GEBORE
11 Aug. 1905
OORLEDE
17 Jul. 1984
UNIVERSITEIT
BA; MA (US)
GELEGITIMEER
1932
ORDEN
1933
STANDPLASE
1933 Cradock (Hulpprd)
1934 Cradock
1944 Uitenhage
1948 Riebeek-Kasteel
1950 Eloffsdal
1952 Villieria
1955 SKDB Kaapland
1970 Sekr SKDB Kaapland
EMERITEER
Julie 1972
Hy is die bekende voormalige sekretaris vir die Diens van Barmhartigheid in Kaapland, is in Huis Ametis oorlede in die Strand waar sy gade en hy sedert sy aftrede gebly woon het. In die distrik Kimberley gebore, voltooi hy sy skoolopleiding aan die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet, om daarna aan die Universiteit Stellenbosch die grade BA (1928) en MA (1930) te behaal. Aan die einde van sy teologiese kursus aan die Kweekskool word hy in Desember 1932 tot die bediening toegelaat. Sy eerste vaste werkkring was Cradock, waar hy eers op 17.9.1933 as hulpleraar georden en toe op 11.8.1934 as medeleraar bevestig is. Tien jaar later gaan hy na die reeds groot en nog snel groeiende gemeente Uitenhage, wat met sy sieletal van 8 000 en sy lidmatetal van 4 200, in een kerkgebou deur twee en sedert 1946 deur drie predikante bedien, luid om afstigting geroep het. Daarna staan hy in die betreklike klein Wes-Kaaplandse gemeente Riebeek-Kasteel (1948) en toe in die Transvaal in Eloffsdal (1950) en Villieria (Pretoria) (1952); Weens sy warme belangstelling in die kerklike barmhartigheidswerk word hy tot organiserende sekretaris vir die Diens van Barmhartigheid van die Kaapse Kerk benoem en sedert sy diensaanvaarding begin Maart 1955 deurreis hy die uitgestrekte sinodale gebied met groot toewyding om die gemeentes stelselmatig te besoek en hulle in belang van hul groot taak in die verband te besiel en op te skerp. Uit sy verslae oor sy besoeke straal daar dan ook telkens groot deernis vir die werk. Veral die sorgbehoewende kind en besondere werksaamhede van die SKDB soos die versorging van alkoholiste, ongehude moeders en gestremdes het hom na aan die hart gelê. Na die uittrede van dr Pieter du Toit, word hy in 1970 sekretaris vir die Wes-Kaaplandse streek en in die hoedanigheid werk hy met groot belangstelling en ywer voort totdat hy einde Julie 1972 uitspan. Hy was ‘n opreg innige mens wat, deur die liefde van Christus gedring, hom groot opofferinge getroos en besondere diens in belang van die Hemelryk gelewer het.