GEBORE
6 Jan. 1911
OORLEDE
25 Feb. 1985
UNIVERSITEIT
BA; MA (US); ThM (Princeton)
GELEGITIMEER
1935
ORDEN
1936
STANDPLASE
1936 Moorreesburg (Hulpprd)
1944 Touwsrivier
1947 Franschhoek
1964 Buffeljagsrivier
EMERITEER
30 Apr 1972
Hy het gedurende ‘n bediening van nagenoeg 36 jaar ‘n geliefde en gewaardeerde leraar in vier gemeentes van die Kaapse Kerk, is onverwags op Mosselbaai oorlede. Hy was uit Prins Albert afkomstig en slaag matriek einde 1927 in die eerste klas aan die Hoërskool Caledon. Aan die Universiteit van Stellenbosch behaal hy in 1930 die BA- en in 1934 die meestersgraad in filosofie. Aan die einde van sy vierde jaar in die Kweekskool gaan hy na die Princeton Theological Seminary in die VSA en daar verwerf hy in 1935 die graad ThM. Van Augustus daardie jaar af is hy in die Kweekskool terug om vier maande later tot die bediening toegelaat te word. Op 18.7.1936 word hy op Moorreesburg as hulpprediker bevestig en in 1939 word hy die eerste medeleraar in die gemeente. As jong predikant het hy ‘n sterk aanhang onder die jeug en oefen hy ‘n baie heilsame invloed op hulle uit. Daarna werk hy met vrug in Touwsrivier (Mei 1944); Franschhoek (Oktober 1947) en Buffeljagsrivier (September 1964); tot sy aftrede op 30.4.1972. Aanvanklik gaan woon die egpaar in die Strand, maar later vestig hulle hul op Hartenbos. Nadat hy jare vantevore ‘n ernstige hartaanval oorleef het, was dit hom gegun om die ouderdom van 74 jaar te bereik. Self het hy dit as ‘n voorreg beskou dat hy 13 jaar lank skriba van die Ring van die Paarl en van 1962 af lid van die Kuratorium van die Kweekskool kon wees. Origens het hy die Kaapse Sinode ook in verskeie ander belangrike kommissies gedien.