesiene lid van die samelewing was. Die uitbreek van die Tweede Transvaalse Vryheidsoorlog in 1899 onderbreek sy skoolloopbaan deurdat hy as 14-jarige penkop saam met sy vader op kommando gaan en later ook gevang word. Nadat hy in 1906 op Stellenbosch gematrikuleer het, word hy die jaar daarna student aan die destydse Victoria College, waar hy sy “Intermediate” kry voordat hy Kweekskool toe gaan. Einde 1915 tot die bediening toegelaat, word hy 11.3.1916 georden en as hulpprediker in die gemeente Salisbury op Umtali bevestig. Die plegtigheid vind in die kerkgebou plaas wat pas sewe maande vantevore ingewy is. Onder die omstandighede van daardie dae kan slegs ds. C R Kotzé van Salisbury hom die hande oplê. Toe Umtali in Januarie 1917 ‘n selfstandige gemeente word, val die keuse by die beroep van ‘n leraar begryplikerwys op die plaaslike predikant. Hy laat hom dit welgeval en van Junie 1917 tot Maart 1923 doen hy en sy gade in die jong gemeente werk wat van “entoesiastiese en hoopvolle vooruitsigte” getuig. Hierdie arbeid was nie altyd maklik nie, “maar hulle het die gemeente vorm gegee, rigting en leiding verskaf en gemeentelike sake op ‘n besondere praktiese en onselfsugtige basis aangepak en gereël.” Soms moes hulle die hand ook diep in eie sak steek om die normale gang van sake te bewaar en hul geloof en persoonlikheid was dwarsdeur sy vormingsjare vir die gemeente ‘n besieling. Sy volgende gemeentes is Cedarville in Griekwaland-Oos (April 1923) en Welgegund (op Goedgegun) – later die gemeente Goedgegun, met middelpunt Manzini – in Swaziland (Oktober 1925); Van laasgenoemde gemeente waarvan die byna 250 lidmate oor die hele Swaziland verspreid gewoon het, was hy die eerste leraar. In Desember 1931 kry hy demissie en vir die volgende jare is hy een van die sogenaamde “los predikante” wat hulle uit eie beweging van hul gemeentes losgemaak het om as rondreisende evangeliste op versoek spesiale dienste en geestelike konferensies in gemeentes te hou. Nadat hy jare kerklik as ‘t ware “in die woestyn” verkeer het, word hy in Junie 1952 opnuut as bedienaar van die Goddelike Woord toegelaat en beroepbaar gestel. Op 8.1O. 1955 word hy, na ‘n rede deur sy twee seuns, di. A H (tans van Durban) en P C (sedert 1984 Emeritus) Malan, as leraar van Olifantsfontein in Oos-Transvaal bevestig. Daar tree hy 30.6.1960 op 75-jarige leeftyd uit die aktiewe bediening. Sedertdien bly hy op merkwaardige wyse steeds aktief en help hy met preekdienste waar die geleentheid hom voordoen. As 96-jarige preek hy tydens ‘n reünie van oud-studente op Stellenbosch die Sondag nog twee keer en sy laaste preek lewer hy op sy 98ste verjaardag. In 1955 het uit sy pen ‘n breedvoerige werk Met watter Doop? verskyn.(Jaarboek 1985).