Malan, Johannes Stefanus

 

GEBORE

20 Aug. 1914

OORLEDE

7 Des. 1986

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

1939

ORDEN

1940

STANDPLASE

1940 Carolina (NGKA)

11 Okt. 1942 Wakkerstroom

12 Aug. 1950 Sekhukuneland (Klipspruit)

11 Feb. 1961 Witbank en Witbank-Suid

29 Jan. 1966 Biesievlei

27 Okt. 1970 Manzini (Swaziland)

EMERITEER

1977

Hy is op Nelspruit gebore en het in Swaziland opgegroei. Hy is in 1939 op Wellington tot die bediening toegelaat. Op 10.2.1940 word hy as sendeling in sy eerste sendinggemeente, Carolina, bevestig. Wakkerstroom was die volgende, waar hy op 11.10.1942 bevestig is. Hier het hy hom in die besonder toegelê op die uitbouing van buiteposte en die oprig van kerkgeboutjies. Hy was dan ook verantwoordelik vir die oprigting van die kerke op Dirkiesdorp, Van der Waltspoort en Groenvlei. Sy volgende gemeente was Sekhukuneland (Klipspruit) waar hy op 12.8.1950 bevestig word. Daarna volg Witbank en Witbank-Suid (11.2.1961) en Biesievlei (29.1.1966); Op 27.10.1970 is hy in sy laaste gemeente, Manzini (Swaziland); bevestig. In Swaziland het ds. Malan veral by die Phembas-sendingstasie groot werkverrig. Gedurende die laaste paar jaar voor die aanvaarding van sy emeritaat op 29 Mei 1977 was hy werksaam op Manzini. Weens sy deeglike kennis van die Swazitaal het hy ‘n groot invloed gehad by die owerheid en kon hy die grondslag lê vir die huidige werk wat daar gedoen word. Hy het ook die evangelie oor die radio verkondig. In sy vyf jaar as voorsitter van die Ring van Piet Retief word sy rol as volg deur een van sy kollegas beskryf: “In hierdie jare kon ds. Malan met sy rype ervaring rigting en leiding gee aan die ring, gemeentes, kerkrade asook lidmate t.o.v. hulle groei en hulle probleme. Hy het veral bemoediging verleen in die worstelstryd teen die bose in die lug.” Na 37 jaar in die bediening moes hy weens verswakte gesondheid sy emeritaat aanvaar. Dit het later geblyk dat hy ‘n teringkiem in die lewer en waarskynlik ook in die beenmurg gehad het. Hy het in ‘n mate herstel, maar nie voldoende om weer verantwoordelikheid vir ‘n gemeente te aanvaar nie. Hy het gevolglik (met sy MA-graad) as etnoloog in diens van die Departement van Samewerking en ontwikkeling getree. Hulle kon daar van sy deeglike kennis van die swart tale en gewoontes gebruik maak. Tot kort voor sy dood in die Pietersburg-hospitaal het hy nog steeds Bybels en traktaatjies versprei en dienste gehou in die gevangenis op Pietersburg. (Jaarboek 1987).