Louw, Hennie

 

gebore

15 Aug. 1910

OORLEDE

5 Jun. 1996

UNIVERSITEIT

 –

gelegitimeer

ORDEN

standplase

EMERITEER

Ds Hennie Louw is op 15 Augustus1910 op Moorreesburg gebore. Hy was ‘n swak klein seuntjie en iemand het gesê dat sy ouers hom nooit sal groot kry nie, want hy is bedoel vir die hemel. Hy het egter grootgeword, maar dit was dwarsdeur sy lewe sy kenmerk dat hy geleef het soos iemand wat vir die hemel bedoel was. As jong seuntjie het hy dan ook reeds vir sy boeties en maats kerk gehou.

Hy voltooi sy studies op Stellenbosch en word aan die einde van 1937 gelegitimeer. Hy gaan help eers op Aberdeen en Worcester as hulpprediker vanaf 4 November 1939 en word dan op 31 Januarie 1942 in Observatory, sy eerste gemeente, georden en bevestig. Sy intreepreek het gegaan oor 1 Kor. 1:17 Christus het my gestuur.. om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie’. In die gemeente was baie jongmense: Universiteit Kaapstad (waarvan een van die jongmense prof Chris Barnard was) asook verpleegsters van Groote Schuur- en Valkenburg-Hospitaal.)

Sy tweede gemeente was Vishoek, wat toe nog Sirponstad-Kalkbaai genoem is, waar hy vanaf 13 Desember 1947 werk en op 29 September 1951 die hoeksteen van die kerkgebou op Vishoek lê. In 1953 word die naam van die gemeente na Vishoek verander. Tydens sy dienstyd word ook nog ‘n saal opgerig en ‘n Afrikaanse skool gestig. In 1961 word hy as Vlootkapelaan beroep en bedien daarna, steeds as medeleraar van Vishoek, die vlootlede wat binne die grense van die gemeente woonagtig is. As vlootkapelaan doen hy ook diens op verskillende vlootskepe, ook op seereise na die buiteland. In 1974 stig Simonstad af van Vishoek en herleef die ou gemeentenaam. Op 13 Oktober 1974 word hy een van die eerste leraars van die nuwe gemeente, steeds ook as Vlootkapelaan, tot met sy emeritering op 17 Augustus1975, waarna hy vir nog ‘n paar jaar as ouderling in die gemeente dien totdat hulle na die Strand verhuis. Toe hy Vlootkapelaan geword het, koop hulle die ou pastorie van die gemeente in Simonstad waar ds ML de Villiers Die Stem gekomponeer het. Hulle restoureer die huis en noem dit Die Stempastorie’.

Hy trou in 1942 met Joey Dorfling van Steytlerville en hulle het twee seuns, Moller en Eldat. Daar is vier kleinkinders en ‘n agterkleinkind. Op 15 Julie 1986, toe hulle juis vir die doop van ‘n kleinkind na Nelspruit was, is Joey baie skielik daar oorlede. Hy trou weer in 1991 met Susan Nortje en hulle woon vyf gelukkige jare saam in Oostersee. Sy versorg hom tot sy dood op 5 Junie 1996. Hy is oorlede aan prostaatkanker wat baie vinnig versprei het.

Hy was ‘n liefdevolle en simpatieke mens. Getuienis van hom is dat hy geen lelike eienskap gehad het nie. Sy Christenskap het hy ook onder die preekstoel tussen sy mense uitgeleef. Hy was altyd vrolik en vriendelik en toeganklik.

Hy het hom altyd in ‘n ander se posisie gestel en was dusbeter in staat om hulle te help. Hy was ‘n dankbare, saggeaarde, vergewensgesinde en huislike mens. Hy was baie lief vir kinders en het a1tyd aan hulle aandag gegee. Hy was sy tyd ver vooruit wat rasseaangeleenthede betref en ook wat betref samewerking tussen kerke. Sy gemeente se byeenkomste was sedert die vroegste jare oop vir alle rasse en is inderdaad ook gereeld deur mense van ander rasse bygewoon. Blomme en diere het hy ook harstogtelik liefgehad. Hy het nooit gekla nie, selfs in sy tyd van ernstige siekte, maar altyd gesê dat hy tevrede is. Dit was omdat hy onwrikbaar op sy Vader vertrou het en steeds gesê het dat Hy nooit ‘n fout maak nie.

Hy het geweldig baie gelees en was baie lief vir boeke. Selfs op 86-jarige ouderdom kon hy nog aanhaal uit onder andere Shakespeare en selfs Latynse skrywers. Sy preke was egter nie hoogdrawend nie, maar eenvoudig. Hy was ook baie lief vir musiek en hy en sy vrou het tot op die end nog saamgesing in die huis, soms met haar begeleiding op hulle orreltjie. In die Bybelstudiegroep wat hy nog tot naby die einde gelei het, het hy elkeen tuis laat voel. Hy was ook baie lief vir tuinmaak en was, soos met ander dinge, ook baie presies in die hantering van elke plantjie. Daarby was hy ook baie lief vir sport en het ‘n besondere sin vir humor tot aan die einde behou. DJ Viljoen aan die hand van gesprekke met mev S Louw en byvoegings deur ds Pieter Franzsen.