GEBORE
27 Okt. 1911
OORLEDE
1 Feb. 1979
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1936
ORDEN
1937
STANDPLASE
1937 Piketberg (Hpr.)
1940 Goedgedun
1944 Johannesburg
1949 Hanover
1959 Grabouw
EMERITEER
1976
Ds Jacob Stolp (Japie) Louw (27.1O. 1911 – 1.2.1979) was ‘n kleinseun van ds A A Louw snr en ‘n agterkleinseun van ds Andrew Murray snr van Graaff-Reinet. Die drie broers, di AA (Morgenster); A F en J M Louw, was sy ooms. Hy is op Ermelo gebore waar sy vader, die latere dr C R Louw, destyds prokureur was, maar as jong seun kom hy saam met sy ouers na Kaapstad waar hy skoolgaan totdat die gesin na Somerset-Wes verhuis. Na die voltooiing van sy hoërskoolopleiding 1928 op Somerset-Wes, gaan hy na die Universiteit van Stellenbosch en toe na die Teologiese Kweekskool waar hy 1934 die kandidaatseksamen met goeie gevolg aflê, verdere studie in Edinburg (Skotland) en Princeton (VSA); word hy 1936 gelegitimeer. Op 5.6.1937 volg sy bevestiging as hulpprediker in Piketberg. Pas voor Wêreldoorlog II gaan hy en sy eggenote met die oog op die afronding van sy studies na Holland, dog die uitbreek van die oorlog dryf hulle na Suid-Afrika terug. Van 1940 tot 1944 toe hy studenteleraar vir Johannesburg en Potchefstroom word, staan hy in Goedgegun in Swaziland. In 1949 gaan hy na Hanover en 1959 na Grabouw, waar hy 5.12.1976 sy emeritaat aanvaar en hom saam met sy tweede eggenote op Dennegeur by Somerset-Wes gaan vestig. ‘n Geleidelike verlamming wat oor maande strek, maak ‘n einde aan sy mooi en vrugbare lewe. In die 40 jaar van sy bediening dien hy in verskeie belangrike kerklike kommissies, en lewer veral ‘n groot bydrae tot die bearbeiding van die jeug. Sedert 1953 is hy eers lid en later ook voorsitter van die Gefedereerde Sondagskoolkommissie, terwyl hy na die totstand-koming van die Algemene Jeugkommissie as gewone lid en later as voorsitter daarvan dien. Sy kollegas sal hom weens sy innemendheid, sy vriendelike bedagsaamheid en sy toegewydheid onthou. In sy gemeentes was hy geliefd en sy bediening is met seën en vrug bekroon. Ds Eugene Louw, militêre kapelaan in Grahamstad, is een van sy seuns. (Jaarboek 1980/245).