Malan, David Johannes

 

GEBORE

1 Sep. 1882

OORLEDE

 30 Okt. 1975

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

1908

ORDEN

1958

STANDPLASE

Queenstown (Hpr.)

Julie 1916 Darling

EMERITEER

1946

Ds David Johannes Malan (1.9.1882 – 30.1O. 1975) was ten tyde van sy heengaan in Kaapstad, die oudste leraar van ons Kerk. Hy is naby Wellington gebore en ontvang sy eerste skoolonderrig op Blaauwvallei by die bekende meester M J Stucki. Na die voltooiing van sy skoolloopbaan op Wellington, studeer hy 1902-1903 aan die Victoria-Kollege en 1904-1906 aan die Kweekskool op Stellenbosch en van Januarie 1907 tot einde Mei 1908 aan die Livingstone-Kollege in Londen en aan die Universiteit van Princeton in die V S A waar hy die BD-graad verwerf. In sy vaderland terug, tree hy ‘n paar maande as reisende sekretaris van die Christen studentevereniging op. Einde 1908 tot die bediening toegelaat, word hy in Queenstown hulpprediker van die bejaarde ds S P Naude, een van die bekendste “liberale” predikante van die sestigerjare van die vorige eeu. Toe ds Naude 1909 sterf, word die jong man sy opvolger. Julie 1916 word hy op Darling bevestig waar hy byna dertig jaar ‘n groot werk verrig, totdat hy April 1946 sy emeritaat aanvaar. In die tyd dien hy in verskeie kerklike kommissies en verteenwoordig hy ons Kerk by belangrike konferensies. So tree hy meer as twintig jaar as voorsitter op van die eksamenkommissie van die Sendinginstituut, waar hy 1932 ook ses maande lank klas gee. In die jare van sy aktiewe bediening en ook daarna is hy baie aktief met die pen in beide landstale. Gedurende die laat twintiger- en vroeë dertigerjare is hy ‘n gereelde medewerker van Het Zoeklicht en in prof Johannes du Plessis se onverwagte dood 1935, neem hy ses maande die redaksie van die blad waar. Gedurende al die jare lewer hy ook vir Die Kerkbode talle bydraes. Na sy aftrede verrig hy nog in verskeie gemeentes hulpdiens, terwyl hy in Kaapstad ‘n geruime tyd hospitaalwerk doen en hom ook sterk vir die herwinning van gevangenes beywer. Tot enkele jare voor sy heengaan arbei hy nog met bewonderenswaardige moed en groot vrug onder alkoholiste. Met ‘n helder verstand begaafd, verlustig hy hom tot op hoë leeftyd in die studie en kan hy onderhoudend oor haas enige onderwerp gesels. (Jaarboek 1977/311)